Suid-Afrikaners google oor graanvlokkies, rugby en beurtkrag

  • 0

Suid-Afrikaners stel skynbaar meer belang in die geskiedenis van graanvlokkies as in landsake soos beurtkrag, politiek of selfs sport.

Dis nou as mens die gewildste soekenjin op die internet, naamlik Google, as maatstaf neem om te bepaal watter sake in die land die meeste mense se nuuskierigheid prikkel.

Volgens statistiek van Google se 2019-soeklys was die geskiedenis van graanvlokkies die vraag waaroor die meeste Suid-Afrikaners die afgelope jaar gewonder het.

Van die vrae wat Suid-Afrikaners die afgelope jaar die meeste op Google aan die raai gehad het naas die geskiedenis van graanvlokkies was vrae oor beurtkrag, werksgeleenthede naby die huis, Neyi Zimu en die rugby-wêreldbeker.

Google stel elke jaar die lys beskikbaar om ’n insig te gee oor die grootste oomblikke waaroor mense die afgelope jaar gewonder het. Dit bly ’n raaisel waarom graanvlokkies soveel belangstelling uitgelok het. Nog een van die gewilde vrae onder die top tien vrae wat die wenkbroue laat lig het, was die vraag hoe om wenkbroue te pluk.

Soos wat verwag kan word, was beurtkrag en Bosasa ook van die sake wat vanjaar op Google gegons het. Vanjaar se soektogte toon Suid-Afrikaners se groot belangstelling in die wêreld en die mense om hulle. Popkultuur, sport en politiek het veral die nasie se verbeelding aangegryp. Nege uit die top tien soekterme het gegaan oor plaaslike mense en nuusgebeure, wat maar net weer wys local is lekker.

Google sê in ’n verklaring frases soos wêreldrugbybeker, beurtkrag, verkiesing en James Small was enkele van die gewilde frases wat deur Suid-Afrikaners op Google se soekenjin ingetik is om agter die kap van die byl te probeer kom.

Die soekresultate word bekom van data wat deur Google versamel word op grond van dit wat Suid-Afrikaners gedurende die loop van die jaar op Google se soekfunksie tik.

Google verwerk elke sekonde meer as 40 000 navrae. Dit verteenwoordig meer as ’n miljard soektogte elke dag en 1,2 triljoen soektogte wêreldwyd per jaar, sê Google.

Die  vrae wat die afgelope jaar die meeste in Suid-Afrika op Google gegons het, was:

Waarom is graanvlokkies uitgevind?
Hoe laat is die rugbywêreldbekerfinaal?
Hoeveel stemme word benodig vir ’n setel in die parlement?
Hoe is Cameron Boyce dood?
Hoe lank duur ’n rugbywedstryd?
Wat is Bosasa?
Hoe laat maak stembusse oop?
Wie het die verkiesing in Suid-Afrika gewen?
Wat is media?
Wat is tienerswangerskap?

Die vrae van die dekade wat die meeste gegons het, was:

Hoe maak mens slym?
Waarom is graanvlokkies uitgevind?
Hoe om ontslae te raak van vetrolletjies om die maag?
Hoe om binne drie dae gewig te verloor?
Waar is ek?
Hoeveel weke is daar in ’n jaar?
Hoe stuur mens ’n e-pos?
Hoe om hare vinnig te laat groei?
Wat is depressie?
Hoe om ooghare te pluk?

Ander soektogte wat die meeste gegons het, was:

Beurtkrag
Verkiesingsuitslae
Thanos
IEC
Fiona Viotti
Swart Vrydag winskopies
Gavin Watson
Mark Batchelor
Onderwysersdag
Hoërskool Driehoek

Die Suid-Afrikaners se name wat die meeste gegons het, is:

Neyi Zimu
James Small
Xolani Gwala
Chester Williams
Andile Gumbe
Siya Kolisi
David Kekana
Faf de Klerk
Peggy Sue Khumalo
Robert Marawa

Nog soekresultate van die afgelope jaar deur Suid-Afrikaners wat op Google gegons het, kan hier gevind word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top