Tembisa-hospitaalskandaal: Woede groei oor R2 miljard-plundering

  • 0

Die Tembisa-hospitaalskandaal het ’n nuwe golf van openbare en institusionele woede ontketen nadat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) sy tussentydse verslag Maandag (29 September 2025) vrygestel het.

Die druk van beide politieke en burgerlike groepe neem toe, en die publiek wag nou op die finale SOE-verslag en die eerste formele aanklagte.

Die tussentydse verslag openbaar ’n verwoestende netwerk van beweerde korrupsie, wanadministrasie en bedrog by die Gautengse hospitaal, waar meer as R2 miljard aan fondse na bewering geplunder is deur drie georganiseerde sindikate. Hierdie fondse, wat bedoel was vir noodsaaklike gesondheidsorg, is volgens bewerings bestee aan luukse items soos Lamborghini's en eiendomme in eksklusiewe gebiede, selfs alledaagse aankope soos klere en bevrore hoender.

Die saak het ’n nasionale debat ontketen oor staatskaping, die beskerming van fluitjieblasers en die dringendheid van hervorming in openbare gesondheidsinstellings.

Die ondersoek, wat in 2021 begin het na die moord op fluitjieblaser Babita Deokaran, beklemtoon hoe die plundering die hospitaal se vermoë om pasiënte te bedien ondermyn het. Dit is in ’n instansie wat reeds sukkel met oorvol sale en ontoereikende hulpbronne.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het kommer uitgespreek oor die vertragings in die finale SOE-verslag. Hulle dring aan op vinnige en deursigtige optrede om die skuldiges aanspreeklik te hou en die gesteelde geld terug te kry.

Outa sê in ’n verklaring: “Die vraag wat ons moet vra, is hoeveel pasiënte gesterf het of onbekwaam geraak het as gevolg van ’n gebrek aan dienste, ’n gebrek aan toerusting of hospitaalpersoneel se onverskilligheid, en as gevolg van hierdie gesteelde fondse?”

Volgens Outa is dit noodsaaklik dat ’n volledige oudit van al 37 Gautengse hospitale uitgevoer word, om te soek vir soortgelyke gedrag wat moontlik ook hierdie entiteite kon binnegedring het as gevolg van die feit dat die provinsiale regering se Departement van Gesondheid so agtelosig was in hul toesigpligte en verantwoordelikhede.

Ook politieke partye het skerp gereageer, met die DA aan die voorpunt. DA-woordvoerder oor justisie, Glynnis Breytenbach, sê in ’n verklaring daar mag geen vertragings meer wees nie en het ’n oproep gedoen vir onmiddellike ondersoek deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

“Geregtigheid hang af van die SAPD en NVG om die meesterbreine agter die plundering en Deokaran se moord te vervolg,” het sy gesê. Die DA beklemtoon dat alle betrokke partye, insluitend hoëvlakfigure, aanspreeklik gehou moet word, en waarsku teen ’n “toesmeerdery” waar slegs laergraadmisdadigers gestraf word.

Breytenbach sê dit is ’n gruweldaad dat die SAPD en NVG sinoniem geword het met vertraagde ondersoeke en mislukte vervolgings. Sy sê die verslag van die SOE is net soveel werd as die papier waarop dit geskryf is, sou die SAPD en NVG nie hulle deel doen om diegene wat na bewering verantwoordelik is, voor die gereg te bring nie.

Die EFF het die skandaal as ’n bewys van ’n “kriminele alliansie” tussen politici, senior amptenare en sindikate beskryf, een wat die ineenstorting van openbaregesondheidsinfrastruktuur veroorsaak. EFF-lid Mbuyiseni Ndlozi het op X gesê hy twyfel of Tembisa ’n geïsoleerde geval is en gevra vir die blootlegging van politici wat baat gevind het. “Dit is moontlik dat baie openbare hospitale vir jare ’n kontantkoei was vir sindikate wat aan politici gekoppel was,” het hy gesê. Hy het ook die wreedheid van diefstal van die siekes en armes veroordeel.

ActionSA het ’n formele versoek ingedien dat die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, aanspreeklik gehou word vir die vertraging in die bekendmaking van die verslag. Hulle beweer dat politieke inmenging die proses vertraag.

Corruption Watch het ’n beroep gedoen op die NVG om vinnig op te tree en die skuldiges te vervolg. Hulle beklemtoon dat die saak ’n toets is vir die regering se verbintenis tot deursigtigheid en aanspreeklikheid.

Die organisasie wou vroeër by gewone Suid-Afrikaners weet hoe hulle oor flutjieblasers dink, en wou weet watter idees by hulle aangewakker word sodra hulle die woord hoor.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top