Talle vrae na bekroonde joernalis vals nuus versprei

  • 0

Daar is steeds meer vrae as antwoorde nadat een van die land se top ondersoekende joernaliste die afgelope week erken het dat hy vals nuus die wêreld ingestuur het. Hy het onder andere beweer die polisie het R1 000 kontant by hom gesteel en hom onregmatig in hegtenis geneem na ’n voorval by ’n bekende restaurant in Kaapstad.

Die joernalis is die bekroonde joernalis Jacques Pauw, die skrywer van die blitsverkoper The President's keepers, waarin talle van oudpresident Jacob Zuma se beweerde korrupsiedade oopgevlek word.

Die voorval, wat die reeds beleërde media opnuut in ’n geloofwaardigheidskrisis gedompel het, spruit uit ’n rubriek wat Pauw in verlede week se aanlyn koerant Daily Maverick geskryf het.

Dit was na aanleiding van ’n kuier by ’n bekende restaurant by die Kaapse Waterfront. Die voorval wat hom oornag in ’n vuil polisiesel laat beland het, het ontstaan toe hy sy rekening van sowat R1 600 wou betaal, maar die transaksie nie wou deurgaan nie.

In die omstrede opiniestuk wat hom nou in ’n ernstige verleentheid laat beland het, beweer Pauw die polisie het hom onregmatig gearresteer en van diefstal beskuldig toe hy op pad was na ’n ATM om geld te trek sodat hy sy restaurantrekening kontant kon betaal.

Sy ondersteuners het aanvanklik in groot getalle daarop reageer op sosiale media en saam met hom uitgevaar teen die restaurant en die polisie wat na bewering sy geld gesteel het nadat hulle hom toegesluit het.

Enkele dae na die rubriek se verskyning en Pauw se eerste hofverskyning het hy ’n onverwagse ommekeer gemaak en sy storie drasties verander. In ’n verklaring op Twitter het hy erken die rubriek was vol foute en dat hy onder die invloed van drank was toe die voorval plaasgevind het. Hy het ook erken dat die polisie nie enige geld van hom gesteel het nie.

Kollegas en ondersteuners van Pauw was geskok oor die voorval en het uiteenlopend daarop reageer. Sommige het hom geprys omdat hy erken het hy was onder die invloed van drank en omdat hy aan al die betrokkenes verskoning gevra het vir sy gedrag.

Almal was egter nie so vergewensgesind nie. ’n Groot aantal mense meen hy het sy eie reputasie, asook dié van die koerant waarin sy rubriek verskyn het, onherstelbare skade berokken. Die redakteur van Daily Maverick, Branco Brcik, het namens die koerant verskoning gevra vir die vals nuus en die koerant se verbintenis met Pauw verbreek.

Van die vrae wat opduik, is hoe dit moontlik is dat ’n topjoernalis soos Pauw, wat hom al dikwels skerp uitgelaat het teen kollegas wat vals nuus versprei, in dieselfde strik as hulle getrap het.

Kort na die verskyning van die omstrede boek The lost boys of Bird Island het Pauw byvoorbeeld sterk uitgevaar teen van sy kollegas wat betrokke was by die verskyning van die  boek. Die boek moes later deur die uitgewer van die mark onttrek word omdat dit vol vals nuus was.

....

Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020) mbt The lost boys of Bird Island

Verklarings van Media24:

Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke "The Lost Boys of Bird Island" en "Die Seuns van Bird Island" asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.

....

In sy verskoning oor die voorval op Twitter sê Pauw hy het die rubriek geskryf omdat hy emosioneel, kwaad en verneder was oor die hele voorval wat tot sy inhegtenisname gelei het. Hy erken ook dat hy onder die invloed van drank was en hom swak gedra het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top