Taste of Belgium – ’n besoek

  • 0

Op Saterdag 16 November 2019 is die Taste of Belgium-fees by die voormalige tuiste van die Belgiese ambassadeur in Nuweland, Kaapstad, gehou. Dit was die agtste fees in vyf jaar en die fees sal voortaan jaarliks plaasvind.

Die fees is deur die Belgische Kamer van Koophandel georganiseer en deur die Koninkryk van België en SAB-InBev geborg. Toegang tot die fees was gratis en elke feesganger is met ’n lootjie verwelkom.

Welkom in België! Die fees is op die voormalige woning van die Belgiese ambassade gehou. Jy was dus op Belgiese grond.

“Jy kan ’n glas bier wen,” verwelkom Jeff Jorges, een van die vrywilligers wat die fees help reël het, die feesgangers in Afrikaans, Engels, Duits of Frans.

Volgens Simon van Laar, feesdirekteur, is die fees begin om die kwaliteit van Belgiese produkte én produsente aan Suid-Afrikaners bekend te stel. “Ons was aanvanklik deel van ander feeste, maar het later besluit om ’n onafhanklike fees te organiseer. Ons wou veral Belgiese produsente in Suid-Afrika ondersteun en bemark.”

Jeff Jorges (links) en Simon van Laar (regs) verwelkom feesgangers by die hek.

Belgiese kos en kuns is tydens die fees uitgestal, en Belgica Club het ook ’n vlooimark gehou. Daar was ’n springkasteel en kindergimnasium vir die kleintjies, en feesgangers het met hul troeteldiere opgedaag om die dag te geniet.

“Daar is ’n groot bevolking Belge in die Wes-Kaap; ongeveer 2 500. Ons wil hulle bewus maak van en betrokke kry by ander Belgiese geleenthede wat deur die jaar plaasvind. Ons generasie wil ook oop wees en ’n bilaterale verhouding met Suid-Afrikaners begin,” het Simon verduidelik.

Daar was pragtige kunswerke beskikbaar.

Laura van den Broucke is ’n Belg wat tans in Suid-Afrika op vakansie is. Hulle het familie hier wat die fees wou bywoon, en het saam met die familie gekom. “Ons vlieg Maandag terug na België, maar die familie wou die fees bywoon. Dis baie interessant en anders as in België.”

“Ek het spesifiek vir die Belgiese wafels gekom – dis my gunsteling,” sê Rosanna Turner. Sy het een keer, ongeveer veertig jaar gelede, na België gereis, maar sy geniet steeds die kos.

Kos was die groot treffer en feesgangers het in lang rye gewag vir bitterballen, yslollies, Belgiese tjips, sjokolade en kriekentaart.

Die geleentheid is deur die sosiale media en op plakkate in Nuweland bemark. Een van die inwoners, Ingrid Moira, het die plakkate langs haar werksroete gesien en was opgewonde om die fees by te woon. “Ek is mal oor Belgiese kos, en my man wou natuurlik die bier kom geniet,” vertel sy laggend.

Welkom in België!

Die Belge is trots op hul bier – met rede. Hulle beskou bier as kuns.

Bitterballen, krokette en lekker tjips

België met die eerste oogopslag. Die Belgiese Konsulaat het hul pragtige land bekendgestel.

Belgiese sjokolade

Wag vir heerlike kos

Kriekentaart is ’n kersietert wat aanvanklik van suur kersies gemaak is.

Dit laat my sommer nostalgies voel: ’n gemmerbroodhuis gereed vir Kersfees.

’n Kunswerk van ’n vlieënde vrou

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top