Swaarkry, honger en die gevaar van onrus in die tyd van korona

  • 0

Dit sou hierdie Donderdag die laaste dag van Suid-Afrika se aanvanklike drie weke lange korona-inperkingsperiode gewees het; hieroor het ek op die eerste dag van inperking, Vrydag 27 Maart, geskryf.

Maar verlede Donderdagaand het pres Cyril Ramaphosa dié tydperk met twee weke verleng. Die inperking (grendelstaat, “lockdown”) is nou geskeduleer om op 30 April te eindig. Hieroor bestaan daar gemengde gevoelens, selfs al het die President in sy laaste toespraak aan die nasie die voordele van die inperking kon aantoon, soos dat dit hier te lande bygedra het tot ’n afplatting of vertraging van die verspreiding van die virus.

Sommige mense, onder wie prominente ekonome soos Dawie Roodt van die Efficient Group, meen egter weinig gaan van die land se ekonomie oorbly teen die tyd dat die grendelstaat beëindig word. Roodt en ander doen daarom voorbrand vir die verligting van sekere inperkingsmaatreëls in bepaalde sektore.

Sprake van ’n onafwendbare IMF-reddingsboei doen terselfdertyd die rondte, maar die minister van finansies, Tito Mboweni, wil daar niks van hoor nie. Indien IMF-hulp enigsins oorweeg sal word, sal dit uitsluitlik vir koronaverligting versoek word, nié om die ekonomie as sulks te probeer red of versterk nie (want dít, weet ons, gaan met die IMF se eie streng voorskrifte en maatreëls gepaard).

Die tekens is daar dat ’n IMF-noodsein onafwendbaar kan raak. Dit het met twee faktore te make.

Die eerste is dat daar geen waarborg is dat die inperking wél teen die einde van April opgeskort sal word nie: ’n Voorlegging dié week deur Salim Abdool Karim, een van Suid-Afrika se voorste mediese spesialiste, dui aan dat die land nog redelik “goed vaar” met die bekamping van die koronavirus.

Ons het op dag een van die inperking by 1 000 infeksies en een sterfgeval getrek. Ons is nou, sowat drie weke later, by 2 506 infeksies en 34 sterftes – teenoor die wêreldwye sterftesyfer van meer as 130 000 en meer as twee miljoen mense wat die virus onder lede het. Hiervan word die grootste getalle tans in die VSA gevind: meer as 600,000 infeksies, meer as 25 000 sterftes. Spanje staan op meer as 170 000 / 18 000, en Italië, waar die syfers aan die begin die hoogte ingeskiet het, op meer as 160 000 infeksies en 21 000 sterftes.

Plaaslik is die twee provinsies wat die ergste getref word, boonop die ekonomies sterkste in die land, naamlik Gauteng (930 gevalle) en Wes-Kaap (657), met KwaZulu-Natal, waar die besige Durban-hawe geleë is, derde met 519 gevalle.

Tesame met die goeie uit Karim se voorlegging, ook dié kommerwekkende: dat as die plaaslike infeksiesyfer teen die einde van die week gemiddeld 90 per dag is, is ’n verdere verlenging van die inperking so te sê ’n uitgemaakte saak. Dié syfer was met vroegweek-berekenings in die omgewing van gemiddeld 129 per dag. 

Soos die kenner van aansteeklike siektes Jantjie Taljaard benadruk, moet ook in ag geneem word dat die infeksiesyfers normaalweg ten minste ’n dag oud is.

Wat die infeksiescenario aan die ekonomie sal doen, is onder meer dat tot ’n verdere miljoen mense werkloos gelaat kan word bykomend tot die huidige byna 30% werklose bevolking – én dat die ekonomie, aldus Roodt, negatiewe groei van tot 6% kan ervaar. Dit is nie asof ’n veel meer rooskleuriger prentjie voor die koronapandemie verwag is nie: Graderingsagentskappe het die land reeds tot rommelstatus afgegradeer en die verwagte ekonomiese groei sou in ieder geval na verwagting in die rooi gebly het.

Dit is nie die enigste rooi lig wat flikker nie.

Terwyl tussen 17 en 18 miljoen Suid-Afrikaners reeds van maatskaplike toelaes afhanklik is, neem die druk nou op die regering toe vir verdere bystand vir die armes (en ook mense wat weens die inperking nie mág gaan werk nie of wat in die informele sektor sake doen). Om die bestaande kindertoelaag van R445 tydelik met R500 te verhoog, blyk ’n gewilde opsie te wees, maar ekonome soos Duma Gqubule dryf ook die gedagte van ’n basiese inkomstetoelaag vir alle behoeftiges.

Dit is hiervoor dat ’n moontlike IMF-lening gebruik sal word.

Die rou werklikheid van swaarkry kan egter nie wag op die slakkepas waarteen regeringsbesluite dikwels geneem word nie.

’n Mens sien dit in die opvlamming van gemeenskapsonrus die afgelope paar dae in gebiede soos Alexandra in Gauteng en in Mitchells Plain in die Kaap. Wat daartoe aanleiding gegee het, is inwoners se frustrasie oor kospakkies wat nie by hulle uitgekom het nie.

Natuurlik laat hierdie situasie heelwat ruimte vir uitbuiting deur kansvatters of selfs vir misdadige elemente, soos bendes, om voordeel daaruit te probeer trek. Sonder twyfel het die teenwoordigheid van die polisie en weermaglede in dié gebiede ’n beperkende uitwerking op hul aktiwiteite, soos dwelmhandel en gebiedsoorloë. Hieroor behoort inwoners ’n sug van verligting te slaak.

Maar terwyl bendeskietery dikwels ’n daaglikse verskynsel is, is swaarkry ’n ander werklikheid. En daarom spook die woorde van ’n inwoner, soos deur Ayesha Ismail vir eNCA gerapporteer, by ’n mens: “Ons gaan nie van korona doodgaan nie,” het die inwoner haar en ander in haar gemeenskap se lot bekla. “Ons gaan doodgaan van hongerte.”

Dit kom dalk melodramaties voor, maar dit is iets waarop die regering ag behoort te slaan. Indien om geen ander rede nie, dan wel hierom: Onderliggend daaraan lê die gevaar vir moontlike maatskaplike onrus, iets wat geen land in die wêreld in hierdie tye kan bekostig nie, allermins ons land, wat in elk geval gereeld daaronder gebuk gaan.

Hierdie artikel word, soos die vorige een, vervolg.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top