Die Suid-Afrikaner Saray Khumalo, wat die eerste swart vrou in Afrika is om die kruin van die berg Everest te bereik, het ’n heldeontvangs gekry toe sy Maandag op die OR Tambo-lughawe geland het.
’n Buitelander, Seamus Lawless, wat deel was van Khumalo se span, het tydens die terugtog gegly en is vermoedelik dood. Nog ’n man, Ravi Thakar, wat dieselfde logistieke span as Khumalo gebruik het, is op sy terugtog vermoedelik in sy slaap dood in sy tent by Kamp Vier. Altesaam tien mense is die afgelope week dood in hul onderskeie pogings om die kruin van Everest te bereik. Khumalo het haar ondersteuners bedank en gesê sy is dankbaar vir haar prestasie.
Sy het die kruin van Everest op 16 Mei in die vroeë oggendure Suid-Afrikaanse tyd bereik. Khumalo het die hoogste kruin al lank in haar visier gehad en het reeds drie keer vantevore onsuksesvol gepoog om die 8 848 meter hoë piek te bereik.
Die Zambies-gebore bergklimmer wat in Johannesburg woon se familie en ondersteuners het haar van vroeg af op die lughawe ingewag en met ope arms en baie liefde ontvang na haar buitengewone prestasie.
Sy het in 2012 met haar voorneme begin om die sewe hoogste pieke in die wêreld te bereik en het reeds vier daarvan tot bo geklim.
“Dit was nie net ’n persoonlike uitdaging wat ek wou vervul nie. Dit was iets wat ek wou bereik in ’n poging om ’n bydrae te lewer tot die opvoeding van kinders.” Wanneer sy klim, samel sy geld in vir onderwys. Tot dusver het sy R135 000 ingesamel, wat genoeg is om een kind te laat leer.
Sy sê sy hoop haar prestasie sal kinders aanspoor om hulle eie hoogste hoogtes te bereik. Sy het met haar aankoms in die land die wens uitgespreek dat haar prestasie elke kind, wit of swart, in Afrika sal inspireer om hulle individuele Everest se piek te bereik. “Dit maak nie saak of dit huiswerk of besigheid is waarmee hulle sukkel nie.” Sy het haar ondersteuners daaraan herinner dat dit haar vierde poging was, wat vir elkeen ’n les moet wees om nooit tou op te gooi as jy jou aspirasies wil bereik nie.
Sy sê sy hoop haar prestasie beteken dat sy ’n klein bydrae kon lewer om elkeen in Afrika wat vertel is hulle kan nie hul ideale waar maak nie, saam met haar na die toppunt van die wêreld te neem.
“’n Bergklimwerklikheid is dat die piek slegs die halfpadmerk is. Mens moet steeds afkom wanneer jy die hoogste piek bereik het. Die meeste mense wat hul lewens verloor, sterf met die afkomslag. Sy het haar meegevoel uitgespreek met Lawless se familie en vriende wat tydens die afkomslag gesterf het. Die 39-jarige Ierse professor in kunsmatige intelligensie het gegly en geval nadat hy die piek bereik het.
Nog ’n spanlid, Ravi Thakar, is tydens die ekspedisie dood in sy tent gevind, vermoedelik weens die uitwerking van hoogtesiekte.
Khumalo het op ’n mediakonferensie by die lughawe gesê sy was baie emosioneel toe sy die kruin van die berg bereik het. Sy sê dit het gevoel of sy op die toppunt van die wêreld was en dat dit moontlik is om enigiets te bereik.
- Bronne: SA Breaking News, News24 en Twitter
- Foto’s: YouTube