Taverne-slagtings die gevolg van wettelose samelewing

  • 0

Die taverneslagtings die afgelope naweek waarin talle mense dood en verskeie beseer is, dui op diepliggende probleme in die polisie en ernstige gebreke in die strafregstelsel.

So sê die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, in sy reaksie op die tavernebloedbad wat die land geskud het.

Groenewald is een van verskeie politieke en gemeenskapsleiers wat sy skok uitgespreek het oor die gebeure waartydens daar tot dusver altesaam 22 persone in drie verskillende tavernes dood en 22 beseer is, van wie etlike in ’n kritieke toestand is.

Dit blyk dat onwettige vuurwapens soos AK-47-aanvalsgewere in die skietvoorvalle gebruik is. Private persone mag nie sulke vuurwapens besit nie en Groenewald sê dit wys dat die polisie beheer verloor oor die voorkoming van onwettige vuurwapenbesit in Suid-Afrika. Hy sê aan die een kant probeer die regering wetsgehoorsame burgers ontwapen, terwyl misdadigers duidelik nie sukkel om onwettige wapens en ammunisie te bekom nie.

Ian Cameron van Action Society, wat verlede week in ’n bekgeveg met die minister van polisie, Bheki Cele, betrokke geraak het, sê Cele en die regering sal waarskynlik die Soweto-skietery misbruik om wettig gewapende burgers te probeer ontwapen. Dit ten spyte daarvan dat die SAPD in die afgelope 10–15 jaar meer as 30 000 vuurwapens verloor het, het Cameron op Twitter gesê. “In 2019 het die minister erken die polisie het 10 miljoen patrone in die vorige jare verloor. In 2018 het daar 500 000 patrone in ’n jaar ontbreek.”

President Cyril Ramaphosa het ook sy meegevoel betuig met die naasbestaandes van die 15 mense in ’n Soweto-taverne en die moord op vier mense onder soortgelyke omstandighede in Pietermaritzburg.

Ramaphosa het in ’n verklaring gesê: “As ’n nasie kan ons nie toelaat dat gewelddadige misdadigers ons op hierdie manier terroriseer nie, ongeag waar sulke voorvalle mag voorkom.”

Die DA se Gauteng-leier, Solly Msimanga, het in sy reaksie gesê Gauteng word ’n al hoe meer wettelose samelewing, en baie onskuldige lewens is al verloor weens ’n gebrek aan politieke leierskap om te verseker dat die wetstoepassingsagentskappe hul mandaat uitvoer om misdaad te voorkom en inwoners se veiligheid te verseker.

Hy sê in ’n verklaring die taverneskietvoorvalle het onnodig angs geskep oor die vermoë van die SAPD om sakeveiligheid te verseker deur sigbare polisiëring, met mense wat nou bang is om tavernes te besoek, en hierdie besighede loop die risiko om hul klantebasis te verloor.

Soos baie klein besighede wat in townships bedrywig is, speel tavernes ’n kritieke rol in die ekonomie en skep plaaslike werksgeleenthede, wat hul veiligheid selfs meer kritiek maak vir die ekonomiese stabiliteit van hierdie gemeenskappe.

Die DA eis dat die Gautengse LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, en die Gautengse SAPD se provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Elias Mawela, onmiddellik met die taverneverenigings en die Gautengse Drankraad moet skakel om die oorsaak van hierdie gewelddadige voorvalle vas te stel. “Hulle moet ook ’n misdaadvoorkomingstrategie implementeer om die veiligheid van tavernes regoor die provinsie te verseker.”

Pieter Groenewald sê in sy verklaring die gebreke in Suid-Afrika se strafregstelsel word onderstreep deur die feit dat ’n misdadiger se kans om met misdaad weg te kom, sowat 80% is.

Hy sê misdadigers vrees nie meer die polisie nie en hulle word nie afgeskrik deur ontoereikende strawwe sou hulle wel voor ’n hof gebring word nie.

Die land se stygende misdaadsyfers wys lank reeds hierdie gebreke in die stelsel uit.

“Dit plaas ook die optrede van Bheki Cele, die minister van polisie, in perspektief wat sy humeur verloor wanneer hy oor die misdaadprobleem in die land gekonfronteer word. Die tyd het aangebreek dat daar opgetree word om gewone landsburgers teen misdaad te beskerm. ’n Goeie vertrekpunt sou wees om Cele te vervang met ’n bekwame persoon wat erns het met die veiligheid van die publiek,” het Groenewald gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top