Talle koalisies kom na reusewegblystem

  • 0
Die stempersentasie was die laagste sedert die land in 1994 na die stembus is. Die meeste politieke kommentators is dit eens dat dit geen goeie teken is nie, omdat dit dui op ’n moontlike tendens dat kiesers besig is om hulle vertroue te verloor in die demokratiese stelsel om verandering te bewerkstellig.

Politieke partye is besig om oor en weer na mekaar te vry in die nasleep van die afgelope week se munisipale verkiesing wat deur ’n reusewegblystem gekenmerk is.

In talle munisipaliteite kon nie een van die partye ’n volstrekte meerderheid behaal nie en in drie of selfs vier van die agt metro’s wink daar ook moontlike koalisieregerings.

Die Suid-Afrikaanse politieke landskap het die afgelope week drasties verander en ’n nuwe era binnegegaan waar koalisiepolitiek aan die orde van die dag sal wees. Dit volg nadat die ANC vir die eerste keer sedert 1994 nie daarin kon slaag om landwyd en in talle munisipaliteite meer as 50 persent van die stemme te trek nie.

Die land se twee grootste partye, die ANC en die DA, het albei steun verloor, maar dit was die ANC wat die meeste gebloei het.

Die WNNR se voorspelling dat die ANC in vergelyking met die 2016-plaaslikeregeringsverkiesing in verskeie munisipaliteite landwyd sou steun verloor, van 54,5% in die vorige verkiesing na ongeveer 46,6% vanjaar, blyk in die kol te wees.

Met feitlik al die stemme reeds getel, het dit Woensdag geblyk dat die ANC veral in die metro’s baie steun afgestaan het aan kleiner partye, maar veral deur die wegblystem gepootjie is.

Teen Woensdag was die aanduidings dat die getal kleiner munisipaliteite wat deur koalisieregerings bestuur sal word, kan verdubbel in vergelyking met voorheen – tot soveel as in die omgewing van 40 – waar nie een van die groot partye meer alleen die septer sal swaai nie.

Kort voordat die finale uitslag aangekondig is, was dit feitlik ’n uitgemaakte saak dat Johannesburg en Tshwane beslis deur ’n koalisie regeer sal word, en moontlik ook Nelson Mandelabaai. Selfs in Mangaung, Ekurhuleni en eThekwini het die ANC se steun so skerp gedaal dat moontlike koalisieregerings in daardie metro’s nie buite rekening gelaat kon word voordat die finale uitslag bekend gemaak is nie.

Die enigste van die agt metro’s wat die ANC gemaklik met ’n volstrekte meerderheid behou het, was Buffalo City in die Oos-Kaap, waar die party ver gewen het.

Die DA het sy kroonjuweel in die Wes-Kaap naamlik Stad Kaapstad, maklik behou. Die ANC het behoorlik bloedneus gekry in die Moederstad. Ondanks die feit dat die DA ook stemme afgestaan het aan kleiner partye, kon die ANC skaars 14% van die stemme in Kaapstad se metropool op hom verenig.

In uMngeni in KwaZulu-Natal het die DA verras toe die party sy heel eerste munisipaliteit in die provinsie ingepalm het met ’n bloedjong burgemeesterskandidaat, die 30-jarige Chris Pappas, wat vlot Zoeloe praat.

Die landwye swaai weg van die groter partye plaas kleiner partye soos die EFF, die VF Plus, GOOD, die nuutgestigte ActionSA en ’n paar ander in ’n sterk posisie om die rol van koningmaker te speel om te besluit wie uiteindelik die septer gaan swaai in daardie stadsrade waar geen volstrekte meerderheid behaal kon word nie.

Dit was veral Herman Mashaba se ActionSA wat buitengewoon goed gevaar het in die metro’s waar hulle kandidate gestel het. Mashaba het sy kaarte teen die bors gespeel en wou nie sê met watter partye hy graag in ’n koalisie sal tree nie. Hy het wel gesê dit sal nie met die ANC wees nie.

Die WNNR-woordvoerder, Jeffery Baloyi, se voorspelling dat die DA se steun nasionaal sou daal van 27% tot 22,8%, was ook in die kol. Die grootste wenners was kleiner partye wat stemme van sowel die ANC as die DA afgerokkel het.

As mens egter die koppe van die land se stemgeregtigde kiesers tel, was die wegblystem die wenner in vanjaar se plaaslike verkiesing. Die stempersentasie was die laagste sedert die land in 1994 na die stembus is. Die meeste politieke kommentators is dit eens dat dit geen goeie teken is nie, omdat dit dui op ’n moontlike tendens dat kiesers besig is om hulle vertroue te verloor in die demokratiese stelsel om verandering te bewerkstellig.

  • 0
Top