Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is in ’n toestand van skokkende agteruitgang wat nie langer geïgnoreer kan word nie.
’n Onlangse oudit deur die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdiens het onthul dat slegs 27% van soldate gesond genoeg is om ontplooi te word, terwyl die gesondheidstatus van 36% steeds onbekend is.
Hierdie bevindinge het ’n storm van kritiek ontketen, met die DA wat gewaarsku het dat enige verdere ontplooiing na die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) ’n direkte bedreiging vir die veiligheid van Suid-Afrikaanse troepe inhou.
Statistiek van die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdiens toon dat duisende soldate weens gesondheidsprobleme op die kantlyn geplaas is, sonder dat ’n gedetailleerde uiteensetting verskaf word.
Verdedigingsontleder Ricardo Teixeira beskryf die situasie as haglik en blameer chroniese onderbefondsing, swak leierskap en ’n gebroke logistieke ketting wat al jare voortduur. Hy waarsku dat die weermag op ineenstorting afstuur, selfs terwyl dit vredesbewaring in die DRK en plaaslike grensbeheer moet hanteer.
[ON AIR] SANDF Crisis Deepens as Audit Finds Only 27% of Soldiers Fit for Duty@MararaMoabelo is in conversation with Defence analyst Ricardo Teixeira.#POWERLunch pic.twitter.com/ERlkOq7I2b
— POWER 98.7 (@Powerfm987) December 9, 2025
Die DA se woordvoerder oor verdediging en militêre veterane, Chris Hattingh, het in ’n verklaring gesê daar is “absoluut géén regverdiging” om op hierdie stadium Suid-Afrikaanse troepe na die DRK te stuur nie. “Die kombinasie van ’n sieklike, onderbefondste mag en ontoereikende beplanning is ’n resep vir mislukking en moontlik vir tragedie,” het hy gesê.
"South Africa's defence force is facing a severe health and readiness crisis, with new audit findings showing that just 27% of soldiers are fit for deployment."https://t.co/DcYnBbsbjU
— Chris Hattingh 🇿🇦🌐🚢🏭📈 (@ChrisHatt11) December 9, 2025
Nóg die SANW nóg die Departement van Verdediging het in die openbaar gereageer, wat vrae oor nasionale veiligheid laat ontstaan te midde van begrotingsdruk.
Volgens die oudit het bevelvoerders versuim om verpligte gesondheidsassesserings af te dwing. Die sogenaamde Concurrent Health Assessment (CHA), wat elke twee jaar gedoen moet word, is eenvoudig geïgnoreer. Dit beteken dat die SANW nie ’n akkurate beeld het van die fisieke en psigiese toestand van sy soldate nie. Die gevolg is dat duisende soldate herhaaldelik ontplooi word, wat uitbranding en verhoogde beseringsrisiko’s veroorsaak.
Die probleem word vererger deur ’n tekort aan jong rekrute. Die SANW sukkel om nuwe talent aan te trek en te behou, wat die gemiddelde ouderdom van die mag verhoog en die algehele gereedheid verminder. Opleiding is benede standaard, en die weermag se vermoë om vinnig op krisisse te reageer word al hoe meer beperk.
Begrotingsdruk is ’n verdere knou. Die SANW se begroting vir 2025/26 beloop R55,94 miljard, ’n reële afname van 0,78% ná inflasie. Dit dek nie eens die basiese behoeftes van die 70 000 sterk mag nie. Die Departement van Verdediging sit met ’n tekort van R41,2 miljard, wat grenspatrollies, vredesendings en selfs basiese mediese sorg direk beïnvloed. Hattingh beskryf dit as ’n “direkte bedreiging” vir die lewens van soldate.
Die Gesamentlike Staande Komitee oor Verdediging is verlede Vrydag (5 Desember) bedien met wat Hattingh ʼn “gebrekkige drieskyfie-inligtingsessie” noem oor die komende rotasie van troepe na die DRK. Belangrike besonderhede oor troepgereedheid, logistieke ondersteuning en mediese voorbereiding is nie aan die komiteelede verskaf nie.
Lt-genl Siphiwe Sangweni, hoof van Gesamentlike Operasies, het die gebrek aan besonderhede probeer regverdig deur te verwys na die VN se “likiditeitsuitdagings”. Komiteelede het dit egter as ’n belediging beskou, aangesien dit nie die kernprobleem – die 27%-gereedheidskrisis – aanspreek nie. Die DA het ’n volledige verslag geëis oor risiko’s, insluitend die verkleinde helikoptereenheid en die afwesigheid van ’n vinnigereaksiemag.
Die DA se waarskuwing oor die DRK-rotasie is nie sonder rede nie. Die herinnering aan die rampspoedige ontplooiing vroeër vanjaar is nog vars in die geheue.
Die SANW se leierskap en die weermagvakbond Sanwu word daarvan beskuldig dat hulle soldate wat na die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se mislukte sending in die DRK ontplooi is, in die steek gelaat het.
[NOT TO BE MISSED] SA@War 5 - Leadership in SANDF and labour union SANDU accused of failing soldiers deployed to SADC’s failed mission in the DRC.
Catch #CheckPoint tonight at 9:30pm on #eNCA, channel #DStv403. pic.twitter.com/ktEnXIifRp
— eNCA (@eNCA) December 7, 2025
Die SAOG-missie in die DRK, wat in Desember 2023 begin het, het in Maart 2025 in ’n chaotiese terugtrekking geëindig. Suid-Afrika het 2 900 soldate ontplooi om M23-rebelle te bestry, maar swak beplanning, onvoldoende troepgetalle en die afwesigheid van lugdekking het die missie tot mislukking gedoem.
In Januarie 2025 het ’n groot aanval deur M23 op Goma en Sake tot die dood van 14 Suid-Afrikaanse soldate gelei. Troepe moes na VN-basisse vlug, en toerusting is in vyandige gebied agtergelaat. Teen Maart het die SAOG die mandaat beëindig weens die verslegting van sekuriteit.
Kenners soos Darren Olivier van African Defence Review het die missie beskryf as “opgestel vir mislukking”. Die menslike koste was hoog: 17 SAOG-soldate dood, duisende burgers verplaas, en Suid-Afrika se rol in Afrika-vredesmissies ernstig ondermyn.
Die agteruitgang van die SANW is nie ’n geïsoleerde verskynsel nie. Dit is die gevolg van ’n dekade se onderbefondsing, korrupsie en politieke besluite wat die weermag se vermoëns ondermyn het. Suid-Afrika se verdediginguitgawes bly onder 1% van die BBP – ver onder die internasionale norm van 1,5%.
