Die jaarlikse winterskool in Suid-Afrika vir Neerlandistiekstudente is ’n instelling waartydens universiteite in Suid-Afrika en Namibië studente verbonde aan Afrikaansdepartemente stuur om ’n intensiewe kursus in Nederlandse taalverwerwing asook Nederlandse en/of Vlaamse letterkunde te volg. Afrikaansdepartemente in Suid-Afrika kry die geleentheid om beurtelings as gasheer vir die winterskool op te tree. Vanjaar se winterskool is deur die Universiteit van Fort Hare se Afrikaansdepartement georganiseer. Weens ’n gebrek aan voldoende fasiliteite by die Oos-Londenkampus is daar vanjaar besluit om van Pine Lodge se fasiliteite in Port Elizabeth gebruik te maak.
Vanaf 1 tot 7 Julie het studente verbonde aan agt Suid-Afrikaanse universiteite, asook die Universiteit van Namibië, by Pine Lodge in Port Elizabeth byeengekom vir vanjaar se winterskool. Altesaam 23 studente het die weeklange kursus in Nederlandse taalverwerwing asook Nederlandse en Vlaamse letterkunde gevolg. Vanjaar se Nederlandse taalverwerwing is deur Renée Marais, verbonde aan die Universiteit van Pretoria, behartig. Die letterkunde-lesings is aangebied deur Johan Sonnenschein verbonde aan die Universiteit Luik (Université de Liège) in België. As deel van die program is studente blootgestel aan Nederlandse en Vlaamse kultuur deur middel van filmvertonings. ’n Aantal dokumentêre programme is ook aan studente vertoon om hul kennis van die Lae Lande te verskerp.
Die Afrikaanse skrywer Annelie Botes het ’n gaslesing aangebied waartydens sy die agtergrond en navorsing vir haar roman Raaiselkind (2001) met die studente bespreek het. As deel van haar aanbieding het sy uit die Afrikaanse, Nederlandse asook Engelse vertaling van Raaiselkind voorgelees om die vertalings met mekaar te vergelyk. Levona Pretorius (UFH), Marno Swart (UP), Jané de Wet (NMU) en Elodi Troskie (US) het tydens ’n gelukkige trekking elk ’n eksemplaar van die Nederlandse vertaling van Raaiselkind ontvang. Die studente het Botes se optrede terdeë geniet.
Levona Pretorius en Annelie Botes
In hul vrye tyd kon studente aan allerlei aktiwiteite by Pine Lodge asook in die omliggende area deelneem waaronder ysskaats en besoeke aan SANCCOB se pikkewynrehabilitasie-sentrum.
Die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek wil graag die Nederlandse Taalunie (NTU) bedank vir die finansiële ondersteuning wat die winterskool moontlik gemaak het. Ons bedank ook die dosente sonder wie se kennis en bereidwilligheid om die lesings aan te bied hierdie winterskool nie moontlik sou gewees het nie.
Dewald Koen
Organiseerder
Universiteit van Fort Hare
Universiteit van Wes-Kaapland | Leona Conradie, Helen-Rose van Wyk, Zenaria de Villiers en Zininzi Dadlana
Universiteit Stellenbosch | Alida Cloete, Micaela Cloete, Emrie Human en Elodi Troskie
Universiteit van die Vrystaat | Abigail Wiese, Ena Stegmann en Elizabeth van Rensburg
Universiteit van Fort Hare | Levona Pretorius, Joey Mariema en Tiffany Barnard
Noordwes-Universiteit | Shamiel Oelf
Universiteit van Pretoria | Marno Swart, Noeline Viljoen en Hardus Engelbrecht
Universiteit van Namibië | Micay-Lynn Beukes en Allenthea Garoës
Buro: NM