Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het ’n beroep op alle partye in Mosambiek gedoen om selfbeheersing uit te oefen en hulle te weerhou van optrede wat geweld en onrus vererger.
Dit volg na die grootskaalse geweld wat in die land uitgebreek het ná verlede jaar se algemene verkiesing waarvan die uitslag steeds betwis word.
Betogers het hulle frustrasie oor die uitslag in hul duisende uitgespreek deur die strate in te vaar. Winkels en infrastruktuur is op groot skaal vernietig.
Die situasie in die land is steeds op ’n mespunt. Volgens mediaberigte is honderde Mosambiekers deur die polisie gedood nadat die land se verkiesingskommissie aangekondig het dat Frelimo die verkiesing met 65% gewen het.
Die SAOG het die afgelope naweek ’n virtuele buitengewone beraad van staatshoofde en regeringshoofde gehou om die postverkiesingsituasie rakende die politiek en veiligheid in Mosambiek te bespreek.
𝗦𝗔𝗗𝗖 𝗵𝗼𝗹𝗱𝘀 𝗢𝗿𝗴𝗮𝗻 𝗧𝗿𝗼𝗶𝗸𝗮 𝗦𝘂𝗺𝗺𝗶𝘁 𝗼𝗻 𝘁𝗵𝗲 𝗣𝗼𝘀𝘁-𝗘𝗹𝗲𝗰𝘁𝗶𝗼𝗻 𝗣𝗼𝗹𝗶𝘁𝗶𝗰𝗮𝗹 𝗮𝗻𝗱 𝗦𝗲𝗰𝘂𝗿𝗶𝘁𝘆 𝗦𝗶𝘁𝘂𝗮𝘁𝗶𝗼𝗻 𝗶𝗻 𝘁𝗵𝗲 𝗥𝗲𝗽𝘂𝗯𝗹𝗶𝗰 𝗼𝗳 𝗠𝗼𝘇𝗮𝗺𝗯𝗶𝗾𝘂𝗲
The Southern African Development Community (SADC) held a virtual… pic.twitter.com/tN4LwsTagp
— SADC Secretariat (@SADC_News) January 6, 2025
Daar is aanvanklik beweer dat die regerende Frelimo meer as 70% van die stemme gekry het.
Betogers het dadelik die strate ingevaar. Die verkiesingskommissie het daarna, na weke van protes waartydens honderde Mosambiekers na bewering deur die polisie gedood is, saamgestem dat daar teenstrydighede was met die stemtelling, maar het toe besluit dat Frelimo met 65% gewen het.
Die SAOG het volgens ’n verklaring besluit om ’n hoëvlakafvaardiging na Mosambiek te stuur om op grondvlak vas te stel wat die situasie in die land is.
Several organisations in PTA to submit request for interventions in Mozambique's case to the African court https://t.co/aUeJ8wBaQI
— eNCA (@eNCA) January 7, 2025
Daar is onder andere berig dat daar by die Maputo-gevangenis, ook bekend as Machava, ingebreek is waartydens sowat 1 500 gevangenes ontsnap het. Volgens berigte is 33 gevangenes na bewering dood tydens die konfrontasie met veiligheidsmagte.
Die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap (UNHCR) het laat verlede maand gesê meer as 2 000 mense het uit Mosambiek na Malawi gevlug, terwyl nog 1 000 na Eswatini gevlug het.
“Suid-Afrika doen ’n beroep op alle partye om hulle te verbind tot ’n dringende dialoog wat die land sal genees en dit op ’n nuwe politieke en ontwikkelingstrajek sal plaas,” het Suid-Afrika se Departement van Internasionale Betrekkinge in ’n verklaring gesê.
“Verder is Suid-Afrika gereed om Mosambiek op enige manier by te staan om hierdie dialoog te fasiliteer. Suid-Afrika doen ’n beroep op alle partye om selfbeheersing en kalmte aan die dag te lê,” lui die verklaring.
AfriForum het intussen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse grensbestuursowerheid en wetstoepassingsagentskappe gedoen om hul pogings te versterk om onwettige grensoorgange van Mosambiek na Suid-Afrika te bekamp.
Die onlangse onrus in Mosambiek het duisende mense gedwing om hul huise te verlaat, wat volgens AfriForum ’n oplewing van vlugtelinge tot gevolg het wat buurlande soos Malawi en Eswatini binnegaan.
Die presiese aantal Mosambiekers wat Suid-Afrika binnekom, bly egter onduidelik, wat ernstige kommer wek oor grensveiligheid en die doeltreffendheid van die huidige maatreëls.
Volgens UNHCR het ongeveer 2 000 mense Malawi gedurende die laaste week van 2024 binnegegaan, terwyl meer as 1 000 in Eswatini skuiling gesoek het. Die Malindza-vlugtelingopvangsentrum in Eswatini, wat ontwerp is om 250 mense te akkommodeer, huisves nou meer as 1 000 individue, wat die erns van die krisis onderstreep, het AfriForum gesê.
AfriForum se hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, sê in ’n verklaring daar moet verseker word dat diegene wat asiel soek, dit deur die korrekte en wettige prosesse doen, aangesien misdadigers, soos smokkelaars en mensehandelaars, dié krisis uitbuit, en dit nie toegelaat kan word nie.
@afriforum calls for immediate action to combat illegal border crossings amid Mozambique crisis.https://t.co/eAx6B7Wen2
— Jacques Broodryk (@JacquesBroodryk) January 7, 2025
Broodryk beklemtoon dat Suid-Afrika ’n veelsydige benadering moet volg om hierdie krisis die hoof te bied, insluitend:
- versterking van sekuriteit by alle grensposte en dié langs poreuse grensgebiede
- verbetering van samewerking met buurlande om beter beheer oor oorgrenshandel en onwettige kruisings toe te pas
- noue samewerking met gemeenskapsveiligheidstrukture soos AfriForum-buurtwagte om hoërisikogebiede doeltreffend te monitor en te patrolleer.
Broodryk sê verskeie AfriForum-buurt- en -plaaswagstrukture in grensgebiede speel reeds ’n rol in die patrollering van Suid-Afrika se poreuse grense. Hy sê dit is van kritieke belang dat owerhede met hierdie groepe saamwerk om grensveiligheid te versterk en beide Suid-Afrikaners en ontheemde individue teen uitbuiting te beskerm.