President Cyril Ramaphosa het Zimbabwe gelukgewens met wat hy bestempel as “die organisering en hou van die geharmoniseerde verkiesings” – ten spyte van wye internasionale en plaaslike kritiek dat die land se afgelope verkiesing ’n klug was.
Zimbabwiërs het verlede week gestem om die land se president, nasionale vergadering- en plaaslikeregering-verteenwoordigers te verkies.
Internasionale waarnemers en opposisieleiers in sowel Suid-Afrika as Zimbabwe bestempel die verkiesing wat deur president Emmerson Mnangagwa gewen is as ’n klug.
In ’n voorlopige verslag deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se verkiesingswaarnemersending is daar opgemerk dat die verkiesings te kort geskiet het wat betref die vereistes van Zimbabwe se grondwet, die kieswet, en die SAOG-beginsels en -riglyne wat demokratiese verkiesings beheer.
Ander waarnemersendings van die Afrika-unie, Statebond en die Europese Unie het ook kommer uitgespreek dat die verloop van die verkiesing ’n impak kan hê op die geloofwaardigheid, deursigtigheid en inklusiwiteit van die proses.
Die naaste wat Ramaphosa egter gekom het om sy buurland se verkiesing te kritiseer, is om in ’n verklaring te sê Suid-Afrika het kennis geneem van die voorlopige uitsprake deur die genooide internasionale waarnemersendings, insluitend dié van die Afrika Unie (AU) en die SAOG.
The Republic of South Africa congratulates the government and the people of The Republic of Zimbabwe for organizing and holding the harmonized elections to elect the President, National Assembly and Local government representatives. https://t.co/PQdfv6HPWU pic.twitter.com/OncujY9HjY
— Presidency | South Africa ???????? (@PresidencyZA) August 28, 2023
In Suid-Afrika het veral die DA en Bosa (Build One South Africa) skerp uitgevaar oor Ramaphosa se stilswye op die kritiek.
Bosa se leier, Mmusi Maimane, het gevra dat Suid-Afrika sy diplomatieke bande met Zimbabwe opskort en die land se ambassadeur terugstuur Zimbabwe toe.
Bosa het ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering as ’n lid van die SAOG gedoen om nie van die bevindings van die SAOG-verkiesingswaarnemersending af te wyk of die integriteit van die SAOG te ondermyn nie.
‼️Media Statement on Zimbabwean elections‼️
Build One South Africa calls on the government of South Africa to cease diplomatic engagement with the government of Zimbabwe and expel the Zimbabwean ambassador.
The price of recognizing a sham election in Zimbabwe is too high for SA pic.twitter.com/UbemtfX09e
— Mmusi Maimane (@MmusiMaimane) August 29, 2023
“Dit is van kritieke belang om daarop te let dat die SAOG se verkiesingswaarnemersending vir die heel eerste keer nie hierdie verkiesing onderskryf het nie. Suid-Afrika is ’n leidende lid van die SAOG en moet as sodanig nie van die bevindings afwyk of die integriteit en gesag van die SAOG ondermyn nie,” het Maimane gesê.
Ramaphosa sê egter dat hierdie verkiesings onder ’n moeilike ekonomiese omgewing plaasgevind het as gevolg van die swaar sanksies wat die mense van Zimbabwe steeds onregverdig verduur.
Hy het ’n beroep op al die partye in Zimbabwe gedoen om saam te werk om vrede te handhaaf en te werk vir ontwikkeling en gedeelde welvaart in die land.
Die DA het in hulle reaksie gesê Ramaphosa se voortgesette stilswye oor Zimbabwe se “kamstige verkiesings” wat veroorsaak het dat Mnangagwa op omstrede wyse vir ’n tweede termyn “herverkies” is, is ’n stilswyende bekragtiging van die Zanu-PF-regering se verkiesingsklug.
????️Ramaphosa's shocking silence is an endorsement of the ZANU-PF's election farce. Organisations in Zimbabwe have confirmed that the elections were neither free, fair nor credible.
ZANU-PF bullying tactics must be rejected & the election must be reviewed.https://t.co/Ow5HUf1gRD
— Democratic Alliance (@Our_DA) August 28, 2023
Emma Louise Powell, die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking, sê met hierdie wye veroordeling van die gebrekkige verkiesing – insluitend ’n veroordeling deur die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, bespoedig die ANC-regering se stilswye Suid-Afrika se agteruitgang as ’n leier op die Afrika-kontinent en ’n verdediger van menseregte en die oppergesag van die reg verder.
Sy sê dit is heeltemal roekeloos vir Ramaphosa en sy regering om Suid-Afrika se buitelandse beleid aan Luthuli-huis uit te kontrakteer. Sedert die aankondiging van Mnangagwa se “oorwinning” het die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, hom lof toegeswaai oor die gebrekkige verkiesing en solidariteit uitgespreek met ’n Zanu-PF-regering wat weer eens ’n krisis van legitimiteit in die gesig staar.
“Ramaphosa behoort eerlik te wees en te bevestig of sy regering saamstem met Mbalula se standpunt dat die ANC ’n gewillige onderskrywer van die skyn-Zimbabwe-verkiesing sal wees,” sê die DA.
Verslae van waarnemersendings en burgerlikesamelewingsorganisasies in Zimbabwe bevestig volgens Powell bo enige redelike twyfel dat die verkiesings nie vry, regverdig of geloofwaardig was nie.
“Op verkiesingsdag was daar wydverspreide kiesersonderdrukking met die land se verkiesingsliggaam, die ZEC, wat versuim het om stembriewe betyds af te lewer, veral in stedelike gebiede, wat as opposisievestings beskou word. Staatsorgane is ook gebruik om verkiesingswaarnemers in hegtenis te neem, opposisie-ondersteuners te dreig en die verkiesingsproses te ondermyn.”
Sy sê in plaas daarvan om weer stilswyend op die kantlyn te staan, behoort Ramaphosa en sy minister van buitelandse sake, Naledi Pandor, die SAOG-verkiesingswaarnemersending te verdedig wat regstreeks deur die Zanu-PF-regering aangeval is oor hulle voorlopige verslag. “As die SAOG en Suid-Afrika enige stukkie geloofwaardigheid wil behou, moet hulle hierdie primitiewe boelietaktiek deur Zanu-PF verwerp en ’n onafhanklike hersiening van die verkiesing eis,” het Powell gesê.