Suid-Afrikaner sterf in Mosambiek na aanhouding

  • 0

Bron: Facebook

Die Suid-Afrikaanse sakeman, wat volgens sy familie onskuldig in ’n Mosambiekse tronk aangehou is, se dood het sy familie verpletter.

Die 62-jarige André Hanekom is op 31 Desember saam met twee Tanzaniërs in hegtenis geneem. Hulle is verdink van betrokkenheid by terrorisme in Mosambiek, maar sy familie het deurgaans gesê hy is onskuldig.

Sy vrou Francis is Woensdagoggend ingelig van haar man se dood in ’n Mosambiekse hospitaal.

Die presiese omstandighede rondom Hanekom se dood is nog nie bekend nie. Maroela Media het Woensdag berig sy vrou vermoed dat hy vergiftig is terwyl hy aangehou is. Die polisie het glo vir haar gesê hy het ’n beroerte gehad. Sy vrou het hom Dinsdag die laaste keer in ’n Mosambiekse hospitaal gesien. Hy het glo bloed opgebring en stuiptrekkings gekry. Die familie weier om te glo hy het ’n beroerte gehad. 

Sy familie is bitter omdat al hulle pleidooie by die Suid-Afrikaanse owerhede glo op dowe ore geval het. Sy vrou het vroeër aan die media gesê sy vermoed “invloedryke” mense wou haar man by ’n misdaad betrek wat verband hou met ’n sameswering om sy waardevolle eiendom aan die Mosambiekse noordkus te bekom. Hulle het die afgelope 26 jaar in Mosambiek gewoon waar Hanekom ’n marina bedryf het in Palma in die noordelike provinsie Cabo Delgado.

Hy is op Oujaarsdag in Mosambiek saam met twee Tanzaniërs in hegtenis geneem op grond daarvan dat hulle na bewering by terreurdade betrokke is. (Voor dit is hy op 1 Augustus ook deur gemaskerde mans in die linkerarm en maag geskiet.) Sy vrou het hom later in ’n hospitaal in Pemba opgespoor waar hy byna dood was weens bloedverlies. Later is hy in ’n militêre tronk aangehou voordat hy Saterdag na die waakeenheid in ’n Mosambiekse hospitaal oorgeplaas is.

Verlede Sondag het sy vrou Francis nog op Facebook die hoop uitgespreek dat die nagmerrie gou verby sal wees. Dit was nadat Suid-Afrika se hoë kommissaris  in Mosambiek, Mandisi Mpahlwa, haar man uiteindelik besoek het en die familie verseker het hy is in ’n goeie toestand en dat hy binnekort in die hof sal verskyn.

Francis het op Facebook die hoop uitgespreek dat die Suid-Afrikaanse afvaardiging se teenwoordigheid in Mosambiek ’n positiewe effek sal hê in hulle stryd teen die onreg wat haar man aangedoen is. “Nou is ek nie meer alleen nie,” het sy op Facebook geskryf. “Die wakende oog van die Suid-Afrikaanse regering in die geval sal toesien dat die paar korrupte mans wat teen André is ook aan ‘big brother’ sal moet verduidelik wanneer André nie billik en menslik behandel word nie. Dankie aan hierdie ondersteunende mense wat ek die voorreg gehad het om te ontmoet,” het sy haar Facebook-boodskap verlede Sondag afgesluit asook met ’n skakel na ’n berig oor die Suid-Afrikaanse afvaardiging se besoek aan haar man.

Haar dogter Andrie Hanekom het egter Woensdag aan Netwerk24 gesê niemand het ooit ondersoek ingestel na die omstandighede van haar pa se inhegtenisname nie. “Ons het gepleit om hulp en in Suid-Afrika het die owerhede nie ’n vinger gelig om te help nie.”

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking sê hulle is in kontak met Suid-Afrika se hoë kommissaris in Mosambiek oor Hanekom se dood in dié land. ’n Woordvoerder van die departement het aan RSG gesê die minister het die kommissaris gevra om met Mosambiekse owerhede te skakel om die oorsaak van Hanekom se dood vas te stel.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top