Swak intelligensie-agentskappe laat Suid-Afrikaners onveilig

  • 0

Suid-Afrikaners het rede om bekommerd te wees oor die land se swak intelligensie-agentskappe wat inwoners onveilig laat voel.

Dit is die mening van ActionSA se leier, Herman Mashaba.

Mashaba wys in ’n verklaring op die treurige rekords van al drie die land se intelligensie-agentskappe en sê hy het min hoop dat president Cyril Ramaphosa erns daarvan maak om die saak te probeer regstel.

Ramaphosa het ook nog nie ’n minister vir die intelligensiedienste aangestel toe hy verlede week die nasionale kabinet aangekondig het nie.

Mashaba sê in ’n land met van die hoogste vlakke van moord, verkragting, misdade teen kinders, huisroof en mensehandel in die wêreld, is hierdie weglating belangrik, selfs al is dit tydelik.

Veiligheid- en intelligensie-agentskappe in enige land is oor die algemeen verantwoordelik vir die versameling, ontleding en ontginning van inligting ter ondersteuning van wetstoepassing, nasionale veiligheid, militêre en openbare veiligheid en buitelandsebeleidsdoelwitte.

Volgens Mashaba het al drie die land se intelligensie-agentskappe, naamlik die Suid-Afrikaanse Polisiediens se misdaadintelligensie-afdeling, die Staatsveiligheidsagentskap, sowel as die Verdedigingsintelligensie-afdeling van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, treurige rekords van mislukking.

Mashaba sê hulle het nie net misluk in die opspoor van en vroeë waarskuwing oor beplande veiligheidsrisiko’s nie, maar al drie agentskappe was die afgelope 15 jaar ook betrokke by finansiële skandale, misdadigheid en partypolitieke faksiegedrag, wat hul vermoë om hulle mandate uit te voer, in die gedrang gebring het.

Hy verwys onder meer na ’n verslag van ’n hoëvlakpaneel wat in 2018 deur Ramaphosa gestig is om die intelligensiedienste te ondersoek. Daar is bevind dat daar ’n ernstige verpolitisering en faksievorming van die intelligensiegemeenskap plaasgevind het onder Zuma se bewind.

Dit was gebaseer op faksies in die regerende party wat ’n byna algehele miskenning van die Grondwet, beleid, wetgewing en ander voorskrifte tot gevolg het. Hulle het die land se burgerlike intelligensiegemeenskap volgens die verslag omskep in ’n private hulpbron om die politieke en persoonlike belange van die Zuma-faksie te dien. Eties gekompromitteerde ministers het na bewering gewissel van Siyabonga Cwele, David Mahlobo en Bongani Bongo tot Ayanda Dlodlo, blyk uit die verslag.

In die nasleep van hierdie verslag het Ramaphosa die ministerie van intelligensie afgeskaf en die intelligensiefunksie oorgedra aan ’n minister in die presidensie as ’n eerste poging om die hele intelligensie-infrastruktuur te hervorm. Die minister in die presidensie op wie se skouers die taak eerste geval het, was Mondli Gungubele, wat opgevolg is deur Zizi Kodwa. Kodwa is onlangs in hegtenis geneem op aanklagte van korrupsie.

Mashaba sê die gewelddadige onluste in Julie 2021 waarin 350 mense gesterf het, die min arrestasies en geen enkele skuldigbevinding nie, is ’n bewyse dat Ramaphosa se hervormings van die intelligensiegemeenskap nie suksesvol was nie.

’n Deskundige paneel wat deur Ramaphosa aangestel is om die massageweld te ondersoek, het vasgestel dat die onluste ’n uitvloeisel was van ’n grootskaalse sosialemediaveldtog om mense maande lank openlik vir ’n opstand te mobiliseer.

Die tronkstraf van Zuma op skuldigbevinding aan minagting van die hof het die vonk verskaf wat die geweld aan die gang gesit het.

Volgens Mashaba is daar geen bewyse dat enige van die intelligensiedienste die ernstige veiligheidsrisiko wat hierdie veldtog ingehou het, kon raaksien nie.

“Onrusbarend genoeg het pres Cyril Ramaphosa, wat voorsitter van die Nasionale Veiligheidsraad van ministers in die veiligheidskluster (ministers van intelligensie, polisie en verdediging) is, volgens getuienis nie dié liggaam in die vorige vier maande byeengeroep nie. Dit is skandalig dat die onluste blykbaar die kabinet verras het.”

Mashaba sê intelligensie is veronderstel om die SAPD se Valke, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en Binnelandse Sake te bemagtig om proaktiewe reaksies ten opsigte van misdaad te bedink deur hulle in staat te stel om kriminele groepe se modus operandi te identifiseer en te verstaan.

Volgens Mashaba is daar geen teken dat Ramaphosa die nodige vasberadenheid het om die intelligensieagentskappe reg te ruk nie.

Hy sê toe hy burgemeester van Johannesburg was, het hy ’n dossier van 82 dade van ernstige misdadigheid aan die President oorhandig sodat die gekompromitteerde SAPD en die Nasionale Vervolgingsgesag daarmee kon werk, maar hy het nog steeds nie ’n woord daaroor van Ramaphosa gehoor nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top