Die wiele vir volgend jaar se nasionale verkiesing is behoorlik aan die rol nadat die Konstitusionele Hof Maandag duidelikheid gegee het oor die deelname van onafhanklike kandidate.
Onafhanklike kandidate het ’n gedeeltelike oorwinning behaal met die hof se uitspraak, want dit gaan nou makliker vir hulle wees om aan die verkiesing deel te neem, omdat hulle nou slegs 1 000 handtekeninge benodig om te kan deelneem.
Die hof het die vereiste tersyde gestel dat ten einde aan die provinsiale en nasionale verkiesings te kan deelneem, onafhanklike kandidate die handtekeninge van 15% van die inwoners in die streek waarin hulle wil meeding, moet kry.
Die hof moes ook beslis of die huidige verdeling van setels in die parlement gehandhaaf of verander moet word om onafhanklike kandidate ’n regverdiger kans te gee om verkies te word.
Die hof het egter beslis teen die Onafhanklike Kandidatevereniging van Suid-Afrika se aansoek wat die rasionaliteit en redelikheid van die 200/200-setelverdeling in die Nasionale Vergadering (NV) betwis het. Die vereniging sê in ’n verklaring hulle aanvaar die hof se uitspraak. Hulle sê hoewel hulle teleurgesteld is in die uitspraak, sal hulle voortgaan om vir ’n regverdiger kiesstelsel te beding.
Die leier van Build One South Africa (Bosa), Mmusi Maimane, het aangevoer dat die handtekeningdrempel van 15% ’n onredelike versperring skep vir toetrede vir onafhanklike kandidate om vir verkiesings te registreer en sodoende hul regte om mee te ding, skend.
Hulle het ook aangevoer dat die herberekeningsformule wanneer setels in die NV of provinsiale wetgewers verbeur word of wanneer vakatures ontstaan, politieke partye met meer stemme buitensporig bevoordeel bo partye met minder stemme en onafhanklike kandidate.
Maimane sê sy organisasie aanvaar die hof se uitspraak as ’n “regverdige oordeel” maar daar is nog ’n lang pad om te stap.
“Ons het betekenisvolle verkiesingshervorming nodig. Hierdie stelsel werk nie vir die mense nie. Jy behoort direk vir jou parlementslid te kan stem. Jy behoort direk vir jou president te kan stem. Ek gaan seker maak jy kry dit,” het Maimane op X op die hof se uitspraak reageer.
South Africa.
We need meaningful electoral reform. This system is not working for the people.
You should be able to vote for your member of parliament directly. You should be able to vote for your president directly. I am going to make sure you get itpic.twitter.com/ks4osPVyT8
— Mmusi Maimane (@MmusiMaimane) December 5, 2023
Maimane sê in ’n verklaring die stryd vir regverdiger verkiesings sal volgende jaar deur nuwe Bosa-LP's in die parlement opgeneem word.
Regter Jody Kollapen het in ’n meerderheidsuitspraak gewaarsku dat die winste wat gemaak is in die Verkiesingswysigingswet, wat onafhanklike kandidate vir die eerste keer toelaat om in verkiesings mee te ding, "hol" sou wees as die parlement hindernisse soos ’n kwotastelsel daarstel.
Die Onafhanklike Kandidatevereniging se voorsitter, Michael Louis, sê hoewel hulle teleurgesteld is ten opsigte van wat dit vir volgende jaar se deurslaggewende verkiesing beteken, hulle die hof se oordeel in die gees van die handhawing van die skeiding van magte aanvaar.
“Hierdie regsreis het nog altyd gegaan oor konstitusionalisme en om sosiale geregtigheid en regverdigheid deur die stembus te beïnvloed. Enkelparty-oorheersing het ons eens belowende demokrasie beskadig en die versekering van ’n nuwe kiesstelsel om die veld oop te maak, kundigheid en talent te lok, en bestuur te verbeter is die eerste prys.”
Louis sê hulle wil die krag en belangrikheid van die burgerlike samelewing as ’n kollektief beklemtoon in beide die mobilisering en verteenwoordiging van sleutelkiesafdelings wat polities dakloos en onderverteenwoordig bly.
Die DA en die Vryheidsfront Plus het die hofuitspraak verwelkom en gesê dit skep regsekerheid ten opsigte van aanstaande jaar se verkiesing.
“Dit bring sekerheid oor die feit dat die verkiesing wel sal plaasvind. Die verkiesingskommissie het reeds sy beplanning vir die verkiesing gemik op 22 Mei 2024. Hy kan nou daarmee voortgaan,” sê die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald.
The ruling provides more certainty that the elections will indeed take place. The Electoral Commission has already set its sights on 22 May 2024 for the general elections. It can now proceed with its planning. @GroenewaldPJ https://t.co/sRD05Xvg80
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) December 5, 2023
Die DA sê in hulle verklaring aangesien die Konstitusionele Hof-uitsprake oor die Verkiesingswysigingswet regsonsekerheid uitgeklaar het, die DA daartoe verbind bly om regverdige en deursigtige verkiesings te bevorder.
“Ons verstaan die belangrikheid van tydige besluite, veral in die lig van die twee sake wat die OVK aangevoer het ernstige reperkussies vir die verkiesing kan hê as dit nie stiptelik afgehandel word nie. Ons sien uit na die komende aankondigings van die OVK en bly optimisties oor die demokratiese prosesse wat die komende verkiesing sal vorm,” het die party se nasionale woordvoerder, Werner Horn, gesê.
Die DA sê die party sien gretig uit na die tweede registrasienaweek. Die datum daarvan sal aangekondig word sodra president Cyril Ramaphosa die verkiesingdatum aangekondig het.
Lees ook:
Opdraandestryd vir onafhanklike kandidate in Suid-Afrikaanse verkiesing
Hoe kan ’n onafhanklike kandidaat ’n verskil maak in die parlement?