Talle vrae oor omstrede Birds Island

  • 0

....

Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020):

Verklarings van Media24:

Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke "The Lost Boys of Bird Island" en "Die Seuns van Bird Island" asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.

....

Die skrywers van die omstrede boek Die seuns van Birds Island waarin voormalige ministers uit die apartheidsera daarvan beskuldig word dat hulle pedofiele was wat seuns op die afgeleë eiland seksueel aangerand het, hou vol dat die bewerings waar is ten spyte van ’n stortvloed negatiewe kommentaar op sosiale media.

Een van die medeskrywers van die boek, Chris Steyn, het op haar Facebook-blad dankie gesê vir “nuwe leidrade” wat na vore gekom het sedert die boek se verskyning. “Ek wil net elke dapper persoon bedank wat na vore gekom het met inligting na die publikasie van Die seuns van Birds Island.”

Steyn sê sy wens daar was ’n “cold case squad” wat onmiddellik kon voortgaan met die ondersoek. “Wees asseblief geduldig. Ek is besig om die leidrade so vinnig moontlik op te volg. Wees asseblief geduldig met my en moenie ophou om dit wat jy weet te deel nie,” het sy op Facebook geskryf.

Steyn het ook aan die joernalis Murray La Vita van Netwerk24 gesê niemand gaan haar afskrik met enige regsaksie nie en sy sal die geleentheid verwelkom om nuwe inligting aan die hof voor te lê. Sy sê die reaksie op die boek was tot dusver oorwegend positief en sy steur haar nie aan die negatiewe reaksies op sosiale media nie.

Talle Suid-Afrikaners het woedend reageer oor die beskuldigings dat oud-minister Malan by kindermolestering betrokke was. Hulle sê die bewerings is belaglik en sonder enige substansie.

“Ek staan heeltemal neutraal maar kan nie die geweldige beskerming van die bronne; die totale onvermoë om enige ‘slagoffer’ op te spoor ten spyte van hospitaalrekords byvoorbeeld verstaan nie. Dat daar niemand in die bruin gemeenskap in Port Elizabeth is wat hierdie bewerings kon of wou staaf nie, is nog meer vreemd. As hulle dan nie bang vir hofsake is nie, hoekom noem hulle nie die oorlewende verdagte nie? Dit is ook uiters vreemde joernalistiek dat die een verdagte wat nog leef nooit genader is vir kommentaar nie, veral waar die bewerings sy reputasie kan vernietig en Magnus Malan wel gekonfronteer is? Dalk kry hy ’n Damaskus-ervaring en kom uit met die hele sak patats. Dat Magnus Malan kwaad sou word kan eerder woede oor ’n vals verklaring as ’n skuldige gewete wees. En waarom 30 jaar wag?” lui een van die reaksies wat baie mense se gevoel oor die saak weerspieël.

Foto: Facebook

Baie mense meen daar steek dalk waarheid in van die bewerings, maar wil weet waarom daar so lank gewag is en hoekom is die enigste oorblywende minister nie by die naam genoem nie.

Steyn het aan La Vita gesê die oorlewende minister is nie gekontak nie omdat hy nie geïdentifiseer word nie, maar sy sal graag met hom gesels. Verskeie mense na aan oud-minister Magnus Malan het die aantygings in die boek ten sterkste verwerp en sê mense wat generaal Malan persoonlik geken het, is woedend.

Intussen gons dit behoorlik onder joernaliste wat in die tagtigerjare met die politici van destyds te doen gehad het oor die bewerings in die boek. Verskeie joernaliste wat destyds by koerante gewerk het, sê hulle was bewus van sekere gerugte in die verband maar dat die besonderhede in die boek te vaag is om te oordeel hoe waar dit is.

Een van die joernaliste wat destyds by ’n Sondagkoerant gewerk het en verkies om voorlopig anoniem te bly, sê hulle wou al die storie in die laat 80’s publiseer, maar dit is die Saterdagaand op die nippertjie uitgehaal. “In daardie stadium was daar sprake van selfmoorde oor Vigs weens bedrywighede op daai voël-eiland.”

Colin Hoffmann wie se oorlede pa, Kit Hoffmann, ’n gerespekteerde joernalis was, het gesê sy pa was warm op die spoor van die Wiley-“selfmoord” en Birds Island het ook ter sprake gekom. “Duistere verlede waarvan daar gepraat en oor bespiegel word. Ek het nog nie die boek gelees nie, maar Kit was ook destyds aan die werk oor die Robert Smith-moorde. Hy sou nooit daaroor gepraat het voordat hy heeltemal seker was van sy feite nie.”

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top