....
Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020):
Verklarings van Media24:
Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke "The Lost Boys of Bird Island" en "Die Seuns van Bird Island" asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.
....
Suid-Afrikaners se tonge is behoorlik los na die skokkende bewerings in ’n nuwe boek dat die voormalige minister van verdediging tydens die apartheidsjare, genl Magnus Malan, glo ’n pedofiel was wat deelgeneem het aan seks-orgies met seuns.
Volgens die boek was nog twee ander oud NP-ministers daarby betrokke.
Die bewerings in die boek Die seuns van Bird Island, deur Tafelberg Uitgewers uitgegee, beweer een van die oud NP-ministers wat deel was van die kindermolestering, leef nog. Sy naam word glo op regsadvies weerhou. Die derde oud-NP-minister wat volgens die boek se skrywers hierby betrokke was, is wyle John Wiley wat homself jare gelede om die lewe gebring het.
Suid-Afrikaners se reaksie op die bewerings wissel van algehele ontkenning oor die bewerings tot diegene wat beweer dat dit niks nuut is en nie en dat hulle lankal daarvan bewus was.
Oud-minister Pik Botha wat saam met Malan in die destydse NP-kabinet gedien het, het die bewerings volgens Netwerk24 afgemaak as “louter kaf”. Volgens Botha was Malan ’n hoogs beskaafde mens met hoë intellektuele vermoëns met wie hy ’n baie goeie verhouding gehad het.
Wiley se seun, Mark, het ook aan Netwerk24 gesê dit is ’n wolhaarstorie en daarop gesinspeel dat die skrywers van die boek net wil geld maak deur middel van sensasie.
Die politieke kommentator en veteraanjoernalis Max du Preez het egter op Twitter geskryf: “At last the truth is published”. Du Preez het aan die media gesê sommige mense in die media weet al sedert die 1980’s min of meer van al dié goed maar het egter nooit genoeg bewyse gehad om daaroor te skryf nie en Malan was toe nog ’n baie magtige man.
At last the truth is published https://t.co/SuNzLnsN2Z
— Max du Preez (@MaxduPreez) August 5, 2018
Verskeie ander mense wou egter weet waarom diegene wat nou beskuldig word nooit aangekla is nie en hoekom geen klagtes by die polisie ingedien is deur diegene wat glo gemolesteer is nie. Die skrywers van die boek sê op hulle beurt hulle hoop meer inligting sal na vore kom met die publikasie van die boek.
Tafelberg Uitgewers bemark die boek soos volg op hulle webwerf: “’n Waagmoedige polisieman en ’n vreeslose joernalis ondersoek die gerugte dat jong seuns op ’n eiland aan die kus van Port Elizabeth misbruik word. Mark Minnie en Chris Steyn kom onafhanklik van mekaar af op dieselfde donker geheim. Maar die saak kry net kortstondig aandag voordat dit doodgesmoor word en verdwyn. Dertig jaar later sit Steyn en Minnie hul bewyse bymekaar en lig die sluier oor dié skokkende gebeure – ’n verhaal van misdaad, toesmeerdery en amptelike medepligtigheid in die verkragting, en moontlik selfs moord, van weerlose kinders.”
Maryna Lamprecht van Tafelberg Uitgewers het Sondag op haar Facebook-blad geskryf: “As jy één nuusstorie vandag wil lees ... dít is die belangrikste een. ’n Geheim wat vir 30 jaar lank deur magtige mans gehou is, is uiteindelik in die ope.”
Lamprecht skryf in ’n artikel op News24 die meeste wit Suid-Afrikaners het in die 80’s geglo die Nasionale Party is ’n goeie effektiewe regering wat die beste vir Suid-Afrika wou hê.
Sy sê sedert die onskuldige 1980’s het daar verskeie boeke verskyn oor vreeslike apartheidsgeskiedenis, maar dat hierdie boek die apartheidsvergrype na ’n nuwe vlak neem.
Die groot vraag op almal se lippe is egter wie is die oorlewende oud-minister wat by die bewerings betrek word en hoe lank dit gaan neem voordat sy naam in die openbaar bekend gemaak word. Baie mense weet reeds na wie word daar verwys en sommige mense waag dit selfs om name te noem op sosiale media.
’n Uittreksel van die boek se Engelse weergawe kan hier gelees word.
Buro: NB