Suid-Afrikaners wat ten volle teen COVID-19 ingeënt is, sal binnekort toegelaat word om weer vrylik na die VSA te reis en is ook welkom in onder meer Duitsland, Switserland, Frankryk, Spanje en Switserland.
Daar heers egter groot ontevredenheid onder Suid-Afrikaners wat na Brittanje wil reis. Suid-Afrika is steeds op Brittanje se rooilys en ons inentings word nie deur Brittanje erken nie.
Suid-Afrikaners wat na Europa reis, gebruik ook lande soos Switserland, Spanje en Frankryk as agterdeur om Nederland en Italië te besoek wat nog nie amptelik hulle deure vir Suid-Afrikaners oopgemaak het nie.
Die feit dat Suid-Afrika steeds op Brittanje se rooilys is, ondanks die feit dat iemand ten volle ingeënt mag wees, het baie mense wat graag daarheen wil reis rooi laat sien. Daar word openlik geskimp dat die besluit weinig te make het met Covid en neerkom op blatante rassisme.
Amerika, wat die afgelope 18 maande ’n reisverbod op die meeste lande toegepas het, is die jongste land wat van November af Suid-Afrikaners wat ten volle ingeënt is, sal toelaat om die land sonder kwarantyn binne te gaan.
Die nuwe maatreëls wat Maandag deur die Withuis aangekondig is, sal dit vir verskeie lande se burgers moontlik maak om weer na die VSA te reis, insluitende Suid-Afrikaners. Mense wat daarheen wil reis, sal moet bewys dat hulle ten volle ingeënt is voordat hulle aan boord van ’n vliegtuig gaan en sal ook ’n negatiewe COVID-19-toets moet toon wat binne 72 uur voor vertrek gedoen is. Hulle sal nie onderhewig wees aan enige kwarantynmaatreëls met hulle aankoms in die VSA nie, berig AFP.
Hierdie besluit maak dit moontlik dat miljoene mense weer toegelaat sal word om na Amerika te reis. “Ons weet vaksines is effektief, insluitend teen die Delta-variant, en vaksines is die beste linie van verdediging teen COVID-19, daarom is inenting die beste wapen wat ons het om mense teen die virus te beveilig en die verspreiding daarvan te bekamp,” het die Withuis se woordvoerder oor die pandemie, Jeff Zients Maandag aan joernaliste gesê.
Duitsland het Suid-Afrika van sy lys hoërisikolande verwyder en beskou Suid-Afrika van 19 September af nie meer as een van die hoërisikogebiede nie.
Dit beteken dat slegs gewone EU-reëls van toepassing sal wees vir mense wat van Suid-Afrika na Duitsland wil reis. Daar is dus teoreties vrye toegang in EU-lande vir diegene in Suid-Afrika wat ten volle ingeënt is.
Brittanje se besluit om Suid-Afrika op hulle rooilys te hou, ondanks volle inenting, is deur die bestuurshoof van die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa), David Frost, as ’n skop in die tande bestempel.
South Africa will remaining on the UK's Red list is a kick in the teeth for 1.5 million South African tourism workers who were relying on UK visitors this spring. @Tourism_Update #SouthAfricaisTravelReady #TourismRecovery #SupportSouthAfrica @David_SATSA https://t.co/CCYwZzucZF
— SATSA (@satsa_sa) September 20, 2021
“Daar bestaan nie ’n greintjie wetenskaplike getuienis wat redes gee waarom Suid-Afrika nog op die rooilys moet wees nie. Die enigste gevolgtrekking is dat Brittanje se regering ’n irrasionele vrees vir Suid-Afrika het wat op vooroordeel in hulle besluitnemingsproses berus,” het Frost gesê.
Hy sê Brittanje moet hulle besluit ernstig heroorweeg as hulle nie onherstelbare skade wil aanrig aan die betrekkinge met een van hulle sleutelbondgenote en handelsvennote nie.
Die besluit deur Brittanje om Suid-Afrika op hulle rooilys te hou beteken ook dat Britse burgers wat ná ’n besoek aan Suid-Afrika na Brittanje terugkeer, of Suid-Afrikaners wat die land besoek, steeds tien dae in kwarantyn moet verkeer na hulle aankoms daar.
Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor, het ook haar teleurstelling met Brittanje se besluit uitgespreek.
The Government of South Africa is puzzled at the United Kingdom (UK)’s decision to keep South Africa on the red list of countries facing stringent restrictions and high costs when entering the UK.
— DIRCO South Africa (@DIRCO_ZA) September 19, 2021
Sy sê duisende Suid-Afrikaners en besigheidslui is geskok daardeur en haar departement sal alles in hulle vermoë doen om Brittanje te oorreed om dit te herroep.