Tafelberg se kabelspoor vier 90ste bestaansjaar

  • 0

Die kabelkarretjie

Bekroon as een van die sewe natuurlike wonders van die wêreld, bekoor dié ikoniese berg in die Moederstad al jare lank plaaslike en internasionale besoekers wat met hom paaie kruis. Vér troon Tafelberg oor die stad uit, kenmerklik aan Kaapstad. Vandeesmaand is dit egter nie die berg self wat in die kalklig is nie, maar eerder die gewilde kabelspoor wat besoekers al dekades lank teen die majestueuse berg op neem.

Die kabelspoor, wat al oor die 28 miljoen besoekers verwelkom het, vier sy 90ste bestaansjaar – en dit is amper vreemd om te dink dat daar ’n tyd was wat Tafelberg nie sinoniem met die kabelkarretjie was nie; ’n tyd toe die berg slegs te voet trotseer moes word.

Wahida Parker, besturende direkteur van Tafelberg se kabelspoor, vertel hulle is verheug oor die kabelkarretjie se 90ste bestaansjaar en meen dat hulle ’n belangrike rol in die toerismebedryf speel.

“Ons is ’n aktiewe vennoot in die plaaslike toerismebedryf en is altyd besig om te kyk hoe en waar ons kan verbeter,” sê Parker.

“Ons is deurentyd in samewerking met die Stad Kaapstad besig om die ervaring vir besoekers wat Tafelberg besoek so spesiaal as moontlik te maak. Ons is ook daartoe verbind om toeganklikheid te verseker en daarom het ons gereeld spesiale aanbiedinge, veral vir plaaslike besoekers.”

Parker meen die feit dat die kabelspoor sedert sy ontstaan 90 jaar gelede elke jaar net meer en meer besoekers lok is ’n uitmuntende prestasie en pluimpie vir hulle. Sy is positief oor wat die toekoms vir hulle mag inhou en meen die toekoms is gevul met eindelose moontlikhede van hoeveel meer hulle vir besoekers kan bied.

Die openingsseremonie van die kabelkarretjie op 4 Oktober 1929

Die toekoms is dalk onbekend, maar die verlede bied ’n interessante blik op die transformasie – van konsep tot werklikheid – van die kabelkarretjie oor die afgelope 90 jaar. Daar was in die laat 1870’s die eerste keer sprake van ’n kabelspoor toe al meer mense begin voorstel het dat ’n spoorlyn na die bopunt van die berg gebou word om besoekers tot op die berg te neem. Planne om ’n rekspoor te bou is aanvanklik voorgestel, maar die implementering daarvan is stopgesit met die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog in 1880.

Teen 1912 word die ingenieur HM Peter deur die Kaapstadse stadsraad opdrag gegee om opsies vir ’n openbare vervoerstelsel te ondersoek, en ’n kabelspoor vanaf Oranjezicht deur die Platteklipkloof is voorgestel. In ’n referendum oor die saak het die oorgrote meerderheid van Kaapstad se inwoners ten gunste van die kabelspoor gestem, alhoewel dit ’n allemintige £100 000 sou kos. Die planne is egter weer gestaak met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, totdat ’n Noorse ingenieur met die naam Trygve Stromsoe in 1926 ’n kabelbaan voorgestel het.

Die skema het die oog van ’n groep invloedryke sakelui gevang nadat Stromsoe Sir Alfred Hennessy genader het en vir hom ’n funksionerende skaalmodel van sy idee gewys het. Hennessy en medebeleggers, Sir David Graaff en Sir Ernest Oppenheimer, stig The Table Mountain Aerial Cableway Company (TMACC) om konstruksie te finansier, met Stromsoe wat die vierde setel in die raad van direkteure beklee.

Die eerste kabelkarretjie

Na twee jaar se onvermoeide en dikwels gevaarlike werk, maak die kabelkarretjie uiteindelik op 4 Oktober 1929 die eerste keer sy deur oop. Die eerste kabelkarretjies was uit hout en staal gemaak en kon sowat 19 passasiers en die kondukteur teen die berg op vervoer. Teen 1931 is ’n teekamer op die berg geopen, waar besoekers ’n koppie filterkoffie of ’n toebroodjie kon geniet.

Die teekamer, 1931

Die eerste koninklike besoek aan die kabelspoor vind in 1947 plaas. Die destydse Prinses Elizabeth, vergesel deur haar pa, die laaste koning van Engeland, George VI, Koningin-gemaal Elizabeth en Prinses Margaret, besoek die kabelkarretjie en loop langs die kruin van Tafelberg.

Die eerste koninklike besoek in 1947

Die kabelspoor en kabelkarretjies is drie keer opgegradeer – in 1958, 1974, en meer onlangs in 1997. In 1958 is die houtkabelkarretjie met ’n metaalbak vervang wat die besoekerkapasiteit tot 23 vergroot het. In 1974 is die derde weergawe van die kabelkarretjie onthul, wat 28 passasiers kon vervoer en ook die tyd wat dit geneem het om besoekers tot op die berg te kry van 10 minute tot 5 minute verkort het. In 1997 is die karretjies weer opgegradeer, en dié keer is die draaivloere, wat passasiers ’n 360°-uitsig bied terwyl hulle teen die berg opgaan, vir die eerste keer bekendgestel.

Die tweede kabelkarretjie

Vandag is die kabelkarretjies wêreldwyd bekend, en word karretjies soortgelyk aan dié wat by Tafelberg gebruik word in Titlis in Switserland en Palm Springs in die Verenigde State gebruik. Die kabelkarretjies neem besoekers 704 m hoër, van die laer kabelstasie op 363 m bo seespieël na die bo-kabelstasie op 1 067 m bo seespieël. Elke karretjie kan 65 mense op ’n slag vervoer en 5 200 kg dra. Die karretjie neem tussen 4 en 5 minute om tot bo-op die berg te kom, en beweeg teen ’n maksimum spoed van 10 m per sekonde.

Derde kabelkarretjie, 1974-1997

In 2010 verwelkom die kabelspoor ’n rekordaantal besoekers as gevolg van die FIFA Sokkerwêreldbeker wat in Suid-Afrika aangebied word. Jaarliks besoek sowat 1 miljoen besoekers die kabelkarretjie en dié getal groei net al meer. Parker vertel hulle is daarom opgewonde oor wat die toekoms mag inhou. 

Die kabelkarretjie in 1997

“Ons is onlangs deur die World Travel Awards benoem as een van die wêreld se toonaangewende toeristeaantreklikhede, en so ’n erkenning verhef ons status op ’n wêreldwye platform. Wie weet wat die toekoms nog alles sal inhou.”

  • Foto’s: verskaf
Buro: MvH
  • 0
Top