Enige planne wat die minister van finansies, Enoch Godongwana, in sy kop het om tydens Woensdag 19 Februarie se begrotingsrede belasting te verhoog om die land se boeke te laat klop, word by voorbaat deur politieke partye en burgerlike organisasies verwerp.
Daar word bespiegel dat die minister na verwagting miljarde rand meer uit Suid-Afrikaanse belastingbetalers wil pers om die regering se groot begrotingstekort te finansier.
Godongwana sal Woensdag sy 2025-begrotingstoespraak in die Nasionale Vergadering by die parlement lewer.
Daar word voorspel dat die land se begrotingstekort kan toeneem weens lae ekonomiese groei en hoë uitgawes.
Daar is sprake van ’n potensiële verhoging in belastinginkomste, wat kan insluit verhogings in inkomstebelasting, BTW, of ander direkte of indirekte belastings om die tekort te dek.
Die DA, Cosatu en ActionSA is almal sterk gekant teen die vooruitsig van belastingverhogings en het hul teenkanting daarteen uitgespreek in die aanloop tot die begrotingsrede.
Die DA waarsku dat enige belastingverhogings wydverspreide weerstand tot gevolg sal hê, nie net vanuit die parlement nie, maar ook van binne die RNE.
“Die DA is sterk gekant teen enige belastingverhogings en steun nie verhogings op persoonlike inkomstebelasting, korporatiewe inkomstebelasting en belasting op toegevoegde waarde nie,” sê die party se woordvoerder oor finansies, Mark Burke, in ’n verklaring.
Die DA sê hulle glo dat die 2025-begroting ’n keerpunt vir die land se ekonomie moet wees en ’n verbintenis tot ernstige, vinnige hervormings na groei moet demonstreer. Ná ’n dekade van trae groei en ’n onvolhoubare skuldlas moet die 2025-begroting gebou word op die beste idees van binne die RNE, aangesien Suid-Afrika nie op dieselfde trant kan voortgaan nie, sê Burke.
The 2025 Budget must be a turning point for SA’s economy. We expect a budget that:
✅ Drives growth
✅ Boosts investor confidence
✅ Ensures fiscal responsibilityWe will fight for a budget that prioritises financial responsibility & real growth! https://t.co/3jl375NxuM
— Democratic Alliance (@Our_DA) February 16, 2025
“Die DA verwag dus dat die 2025-begroting moet fokus op die ontsluiting van infrastruktuurinvestering, beleidshervorming wat werksgroei in die private sektor tot gevolg het, en doeltreffendheid deur strukturele hervormings te verbeter.”
Daar heers groot kommer onder politieke partye en burgerregteorganisasies oor berigte in die Sunday Times die afgelope Sondag dat belastingverhogings ter tafel gelê kan word.
ActionSA het gesê hulle is ook sterk gekant teen enige belastingverhogings, tensy dit gepaard gaan met diepgaande besnoeiings aan regeringluukshede, insluitend kabinetbyvoordele en oortollige staatsposisies soos adjunkministers.
We firmly oppose any tax increases in this year’s Budget Speech, unless accompanied by deep cuts to government luxuries.
South Africans cannot be expected to shoulder higher taxes while state corruption and mismanagement continue unchecked!https://t.co/XFzpGzLzy0
— ActionSA (@Action4SA) February 17, 2025
Die party sê in ’n verklaring daar kan nie van Suid-Afrikaners verwag word om hoër belasting te dra nie, hetsy deur middel van BTW, persoonlike inkomstebelasting of maatskappybelasting, terwyl staatskorrupsie en wanbestuur ongekontroleerd voortduur.
Die party se woordvoerder oor finansies, Alan Beesley, sê alhoewel BTW die doeltreffendste van die drie hoofbelastings kan wees, benadeel dit die armstes en kwesbaarstes buitensporig. “Te lank het burgers die prys betaal vir regeringsmislukkings en van ineenstortende dienslewering en stygende elektrisiteitskoste wat die hoogte inskiet.”
Hy sê Suid-Afrikaners verdien ’n regering wat sy uitgawes sny voordat hulle meer van belastingbetalers eis. “Geen belastingverhoging kan geregverdig word nie, tensy die regering vermorsing, korrupsie, wanbestuur en bedrog sny. ActionSA sal nie ’n begroting ondersteun wat van burgers vereis om te betaal vir staatsmislukkings wat voortduur onder die regering van nasionale eenheid nie.”
Cosatu het ook teen verhogings van inkomstebelasting en BTW gewaarsku. Eyewitness News berig dat Cosatu se parlementêre koördineerder, Matthew Parks, saamgestem het dat ’n belastinglas nie ter sprake moet wees nie.
Cosatu het ook die ANC, wat sy bondgenoot is, gewaarsku teen die gevolge wat dit kan hê gedagtig aan die 2026-plaaslikeregeringsverkiesing.
"Sulke verhogings sal werkers en hul gesinne, wat reeds ly onder die stygende lewenskoste en ’n verhoging van 400 basispunte in die repokoers, dieper in die skuld dompel. ’n BTW-verhoging sal inflasie aanwakker. Sulke stygings sal geld uit die ekonomie suig wanneer dit die nodigste is om groei te stimuleer,” waarsku Cosatu.