Suid-Afrikaners vroeg in 2019 na die stembus

  • 0

 

Suid-Afrikaners kan hulle gereedmaak om vroeg volgende jaar na die stembus te gaan vir die land se volgende algemene verkiesing.

President Cyril Ramaphosa het tydens ’n byeenkoms van die Council on Foreign Relations in New York gesê volgende jaar se verkiesing sal voor die einde van Mei gehou word.

Ondanks die jongste meningspeilings dat die ANC steeds besig is om steun onder die kiesers te verloor, is Ramaphosa vol moed dat sy party die verkiesing maklik sal wen. Hy sê die ANC is besig om verlore steun in te haal en sy aantrekkingskrag onder die kiesers te herwin.

Volgens die jongste onafhanklike meningspeiling het die ANC se steun tot 52 persent gedaal in die weke nadat die president aangekondig het die ANC sal ten gunste stem van ’n grondwetwysiging dat grond sonder vergoeding onteien kan word.

Ramaphosa het egter die afgelope week tydens die David Rockefeller-gedenklesing die versekering gegee dat die regering geen grondvergrype sal toelaat nie en dat enige grondonteiening op ’n ordelike wyse ooreenkomstig die land se grondwet sal geskied.

Volgens ’n peiling wat deur die firma Victory Research vir die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) gedoen is, het die ANC se steun veral in Gauteng dramaties gedaal en is dit onwaarskynlik dat die party tydens volgende jaar se verkiesing weer ’n meerderheid in dié provinsie sal behaal.

Die EFF het volgens die peiling sy steun byna verdubbel sedert die vorige verkiesing terwyl die DA se steun min of meer konstant gebly het met ’n effense styging. Intussen het die ANC reeds sy eie lede voorberei dat daar ’n moeilike verkiesing op hulle wag en dat hulle minder as 50 persent van die stemme kan kry as hulle nie die hand aan die ploeg slaan nie.

Ramaphosa se optimisme dat die ANC volgende jaar se verkiesing maklik sal wen klop ook nie met sy party se eie navorsing nie. Peilings deur die ANC se eie navorsingseenheid in Luthuli-huis dui daarop dat die ANC in volgende jaar se verkiesing moontlik slegs 48 persent van die stemme op hom kan verenig. Die ANC se eie navorsing stem ook ooreen met die jongste onafhanklike peiling se voorspellings ten opsigte van die EFF se groei.

Die huidige ekonomiese resessie maak dinge vir die ANC ook nie makliker nie. Die voorsitter van die ANC se subkomitee oor ekonomiese transformasie, Enoch Godongwana, het vroeër die maand toegegee die ANC is bekommerd oor volgende jaar se verkiesing terwyl die land steier weens die ekonomiese resessie.

Hy het tydens ’n nuuskonferensie aan joernaliste gesê geen party sal daarvan hou om na ’n verkiesing te gaan as daar ’n ekonomiese resessie is nie.

Die leier van die DA, Mmusi Maimane, se DA-droom van ’n koalisieregering na volgende jaar se verkiesing sal ’n reuse-uitdaging wees, maar Wes-Kaap se premier Helen Zille sê sy glo dit is steeds moontlik.

Zille sê ondanks die uitdagings van ’n koalisieregering is dit steeds beter om ’n koalisie te vorm as om ’n korrupte regering aan bewind te hou.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top