Die Sondagkoerant Sunday World is oor die vingers geraps omdat hulle valslik beweer het dat die ou Suid-Afrikaanse apartheidsvlag hoog gewapper het tydens verlede jaar se Bela-optog in Pretoria.
Die persombudsman het die koerant beveel om ’n verskoning en regstelling van die berig te publiseer, beide in druk en aanlyn.
In dié artikel word AfriForum as Sunday World se “Moegoe of the week” bestempel, terwyl die koerant ook daarin uitvaar teen “sommiges in die Suid-Afrikaanse samelewing wat ’n skaamtelose spul is”.
Sterk kritiek word ook uitgespreek teen die draers van oranje T-hemde by die protesoptog, en daar word ’n verband getrek tussen die gebruik van “apartheidsimbole” en die vertoon van Nazi-simbole in die openbaar in Duitsland, ten spyte daarvan dat daar volgens Solidariteit geen sogenaamde apartheidsimbole by die optog vertoon is nie.
In sy bevinding sê die adjunkpersombudsman, Franz Krüger, klousule 1.3 van die perskode is oortree deurdat ’n ongegronde bewering, naamlik dat die “apartheidvlag” by die Bela-protesoptog vertoon is, as ’n feit voorgehou is.
Benewens die regstelling en verskoning onder ’n opskrif wat die woorde “verskoning”, “AfriForum” én “Solidariteit” moet bevat, het Krüger ook beslis dat Sunday World ’n opsomming van die uitspraak moet publiseer.
Solidariteit en AfriForum het die uitspraak in ’n verklaring verwelkom. Hulle sê hulle vertrou dat Sunday World en sy redakteur die bevinding sal eerbiedig.
“Die tweede bevinding wat nou in AfriForum se guns teen Sunday World gemaak is, moet ’n baie duidelike boodskap stuur aan dié koerant en ander media wat leuens oor AfriForum en Solidariteit verkondig en wys dat ons daadwerklik sal optree teen diegene wat valshede versprei,” sê Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum.
Pieter Jordaan, bestuurder van nuus en publisiteit by Solidariteit, sê die doel met onverantwoordelike aantygings soos dié is om die geloofwaardigheid en reputasie van Solidariteit en AfriForum, en in dié geval ook die Bela-protesoptog, af te takel.
“Die poging het gelukkig volkome misluk en dit is veel eerder die publikasie se geloofwaardigheid wat skipbreuk ly. Dit behoort ’n les vir die Sunday World en ander kommentators te wees. Die Bela-optog was in werklikheid ’n noodsaaklike, suksesvolle en ordelike byeenkoms waartydens Afrikaners se gevoel oor die aangeleentheid van moedertaalonderrig so duidelik as moontlik beklemtoon is. Dit is ’n stryd wat in 2025 volstoom voortgesit gaan word,” sê Jordaan.
Die koerant het aangevoer dat die term “die apartheidvlag” breër bedoel was om enige simbool van apartheid in te sluit en daarom die Vierkleurvlag van die Transvaalse Republiek kan insluit, wat glo by die geleentheid gewapper het.
Volgens Solidariteit was die verwysing in die artikel duidelik na die spesifieke vlag wat deur die apartheidregering gebruik is voor 1994, en nie na wyer simbole nie. Hulle betwis ook dat die Vierkleur by die geleentheid gewapper het. Een persoon het glo probeer om die vlag na die protes te bring, maar is gekeer.
Die ombudsman sê in sy kommentaar dit is duidelik dat die artikel wat AfriForum as ’n “moegoe” bestempel, kommentaar van die koerant is wat berus op die sogenaamde gebruik van die ou apartheidvlag.
Die koerant het erken dat die vlag wat tydens apartheid in Suid-Afrika gebruik is, nie gewapper het nie, maar voer aan dat die term ook van toepassing kan wees op die Vierkleurvlag.
Die ombudsman sê in sy uitspraak hoewel die Vierkleur geassosieer word met regse en rassistiese houdings, is dit ’n ander vlag en is die status daarvan nog nie in die hof getoets nie. Die gewone leser sou die verwysing verstaan het as die vlag wat gewoonlik as die “apartheidvlag” beskryf word.
Die verwysing na “die apartheidvlag” dui volgens die ombudsman duidelik op die vlag wat tot 1994 gebruik is en onlangs deur die hof as haatspraak verklaar is.
Solidariteit het ook daarop gewys dat net een persoon probeer het om die vlag na die protes te bring, maar gekeer is. Hulle sê dit ondermyn die bewering dat die vlag “hoog gewapper” het.
- Die ombudsman se volledige uitspraak kan hier gelees word.