Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die ontsnapping van die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester as ’n saak van prioriteit geïdentifiseer, maar het ’n sluier van geheimhouding oor die vordering van die ondersoek getrek.
Bester se raaiselagtige ontsnapping verlede jaar uit die G4S-maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein het die land geskok en in stomme verbasing gelaat.
Die berugte “Facebook-verkragter” is tot lewenslange tronkstraf gevonnis omdat hy vroue op Facebook gelok het met die belofte om vir hulle modelwerk of optredes te kry en hulle dan beroof en verkrag het.
Bester het verlede jaar ontsnap nadat daar geglo is dat hy selfmoord gepleeg het deur homself in sy sel aan die brand te steek.
Gayton McKenzie, leier van die Patriotic Alliance (PA), wat self tien jaar lank in die tronk was, sê hy word oorval met vrae en oproepe deur Suid-Afrikaners om lig te werp op wat moontlik gebeur het en nou moet gebeur.
I am inundated with questions and calls by so many well meaning South Africans to shed light on what possibly happened & should happen now regarding the Thabo Bester saga. I was in jail for a decade and understand that system, rules and it’s modus operandi, here is a young thread
— Gayton McKenzie (@GaytonMcK) March 27, 2023
McKenzie het op Twitter gesê iets ergers as ’n ontsnapping het hier gebeur – ’n moord het plaasgevind. Hy stem saam met die meeste waarnemers dat daar baie mense by hierdie komplot betrokke was.
Hy sê die toesmeerdery kon nie gebeur het sonder die betrokkenheid van politici, gevangenisamptenare en polisie nie. “Jy het die betrokkenheid van al drie nodig gehad – jy sou dit nie kon regkry sonder al drie partye nie,” sê McKenzie.
Tot dusver moes die publiek onder andere hoor hoe Bester sy multimiljoenrandondernemings vanuit ’n tronksel bestuur het. Die aktrise Nomzamo Mbatha het selfs vir hom verjaardagwense laat sing tydens ’n groot sakegeleentheid vir een van die maatskappye wat hy van agter tralies bestuur het terwyl hy na bewering nog in die tronk was.
Drie tronkbewaarders van die Mangaung Korrektiewe Sentrum is reeds ontslaan in verband met die brand wat tot Bester se ontsnapping gelei het. Dit is glo net die oortjies van die seekoei wat uitsteek en heelwat meer mense was glo betrokke.
Die DA se skaduminister van korrektiewe dienste, Janho Engelbrecht, sê in ’n verklaring dit is noodsaaklik dat die Suid-Afrikaanse publiek die volle waarheid hoor hoe gevangenisbeamptes en potensiële politieke leiers betrokke was, en watter stappe daarna deur Korrektiewe Dienste en die SAPD gedoen is.
“Dit word al hoe duideliker dat Bester bystand van hooggeplaaste amptenare gehad het om ’n ingewikkelde tronkontsnapping van hierdie aard te koördineer.”
Hy sê die identiteit van die gevangene wat gesterf het as gevolg van ’n hou teen die kop met ’n stomp voorwerp voordat die sel aan die brand gesteek is, moet ook dringend vasgestel word.
In ’n verklaring wat Woensdag uitgereik is, sê die nasionale kommissaris van die SAPD, generaal Fannie Masemola, hy het die prioritisering van ondersoeke na die ontsnapping beveel. Hy sê dit word gedoen in die beste belang van geregtigheid vir die slagoffers, oorlewendes en die geaffekteerde gesinne.
#sapsHQ #SAPS Nat Comm Gen Fannie Masemola has ordered the prioritisation of investigations into the Mangaung prison escape case & this is done in the best interest of justice for the victims, survivors and the affected families. SW #ThaboBester https://t.co/0BBw8Tn8hJ pic.twitter.com/rXAlHi7ZZB
— SA Police Service ???????? (@SAPoliceService) March 29, 2023
“Speurders van die eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe en die eenhede vir georganiseerdemisdaadondersoeke in die Vrystaat en Gauteng werk 24 uur per dag saam aan hierdie ondersoek.”
Masemola sê weens die sensitiewe aard van die ondersoeke doen hy ’n beroep op die publiek vir geduld en dat die speurders die ruimte gegun word om ’n deeglike ondersoek te doen, om ’n waterdigte saak te bou wat uiteindelik in die hof kan staan.
“Om onnodige druk op die ondersoekers te plaas en in hierdie stadium stap-vir-stap-vorderingsverslae te eis, het die potensiaal om die ondersoek in gevaar te stel,” het Masemola gesê.
Volgens McKenzie het die grootste toesmeerdery die dag na die ontsnapping plaasgevind. “Groot geld moes van hande verwissel het om die absolute stilte te handhaaf en die onwilligheid om die saak behoorlik te ondersoek.”
Hy sê om so ’n ontsnapping te beplan en vir die ontsnapte om in Sandton rond te loop soos wat daar beweer word, spreek van arrogansie gemeng met politieke beskerming en dat Bester geweet het hy is onaantasbaar.
Hy sê president Ramaphosa moet dringend ’n span saamstel wat ondersoek instel en binne 30 dae aan die land terugrapporteer. Volgens McKenzie sal hulle ontdek die meeste moorde buite die tronk word deur mense aan die binnekant gepleeg of beplan.
Die DA sê in hulle verklaring berigte in die media dat die adjunkminister van korrektiewe dienste bewus was dat Bester ontsnap het en daarna geen stappe gedoen het nie, is uiters kommerwekkend.
Die DA gaan aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste skryf om ’n dringende vergadering met die bestuur van G4S, die minister en adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste, en die nasionale kommissaris van die departement van korrektiewe dienste aan te vra.