Suid-Afrikaners is ontstoke oor die wyse waarop Jacob Zuma en die veroordeelde misdadiger Schabir Shaik, wat albei op vroeë parool uit die tronk gelaat is weens sogenaamde ernstige terminale siektes, verlede Vrydagaand by die opening van ’n nuwe restaurant gekuier het asof hulle niks makeer nie.
Zuma was die eregas tydens die opening van Zuma Restaurant in Umhlanga naby Durban.
Daar is gesien hoe Zuma lekker saam met sy dogter Duduzile Zuma-Sambudla kuier. Hy was duidelik onaangeraak deur die Hooggeregshof se besluit om sy mediese parool tersyde te stel.
Zuma se dogter, wat bekend is vir haar uitlokkende boodskappe op Twitter, het verder olie op die vuur gegooi met haar gespog oor Zuma en Shaik se aand van jolyt.
“Die media het gedink hulle sal mekaar op die gholfbaan ontmoet, maar hulle het by Zuma Restaurant ontmoet,” het sy leedvermakerig op Twitter geskryf met verskeie foto’s van ’n dansende, laggende Zuma en Shaik.
The Media Thought They Would Meet On The Golf Course But They Met At Zuma Restaurant
(Now You Know I Had To Give The Haters Chest Pains...) pic.twitter.com/fHUBr0s86U
— Dudu Zuma-Sambudla (@DZumaSambudla) November 25, 2022
Zuma en die Departement van Korrektiewe dienste het in Desember verlede jaar appèl aangeteken teen die Hooggeregshof se uitspraak dat sy vrylating op parool onwettig was.
Zuma is deur die Konstitusionele Hof tronkstraf van 15 maande opgelê vir minagting nadat hy geweier het om verder voor die Zondo-kommissie te getuig.
Die appèl het egter misluk en die hof het gelas dat Zuma moet teruggaan tronk toe. Dit lyk egter nie of dit hom veel skeel nie en die meeste kommentators meen dit is onwaarskynlik dat hy ooit weer die binnekant van ’n tronk sal sien.
Die DA skaduminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, Glynnis Breytenbach, het Maandag in ’n verklaring uitgevaar teen wat die party bestempel as ’n gedans oral op die oppergesag van die reg.
It is clear that Zuma and Shaik were never legitimately ill enough to be granted medical parole. By appearing in public as supposed VIPs, they are demonstrating the contempt with which they hold the public.
This is why Jacob Zuma must go back behind bars!https://t.co/9yAcxBepVj
— Democratic Alliance (@Our_DA) November 28, 2022
In sosialemediaplasings wat die afgelope naweek soos ’n veldbrand versprei het, kan gesien word hoe Zuma en Shaik hul danspassies wys, met Zuma wat ook die lint knip om die nuwe restaurant amptelik te open.
Albei van hulle was BBP-gaste van die restauranteienaar, David Manal, wat hulle gulhartig verwelkom het met sy kontemporêre Mediterreens-Asiatiese kookkuns, met geregte soos soesji, robatastylgeregte, seekos en braaigeregte.
Zuma se gesondheid het oënskynlik handomkeer verbeter net twee maande ná sy vonnis van 15 maande. Schabir Shaik is in 2009 op mediese parool vrygelaat, net twee jaar na sy vonnis van 15 jaar, omdat hy na bewering terminaal siek was.
Breytenbach sê dit het al hoe duideliker geword dat die besluite om Zuma en Shaik op mediese parool vry te laat, polities gemotiveer was en daardeur ’n bespotting van die paroolstelsel gemaak het.
“Die optrede van Zuma en Shaik toon ’n skaamtelose en flagrante miskenning van die oppergesag van die reg en ons grondwetlike demokrasie. Deur hierdie geleentheid by te woon, het Zuma en Shaik hul oortuiging getoon dat hulle bo die wet en alle aanspreeklikheidsmeganismes verhewe is,” sê Breytenbach.
Sy sê dit is duidelik dat Zuma en Shaik nooit wettiglik siek genoeg was om mediese parool te regverdig nie. “Zuma en Shaik se verskyning in die openbaar as vermeende BBP's demonstreer die minagting waarmee hulle die gewone publiek bejeën.”
Die DA sê hulle sal nie toelaat dat hierdie onreg voortduur nie. Die party het sy eie hofaksie van stapel gestuur om te probeer verseker dat Zuma terugkeer tronk toe om sy vonnis te voltooi. Die DA sê hul hersiening van Zuma se mediese parool het reeds sukses behaal. Die Hoogste Hof van Appèl het die besluit van Arthur Fraser om Zuma op mediese parool vry te laat, tersyde gestel.
Volgens Breytenbach is dit duidelik dat Zuma onverwyld moet terugkeer tronk toe, en sy sê ’n hersiening van Shaik se parool moet ook oorweeg word.
“Die era van straffeloosheid vir Zuma en sy makkers is verby. Die DA sal verseker dat Zuma terugkeer tronk toe en die res van sy vonnis uitdien,” het sy gesê.