Suid-Afrikaners glo korrupsie is nou erger as ooit

  • 0

Suid-Afrikaners is glad nie daarvan oortuig dat president Cyril Ramaphosa besig is om korrupsie in die land hok te slaan nie.

Trouens, die meeste Suid-Afrikaners glo dat korrupsie toegeneem het onder Ramaphosa se bewind – selfs in die President se eie kantoor.

Dit blyk uit ’n verslag van die onafhanklike navorsingsinstansie Afrobarometer wat die afgelope week bekendgestel is.

Afrobarometer kom tot die gevolgtrekking dat die meeste Suid-Afrikaners ontevrede is met die regering se hantering van die stryd teen korrupsie. Hulle meen die ANC se antikorrupsie-strategie en ander pogings om die onafhanklike oorsigrol van instansies te versterk, slaag nie daarin om vrugte af te werp nie.

Daar word verwys na Ramaphosa se belofte in 2018 om die regering se integriteit te herstel en demokratiese instellings te versterk wat aan Suid-Afrikaners nuwe hoop sou gee. Drie jaar later het Transparency Inetrnational in hulle mees onlangse verslag ’n punt van 44 uit 100 aan Suid-Afrika toegeken, wat slegs ’n 1-punt-verbetering is vergeleke met 2017.

Afrobarometer se bevindings weerspieël volgens hulle verslag die afgelope tyd se koerantopskrifte oor die grootskaalse korrupsie in die land.

Van die sleutelbevindings in die verslag is dat byna twee derdes van alle Suid-Afrikaners (64%) sê korrupsie het toegeneem die afgelope jaar, waarvan byna die helfte van die land se mense (49%) sê dit het baie toegeneem. Slegs 15% van die mense wat aan die navorsing deelgeneem het, glo dat korrupsie afgeneem het.

Staatsinstellings word algemeen as korrup beskou. Die helfte of meer van die land se burgers is van mening dat die meeste of alle staatsamptenare by korrupsie betrokke is. Hulle glo dat 56% van die polisie, 53% in die president se kantoor, 51% in plaaslike regerings en 50% in die parlement op een of ander manier by korrupsie betrokke is.

Nieregeringsorganisasies, tradisionele leiers en geloofleiers word oor die algemeen nie as korrup gesien nie.

Sewe uit tien Suid-Afrikaners (70%) sê die regering vaar redelik swak of baie swak in die stryd teen korrupsie.

’n Aansienlike deel van diegene wat die afgelope jaar met staatsinstellings te doen gehad het, sê hulle moes omkoopgeld betaal om probleme met die polisie te voorkom (24%), ’n regeringsdokument in die hande te kry (21%), polisiebystand te bekom (15%), skooldienste te kry (10%) of mediese dienste te kry (8%).

Drie uit vier Suid-Afrikaners (76%) glo mense wat korrupsie aan die kaak stel, loop die gevaar dat daar wraak geneem sal word teen hulle as hulle dit rapporteer. Dit is ’n styging van 13 persentasiepunte vergeleke met 2018 se resultate. Sewe uit tien landsburgers (71%) glo dat amptenare wat die wet oortree, dikwels of altyd skotvry wegkom, terwyl die helfte (49%) sê gewone mense wat sulke misdade pleeg, kom ook weg daarmee.

Die verslag sê dit is belangrik om te verstaan waar die toenemende korrupsie gesetel is, gegewe die oortuiging dat korrupsie toeneem. Afrobarometer het twee opnames tydens Zuma se termyn gedoen (2011 en 2016) en twee tydens Ramaphosa se termyn (2019 en 2021).

Daar was ’n skerp toename in mense se persepsie oor korrupsie in al vyf die volgende staatsinstellings: die president se kantoor, staatsamptenare, plaaslike raadslede, polisie, en regters en landdroste gedurende Zuma se termyn. Tydens Ramaphosa se termyn het die persepsie van korrupsie in daardie instellings aanvanklik afgeneem, maar weer gestadig begin toeneem.

Die grootste plek waar korrupsie volgens mense se persepsie toegeneem het tydens Ramaphosa se termyn, was in sy eie kantoor. Dit is ook die enigste instelling waar die persepsie bestaan dat korrupsie nou selfs erger is as tydens Zuma se termyn.

Wat die land se regstelsel betref, het die mense wat glo die meeste of alle regters en landdroste is korrup, die afgelope dekade met nege persentasiepunte gestyg, insluitend ’n 4%-styging tussen 2019 en 2021, maar vergeleke met 2016 het hierdie negatiewe persepsie darem afgeneem van 47% na 36%.

Die volledige verslag kan hier afgelaai word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top