Suid-Afrikaners is gereed vir ’n koalisieregering

  • 0

Meer as ’n driekwart Suid-Afrikaners wat aan ’n nuwe meningspeiling deelgeneem het, sê hulle sal gelukkig wees as ’n koalisie Suid-Afrika regeer.

Daar was sedert November 2022 konsekwente steun vir ’n koalisieregering. Meer as ’n kwart van Suid-Afrikaners is ook meer geneig om vir opposisiepartye te stem sedert die Veelpartyhandves se bekendstelling.

Die Brenthurst-stigting se verkiesingspeiling wat deur SABI Strategie in Februarie en Maart 2024 gedoen is, wys ook dat John Steenhuisen se DA en Jacob Zuma se MK-party die grootste wenners is, terwyl die ANC, EFF en die IVP almal steun verloor het. Zuma se MK-party tree na vore as die land se derde grootste party.

Die bevinding dui daarop dat die land ná 29 Mei “byna seker” ’n koalisieregering sal hê. Op ’n vraag oor watter koalisies hulle sou verkies, het 29% gesê die Veelpartyhandves-koalisie (DA, IVP, Action SA, VF+, ACDP en andere), 25% sê ’n ANC-DA-koalisie en 24% sê ’n ANC-EFF-koalisie.

Die Brenthurst-stigting se direkteur, Greg Mills, sê in ’n verklaring Suid-Afrika se politieke omgewing is wesenlik geskud deur die uitslae van die peiling en die ou aannames is nie meer waar nie. “Daar is ’n lewensvatbare en mededingende opposisie wat na vore kom. Ons stuur af op ’n oorgang weg van eenparty-oorheersing, wat net goed kan wees vir demokrasie, beleidsmededinging, dienslewering en aanspreeklikheid.”

Volgens die peiling lyk dit asof kiesers in aansienlike getalle die ANC, EFF en IVP vir Zuma se party verlaat het. Die MK-party gaan die EFF (10%) verbysteek met 13% van die stemme indien die peiling se voorspelling bewaarheid word.

Die DA se persentasie stemme het tot 27% gegroei (van 23% in Oktober 2023). Die IVP se steun het tot 2% gedaal (van 7% in Oktober 2023).

Steun vir die regerende ANC het tot onder 40% gedaal van 41% en 44% in peilings wat onderskeidelik in Oktober 2023 en November 2022 gedoen is, tot 39% tans. Dit stem ooreen met verskeie meningspeilings wat toon dat die ANC moontlik vir die eerste keer sedert 1994 sy parlementêre meerderheid kan verloor, wat hom tot ’n koalisie met een of meer van die opposisiepartye kan dwing.

Die telefoonopname van 1 506 geregistreerde kiesers is tussen 12 en 28 Februarie gedoen en het ’n foutmarge van 3% gehad.

Die resultate van die peiling is geskoei op die 66%-opkoms van die 2019-verkiesing, het die stigting gesê.

Kiesers is volgens die peiling baie ontevrede met die regering. Sowat 80% sê die land “gaan in die verkeerde rigting” met die opposisiebeheerde Wes-Kaap en Stad Kaapstad wat beskou word as die gebiede in die land wat die beste regeer word.

Meer as 50% van die kiesers het gesê die ANC se beleid oor die Oekraïne-Rusland- en Israel-Hamas-konflik sal nie die manier waarop hulle gaan stem, beïnvloed nie. Maar 24% het gesê dat hulle “minder geneig” is om vir die ANC te stem as gevolg van sy beleid oor die Rusland-Oekraïne-konflik, terwyl 23% van die kiesers gesê het hulle is “minder geneig” om vir die ANC te stem weens sy standpunt oor die Israel-Hamas-konflik.

In Gauteng het die DA se steun tot 32% gestyg (24% in Oktober 2023) en die ANC se steun het tot 34% gedaal (van 37% in Oktober 2023). Die Veelpartykoalisie het 38% van die kiesers se steun, wat beteken ’n koalisieregering het die beste kans om dié provinsie na die verkiesing te bestuur.

In KwaZulu-Natal sal Zuma se MK-party volgens die peiling die grootste party wees met 25% van die stemme en die ANC tweede met 20%. Die DA en die IVP is kop aan kop in KwaZulu-Natal met 19% steun elk. Die totale stem vir die Veelpartyhandves is 39%, wat beteken dat ’n koalisieregering dié provinsie ook sal bestuur as die peiling in die kol is.

In die Wes-Kaap behou die DA ’n meerderheid van 53% (minder as die 56% in Oktober 2023), terwyl die ANC skerp gestyg het tot 35% van 22% in Oktober 2023.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top