Talle dood en vermis in  KZN vloedramp

  • 0

Verskeie mense het gesterf en verskeie word vermis na die afgelope week se vloede in KwaZulu-Natal.

Die Departement van Samewerkende Regering in KwaZulu-Natal het Dinsdag ’n beroep op inwoners in laagliggende gebiede gedoen om na hoër liggende gebiede te skuif.

Die owerhede kon Dinsdag nog nie bevestig presies hoeveel mense weens die oorstromings dood is nie. Modderstortings en oorstromings het oor groot dele van die provinsie voorgekom weens die swaar en aanhoudende reën.

Die weermag is ingeroep om ondersteuning te verleen aan rampbestuurspanne wat sedert Maandag werk om inwoners te help wat deur stortreën geraak word.

Sipho Hlomuka, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het Dinsdag gesê die gure weer wat sedert Maandag verwoesting in die provinsie gesaai het, het Dinsdag voortgeduur.

Hy het gesê die provinsiale rampbestuursentrum het hulp van die weermag ingeroep om lugsteun te verskaf waar nodig.

Talle paaie is versper en mense is gevra om nie onnodig te ry nie, terwyl daar op talle plekke kragonderbrekings voorgekom het.

Verskeie paaie in die provinsie was Dinsdagoggend steeds gesluit.

Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake neem intussen nog bestek op van die verwoesting wat tot dusver veroorsaak is. Nooddienswerkers het vanuit talle oorde oproepe ontvang van mense wat in nood verkeer. Die woordvoerder van die metropolisie in Durban, Parboo Sewpersad, het aan die SAUK gesê hy het nog nooit so iets beleef nie.

Inwoners van die provinsie het verskeie foto’s en videomateriaal van die vloedskade op sosiale media gedeel.

In Verulam noord van Durban is ’n familie van sewe gered toe hulle huis oorstroom het. Die woordvoerder van Medi Response, Paul Herbst, sê hulle is vir hipotermie behandel. Hy sê hulle is in die vroeë oggendure uit die huis gered toe die watervlak dakhoogte bereik het. Vyf volwassenes, twee kinders en twee honde is na veiligheid gebring.

In Umdloti het ’n verkeersirkel heeltemal weggespoel en ’n yslike gat in die grond gelaat.

Mxolisi Kaunda, burgemeester van eThekwini, het die media Dinsdag ingelig oor oorstromings in Durban, een van die gebiede wat die meeste deur die strawwe weerstoestande geraak is.

Volgens voorlopige data van die Suid-Afrikaanse Weerdiens het daar Maandag (11 April)  meer as 200 mm reën by Mbazwana (in die noorde van KwaZulu-Natal sowat 100 km suid van die Mosambiekse grens) geval. Die 206,4 mm reën wat by die Mbazwana-vliegveld-stasie gemeet is, het die vorige rekord van 62,6 mm wat op sy boeke was, meer as drie keer oortref.

Die joernalis Thabiso Goba van The Witness het videomateriaal op Twitter geplaas van twee petroltenkwaens wat op die Blue Lagoon-strand uitgespoel het. Ooggetuies sê die vragmotors was naby die Umgeni-rivier geparkeer toe hulle in die water ingesleep is en van hul sleepwaens geskei is. Sosiale-media-gebruikers was verstom toe beeldmateriaal van ’n tenkwa wat in die see dryf, op platforms gedeel is.

The Witness berig dat 24 blinde mense gestrand gelaat is nadat die Jep Home for the Blind in Durban Dinsdag oorstroom is.

Die Jep Home het groot strukturele skade opgedoen nadat ’n nabygeleë keerwal ineengestort het, wat tot aansienlike modderstortings en oorstromings gelei het. Tracy Biggar-Botes, wat die huis bestuur, het aan die koerant gesê hulle was al van 01:00 op om skoon te maak. ’n Groot vloed riool het ook in die huis ingestroom.

Bote moes gebruik word om werkers te red wat in skouerhoogtewater in Isipingo, suidwes van Durban, vasgekeer was.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top