Tafel is gedek vir volgende week se waterskeidingverkiesing

  • 0

Die tafel is behoorlik gedek vir volgende week se nasionale en provinsiale verkiesings met die opening van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale verkiesingsentrum waar die uitslae van volgende week se verkiesing bekendgemaak sal word.

Die lokaal sal dien as die primêre bestuurspilpunt vir verkiesingsbedrywighede, waar politieke partye, onafhanklike kandidate, die media en waarnemers die resultate sal dophou soos wat dit inkom. Dit is by die Gallagher-konvensiesentrum in Midrand gebaseer.

Die OVK se hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, het Donderdag gesê Suid-Afrika bevind hom op ’n deurslaggewende punt waar die pad na hierdie geskiedkundige verkiesings sy finale en mees kritieke stadiums nader.

Mamabolo sê die OVK se drukwerk is voltooi en meer as 90 miljoen stembriewe is aan die verskillende stemlokale regoor die land versend en afgelewer.

Die OVK het meer as 160 organisasies geregistreer en goedgekeur om as verkiesingswaarnemers op te tree by die 23 303 stemlokale regoor die land.

Die organisasies sal meer as 5 000 waarnemers van regoor die wêreld ontplooi om die integriteit van die verkiesingsproses te bekragtig. Dit sluit verskeie internasionale liggame en organisasies in, waaronder die Afrika-Unie, die Carter Centre Democracy Program en die Internasionale Instituut vir Demokrasie.

Daar is ook etlike binnelandse organisasies wat as waarnemers by die OVK geakkrediteer is, soos Defend Our Democracy, wat waarnemers by die stemlokale gaan ontplooi om seker te maak die verkiesing verloop volgens die reëls en dat deursigtigheid gehandhaaf word.

Vanjaar se verkiesing word as die belangrikste verkiesing in Suid-Afrika beskou sedert 1994, toe Suid-Afrikaners vir die eerste keer almal kon gaan stem. Dit is vanjaar die eerste keer sedert 1994 dat meningspeilings voorspel dat die ANC minder as 50% van die stemme op hom sal verenig.

Daar bestaan veral op provinsiale vlak ’n baie sterk moontlikheid dat die ANC sy meerderheid in Gauteng en KwaZulu-Natal kwyt kan wees. Die kans is ook weglaatbaar klein dat hulle daarin sal slaag om die DA in die Wes-Kaap uit te stof. Dit sal beteken dat die land se ekonomiese enjinkamers nie meer deur die ANC alleen beheer sal word nie.

Politieke partye sal hierdie naweek vir oulaas alles in hulle vermoë doen om kiesers te oorreed om vir hulle te stem.

Die DA sal sy verkiesingsveldtog Saterdag afsluit met ’n finale saamtrek in Belhar, Kaapstad. Duisende DA-ondersteuners sal na verwagting Saterdag op Belhar toesak om ’n duidelike boodskap te stuur dat die Wes-Kaap werk en onder bekwame, DA-bestuur sal bly. Die DA het in die doodsnikke van die veldtog veral daarop gekonsentreer om kiesers wat na die Patriotiese Alliansie (PA) van Gayton McKemzie wil oorloop, te probeer oortuig dat ’n stem vir die PA indirek ’n stem vir die ANC is.

Die PA, wat die afgelope maande veral in die bruin gemeenskap groot vordering maak, slyp hulle tande vir die Wes-Kaap en sê niks sal hulle keer om die DA in die provinsie te verslaan wanneer die land op 29 Mei stem nie. Die party maak daarop aanspraak dat hulle soveel as 20 setels in volgende week se verkiesing kan wen.

Die ANC veg op sy beurt met die rug teen die muur in KwaZulu-Natal, waar die nuut gestigte MK-party groot steun geniet.

Die ANC sal hulle veldtog ook Saterdag afsluit tydens ’n saamtrek by die FNB-stadion in Johannesburg.

Van die kleiner partye wat die eerste keer aan ’n verkiesing deelneem en veral dopgehou sal word, is Build One South Africa, wat deur die voormalige DA-leier Mmusi Maimane gelei word, ActionSA van Herman Mashaba, wat baie goed gevaar het in die vorige munisipale verkiesing, en Rise Mzansi onder leiding van Songezo Zibi.

Die ander groter partye wat soos vantevore sal deelneem, is die EFF, die Vryheidsfont Plus en die Inkatha Vryheidsparty (IVP).

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top