Die mense van Suid-Afrika wil dialoog voer, maar nie met president Cyril Ramaphosa nie, want hy het hulle vertroue verloor.
So het die bestuurshoof van Solidariteit, Dirk Hermann, Dinsdag in ’n ope brief aan Ramaphosa geskryf op die vooraand van die Nasionale Dialoog wat Vrydag in Pretoria geopen word.
Solidariteit is een van ’n reeks organisasies en partye wat hom sterk uitgespreek het teen die Nasionale Dialoog wat eerskomende Vrydag tydens ’n spoggeleentheid in Pretoria begin.
OPE BRIEF
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het vandag 'n ope brief aan President Ramaphosa oor die Nasionale Dialoog gestuur.𝗟𝗲𝗲𝘀 𝗱𝗶𝗲 𝗯𝗿𝗶𝗲𝗳 𝗵𝗶𝗲𝗿:
Dear President RamaphosaThe people of South Africa want to talk, but do not want to talk to you.… pic.twitter.com/yGVhExYuWR
— Solidariteit (@solidariteit) August 12, 2025
Minstens agt organisasies en ’n stuk of sewe politieke partye het reeds hul teenstand teen, of onttrekking aan, die Nasionale Dialoog uitgespreek, wat dit ’n totaal van minstens 15 entiteite maak. Die belangrikste redes vir hul onttrekking sluit in die gejaagde tydlyn, gebrek aan deursigtigheid oor die begroting, en kommer dat die proses polities gedrewe is deur die ANC. Ten spyte hiervan bly die organiseerders vol vertroue, met meer as 200 ander organisasies wat na bewering steeds betrokke is.
Die FW de Klerk-stigting het intussen sy oproep aan die regering herhaal om Suid-Afrikaners die geleentheid te gee om hul eie verteenwoordigers te kies om die Nasionale Dialoog te dryf.
The FW de Klerk Foundation has reiterated its call for the government to give South Africans an opportunity to elect their own representatives to drive the National Dialogue. https://t.co/3XQKX5XiqQ pic.twitter.com/NCKmpdvpoa
— SABC News (@SABCNews) August 12, 2025
Die organisasies wat onttrek, sluit in:
- Thabo Mbeki-stigting: Onttrek weens ’n gebrek aan deursigtigheid oor die R700 miljoen-begroting en die gejaagde tydlyn wat die proses in ’n “simboliese mylpaal” verander. Hulle het voorgestel dat die konferensie na 15 Oktober 2025 uitgestel word.
- Steve Biko-stigting: Onttrek met die argument dat kernbeginsels van die dialoog geskend is.
- Chief Albert Luthuli-stigting: Onttrek as deel van die gesamentlike verklaring oor beginselverbreking.
- Desmond en Leah Tutu-nalatenskapstigting: Onttrek met verwysing na die gebrek aan geloofwaardigheid en openbare vertroue.
- FW de Klerk-stigting: Onttrek met kommer oor die begroting en die moontlikheid dat uitkomste bindend sal wees op toekomstige regerings.
- Oliver en Adelaide Tambo-stigting: Onttrek as deel van die gesamentlike verklaring.
- Strategiese Dialoog-groep: Onttrek om dieselfde redes as bogenoemde stigtings.
- Solidariteit Beweging, AfriForum, en Solidariteit: Het aangekondig dat hulle nie sal deelneem nie, en beskryf die dialoog as ’n “politieke foefie” wat deur die ANC gekaap is.
Politieke partye wat nie die Nasionale Dialoog steun nie of kritiek daarteen uitgespreek het, is onder andere die DA, wat reeds weke gelede onttrek het, met partyleier John Steenhuisen wat die dialoog as ’n “pratery sonder aksie” en ’n duur ANC-verkiesingsveldtog bestempel, die EFF, MK, ActionSA, Vryheidsfront Plus, Bosa en die Arbeidersparty van Suid-Afrika, wat ’n hofaansoek ingedien het om die dialoog te verbied, met die argument dat die R700 miljoen-begroting buitensporig is.
Hermann van Solidariteit sê in sy ope brief aan Ramaphosa hulle beskou die Nasionale Dialoog in sy huidige formaat vir wat dit is: ’n staatsgeborgde ANC-herlewingsprojek.
“Met alle respek, ons stel nie belang in die herlewing van die ANC nie. Die mense van Suid-Afrika het ’n groot dialoog begin, maar dit verskil van die sogenaamde nasionale dialoog,” sê Hermann in sy brief.
Hy sê mense praat in hul werkplekke, om die braai, by sportbyeenkomste en in kerke oor ’n verlange na ’n ander bedeling. Hulle wil nie mooi gesprekke voer met ’n ANC-geleide regering nie; hulle wil hê hulle moet weg wees. Die groot dialoog het volgens hom reeds by die stembus begin toe die ANC met slegs 40%-steun gestraf is.
“Dit was die eerste stem van die mense. Nadat die mense se stemme by die stembus gehoor is, is meer stemme verhef dat die gemeenskap met mekaar moet praat. Dit is onder andere deur sommige van die stigtings geïnisieer. Die idee van ’n nasionale dialoog is gebore uit ’n ineenstortende ANC,” skryf Hermann aan Ramaphosa.
Kallie Kriel van AfriForum sê hulle het aan hierdie naweek se Nasionale Dialoog onttrek omdat die ANC dit in ’n ANC-monoloog omskep het. “Die ANC-regering se korrupsie en mislukte beleid het die krisis veroorsaak. Hulle kan nie vertrou word om die oplossings te dikteer nie,” het Kriel op X gesê.
. @afriforum withdraws from this weekend’s National Dialogue because the @PresidencyZA & ANC captured the process. The ANC has turned it into an ANC monologue. The ANC government’s corruption and failed policies caused the crisis. They cannot be trusted to dictate the solutions. pic.twitter.com/02vp6UsHba
— Kallie Kriel (@kalliekriel) August 12, 2025
Die konferensie sal na bewering meer as 200 organisasies en 557 afgevaardigdes uit 28 sektore byeenbring, met ondersteuning van Unisa (wat gratis fasiliteite bied) en die Kagiso Trust (R2 miljoen-skenking). Die doel is om sleuteltemas te identifiseer, ’n koördinerende komitee te stig, en die dialoog se struktuur te finaliseer.
Die geraamde koste van R700 miljoen het skerp kritiek ontlok, met die Arbeidersparty van Suid-Afrika wat ’n dringende hofaansoek ingedien het om die dialoog te stuit, en dit as ongrondwetlik en onverantwoordelik bestempel. Die presidensie beweer egter dat die begroting voldoen aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) en dat skenkings kostes sal verlaag.
Hermann sê dit is juis as gevolg van ’n diep skeuring met die regering dat mense oor ’n ander soort bedeling wil praat. Die regering voel volgens hom bedreig deur hierdie tipe dialoog en het daarom besluit om dit te kaap. “Die regering wil nie in oop dialoog betrokke raak nie, maar wil eerder die agenda en uitkoms van die dialoog ten gunste van die ANC bepaal,” het hy aan Ramaphosa geskryf.
