Suid-Afrikaners in die duister oor Eskom

  • 0

Suid-Afrikaners sal nog ’n week of wat in die duister wees oor die gevolge wat die Eskom-staking op hul kragtoevoer gaan hê.

Volgens Eskom moet die land se kragverbruikers voorbereid wees dat daar minstens vir die volgende 10 dae beurtkrag toegepas kan word as gevolg van die stakings deur Eskom-werkers.

Die kragonderbrekings sal volgens die kragvoorsiener beurtelings tussen 17h00 en 21h00 die volgende tien dae voorkom indien nodig om die kragtoevoer te stabiliseer.

Eskom het verlede week vir die eerste keer sedert 2015 begin om landwyd beurtkrag toe te pas as gevolg van stakings deur Eskom-werknemers wat salarisverhogings eis.

Berigte dat salarisonderhandelinge met Eskom tot aanstaande week uitgestel gaan word, is intussen deur die mynwerkersvakbond NUM ontken. Die vakbond hou die week sy nasionale kongres.

Die vakbond se woordvoerder, Livhuwani Mammburu het bevestig dat salarisonderhandelings met die kragvoorsiener die week voortgaan. Die land het die afgelope naweek onder kragonderbrekings deurgeloop nadat vakbonde gestaak het uit ontevredenheid met Eskom se vorige aankondiging dat geen salarisverhogings vanjaar gegee kan word nie. Die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het Vrydag bekend gemaak dat Eskom sy salarissituasie heroorweeg.

Werkers wat verlede week by Eskom gestaak het moes Maandag weer terugkeer werk toe. Die kragverskaffer en vakbonde het ná ingryping deur Gordhan ingestem om onderhandelings te hervat. Een van die voorwaardes is dat Eskom afsien van sy standpunt om geen salarisverhoging vanjaar aan te bied nie.

Die herstel van die kragnetwerk kan tot 10 dae neem nadat die kragtoevoer weens arbeidsoptrede onderbreek is. Eskom sê daar is ondermeer ’n agterstand in die vervoer van steenkool weens werkers wat weggebly het, terwyl die steenkoolvoorraad by sommige kragstasies reeds laag is. Die kragverskaffer het gebruikers aangeraai om beurtkragskedules van Eskom en munisipaliteite dop te hou indien dit weer nodig sou wees om beurtkrag in te stel.

Volgens die ekonoom Mike Schüssler kan die huidige beurtkrag die land se ekonomie nadelig raak. Hy het aan Fin24 gesê beurtkrag ondermyn verbruikers en beleggersvertroue.

Volgens Schüssler onttrek beleggers uit die land as gevolg van die protesaksies wat die ekonomie ernstig knou.

Suid-Afrikaners het woedend op sosiale media reageer op die jongste twis by Eskom. Baie Suid-Afrikaners meen Eskom-werkers verdien nie ’n salarisverhoging nie.

Die energiekenner, Chris Yelland het aan die koerant Business Day gesê die regering is verantwoordelik vir die probleme by Eskom en moet dit regstel.

Yelland sê Eskom se finansies is nie in ’n goeie toestand nie en die regering moet ’n groot deel van die blaam dra. Hy sê beurtkrag is slegs ’n simptoom van dié veel groter probleem.

Buro: MvH
  • 0
Top