Suid-Afrikaners is in sak en as omdat een van hulle geliefde happies, naamlik vissmeer wat gewoonlik saam met roosterbrood geëet word, besig is om van die winkelrakke te verdwyn en blykbaar nie weer aangevul gaan word nie.
Verskeie webwerwe berig dat Peck’s Anchovette en Redro-vissmeer van Suid-Afrikaanse rakke vlieg ná die nuus dat daar geen nuwe voorraad sal wees nie.
Pioneer Foods, die plaaslike verspreider van Peck’s en die vervaardiger van die Suid-Afrikaanse ekwivalent Redro, het volgens Business Insider bevestig dat die maatskappy besluit het om aan die einde van 2021 op te hou om vissmeerprodukte te vervaardig as deel van ’n “voortdurende portefeulje-oorsig”.
Dit is nie die eerste en enigste slag wat Suid-Afrikaanse broodsmeerliefhebbers die afgelope maande tref nie. Marmite, waarvan die hoofbestanddeel brouersgis is, was die afgelope tyd onverkrygbaar omdat daar minder bier gebrou is as gevolg van die alkoholbeperkings tydens die noodregulasies. Dit het gevolglik ’n tekort aan brouersgis veroorsaak.
How's the #marmite shortage going? That was a thing right ?🤔 pic.twitter.com/1rwZvRzPej
— Hmmmm? 🇬🇧 (@Hmmmm12245233) October 10, 2020
Terwyl Marmite besig is om sy weg terug te vind na die meeste winkelrakke, lyk dit of Redro en Peck’s se dae getel is en nie weer hulle verskyning op die winkelrakke gaan maak nie.
“Ag nee regtig!” skryf Annette Ferreira op Facebook, “eers Chocolate Log, toe die Marmite-droogte en nou nog dit ook!”
Net soos met Marmite en Bovril het die dikwels verdelende ansjovisgebaseerde smere vir ’n paar dekades lank ook ietwat van ’n kultusaanhang onder baie Suid-Afrikaners gehad.
Redro word veral onthou vir daardie gewilde advertensie op TV uit die 1980’s van die oulike klein seuntjie wat so lief was vir sy Redro-vissmeer dat hy al sy troeteldiere en alles waarvoor hy lief was, Wedwo genoem het.
Redro was vir meer as 30 jaar ’n toonaangewende produk in die plaaslike soutsmeermark, aangehelp deur daardie ikoniese vroeë televisieadvertensie. Daarin vertel klein Rudy hoekom hy alles – insluitend sy hond en ma – Redro noem, want "dit is alles waarvoor jy lief is".
Peck’s Anchovette, oorspronklik van die Verenigde Koninkryk, dateer uit 1891. Dit het eers in die 1960's in Suid-Afrika aangekom. Tot in daardie stadium het Suid-Afrikaners hulle op die plaaslike vissmeer, Redro, toegespits wat in die 1930's uit ’n plaaslike familieresep ontwikkel is.
Toe die buitelandse Peck’s inslag in Suid-Afrika gevind het, is Redro afgegradeer na ’n "waarde vir geld"-metgesel van die meer premium handelsmerk, en Rudy en sy hond het na die agtergrond verskuif.
Aangesien Peck’s steeds ietwat van ’n internasionale teenwoordigheid het (hoofsaaklik beperk tot Australië), kan ’n ander plaaslike verspreidingskanaal dit in ’n stadium heropen. Maar dit is waarskynlik die einde van die pad vir die 90-jarige plaaslike Redro.
Die nuus van die gewilde vissmere se verdwyning van Suid-Afrikaanse winkelrakke het verbruikers van die gewilde produk op hulle agtervoete. Dit gons behoorlik op sosiale media soos wat mense hul lot bekla omdat hulle nie meer soggens hulle geliefde vissmeer op hul roosterbrood sal kan smeer nie.
“Nie grappies nie: dit het my jaar verwoes. Ek wil op die vloer lê en tjank,” skryf Jennie Ridyard op Twitter. “#Pecks #Anchovette #Redro is die een ding wat ek betroubaar in voorraad het elke keer as ek Suid-Afrika toe gaan. Warm roosterbrood, botter en vissmeer is die frikkin bom!”
Not joking: this has wrecked my year. I want to lie on the floor and howl. #Pecks #Anchovette #Redro is the one thing I reliably stock up on every time I go to South Africa. Hot toast, butter and fish paste is the frikkin bomb! https://t.co/UtFsKu9JUc
— Jennie Ridyard (@JennieRidyard) January 18, 2022
Graham Sinclair meen dit is ’n verskriklike aanslag op die Suid-Afrikaanse voedselerfenis. Hy sê op Twitter Pioneer Foods moet hierdie historiese handelsmerkgoedere vir R1 verkoop en die resep aan almal beskikbaar stel.
Horrendous assault on South African food heritage. Pioneer Foods must sell this historic brand goodness for R1 and open source the recipe. #PecksAnchovette #Redro #RIP https://t.co/qAjC7FW8TX
— Graham Sinclair (metachronal gait) (@esgarchitect) January 18, 2022
Volgens Business Insider het die verontwaardiging oor die verdwyning van die produkte op sosiale media nog nie dieselfde momentum opgebou as wat die geval was met ander produkkansellasies soos dié vir Lay's Salt and Vinegar en Nestle's Chocolate Log nie. Dit kan volgens hulle dui op die beperkte gewildheid van die produk.
Vissmeer mag miskien nie heeltemal so gewild wees soos van die ander produkte wat ook van die winkelrakke verdwyn nie maar menige Suid-Afrikaner huil steeds lang trane oor die heengaan daarvan.
@PioneerFoodsSA #BringBackPecks #PecksAnchovette #Redro pic.twitter.com/KzS4a1BENO
— CDS✌️🇿🇦 (@ALooterContinua) January 18, 2022