Terwyl Internasionale Vrouedag gevier word, word vroue steeds hul vryheid ontneem

  • 0

In die aanloop tot die viering van Internasionale Vrouedag die afgelope Vrydag was die behandeling van vroue in die Suid-Afrikaanse samelewing opnuut onder die loep.

Dit het begin by ’n selfoonvideo van sowat ’n minuut en ’n half lank wat die onderwerp van “threads” op sosiale media, inbelprogramme op radio en in berigte veral in poniekoerante was.

Die video, wat regstreeks op Instagram vertoon is, wys ’n vrou en ’n man. Dis slapenstyd. Jy sien ’n bed, asof iemand gereed gemaak het om in te klim. Twee mense praat: die vrou se stem is meer hoorbaar, die man s’n minder. Haar spraak klink aangetas. Straks verduidelik sy iets aan hom: waar sy nou vandaan kom, waar sy was, saam met wie; dit kom voor asof hy nie tevrede is met haar verduideliking nie. Dan beweeg sy in die selfoonkamera se visier, hy volg haar. Sy is geklee in ’n sweetpak, haar kurwes sigbaar; hy dra ’n slaapbroekie, kaal bolyf, prominente pens.

Die volgende oomblik klap die man na die vrou en sy skreeu. Dit eindig waar sy voor die kamera inbeweeg, haar rug na die lens, die handelsmerk van ’n sportdragmaatskappy duidelik.

Die rolspelers is twee vermaaklikheidsterre.

Die vrou, Bongekile Simelane, is bekend as die Gqom-sangeres Babes Wodumo; ook as ’n danser wat nie skroom om op die verhoog van haar onderklere ontslae te raak nie. ’n Onlangse hoogtepunt in haar loopbaan was haar verskyning in die liedjie “Redemption” op die album met die klankbaan van die baanbrekerfliek Black Panther. Die man, Mampintsha, is ook ’n bekende musikant – en volgens kommentare op sosiale media te oud om die vrou se kêrel te wees.

Nadat hy in die hof verskyn het op ’n aanklag van aanranding en op borgtog van R2 000 vrygelaat is, vertel die man buite die hof hoedat die vrou hom getart het, hoedat sy dikwels self eerste handgemeen raak. Die vrou se familie hou ’n mediakonferensie en sê by monde van haar pa hoe teleurgesteld hulle is met die gebeure, hoe kosbaar sy vir hulle is, hoe dankbaar hulle is vir die ondersteuning wat sy geniet.

Terselfdertyd word daar gesê die vrou gebruik dwelms en tree gereeld gewelddadig teenoor haar dansers en ander op. ’n Ander vrou beskuldig haar daarvan dat sy haar vroeër aangerand het. Dit alles het die tonge los.

Die week tevore het die African National Congress (ANC) aangekondig dat sy twee woordvoerders, Zizi Kodwa en Pule Mabe, tydelik (en vrywilliglik) uit hul poste tree ná beide by klagte van seksuele mishandeling betrek is.

Mabe was eerste in die beskuldigdebank. Hy sou ’n assistent, wat hy sonder die nodige kwalifikasies aangestel het, glo seksueel geteister het. Maar ’n interne ondersoek het hom van alle blaam kwytgeskeld, en ’n alternatiewe pos sou by die regerende party se hoofkwartier vir die vrou gevind word. Kodwa se vermeende oortreder het op die hakke van die Mabe-sage gevolg: hý sou ’n vrou bedwelm en toe verkrag het; klagte wat hy ontken en toegeskryf het aan politieke binnegevegte in die party.

Sonder om hom onskuldig te verklaar, is dit ’n teorie wat politieke waarnemers nie verbaas sou laat nie – Cyril Ramaphosa het die leierskapverkiesing in sy party met minder as 200 stemme gewen en die skadu van sy voorganger, Jacob Zuma, hang sedertdien nog swaar oor hom en sy eenheidsprojek. Kodwa word as ’n Ramaphosa-man beskou, Mabe as ’n Zuma-man. Wat boonop vreemd aangedoen het, was dat die beskuldiging van verkragting teen Kodwa – ’n oortreding wat tot lewenslange tronkstraf kan lei – nie by die polisie nie, maar by die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, ’n Zuma-lojalis, ingedien is.

In ’n mediaverklaring oor die twee woordvoerders se opsystanery het die ANC hulle geprys oor dié stap en groot gewag gemaak van hoedat die party nou ’n eie beleid oor seksuele teistering in die werkplek sal opstel. Dit het mense wyd verbaas dat so ’n beleid nie bestaan nie; en ou voorvalle, soos die verkragtingsaak teen Zuma, waarop hy vrygespreek is, is opnuut opgehaal – bepaald oor die wyse waarop ook vroulike partylede hom destyds gesteun het, terwyl die beweerde slagoffer verguis is.

’n Voorval wat eweneens die wenkbroue laat lig het, was die aandrang binne die Democratic Alliance (DA), die amptelike opposisie, dat ’n bruin vrou die leierskap in KwaZulu-Natal moes oortuig dat sy wel bruin is en nie wit nie. Die rasionaal was dat indien sy wit is, haar kandidatuur vir 8 Mei se algemene verkiesing strydig sou wees met die party se strewe na groter rasverteenwoordiging. Maar dis ’n party wat kwansuis ’n beleid van “ope geleenthede” (ongeag ras of geslag) bevorder.

Ook die land se derde grootste party, die Economic Freedom Fighters (EFF), was in die nuus oor die behandeling van vroue. Jammerlik het die publiek al gewoond geraak aan die party se aanval op en belediging van spesifiek ook vroulike joernaliste, soos die Daily Maverick se Pauli van Wyk. Maar nou het die partyleier, Julius Malema, dit ’n uiters kommerwekkende stap verder geneem deur die selfoonnommer van ’n bekende joernalis en politieke kommentator, Karima Brown, openbaar te maak.

Die gevolg daarvan was onder meer dreigemente van EFF-ondersteuners dat sy verkrag gaan word – en dít in ’n land met so ’n hoë voorkoms van juis verkragting van (én moord op) vroue.

Wat was Brown se “oortreding”? Sy het per abuis ’n boodskap na ’n (verkeerde) WhatsApp-groep gestuur waarin sy vra wie die sogenaamde “elders”, of oues van dae, is wat die EFF kamstig konsulteer. Die party self, wat ses maande voor die 2014-verkiesing gestig is, het tog nie “elders” van sy eie nie, maar dalk beroep hulle hul op ontevrede ANC-veterane. Was die vraag deur Brown dan só erg – of het dit die party ongemaklik gelaat omdat dit ’n sensitiewe aar raakboor?

Nogtans is die viering van Internasionale Vrouedag deur rolspelers in Suid-Afrika, polities en andersins, as ’n geleentheid aangegryp om hul verbintenis tot vroueregte te kenne te gee. Dit is ’n boodskap wat jy ook hoor wanneer oor armoede gepraat word, ongelyke werksgeleenthede, en veral wanneer geweld ter sprake kom – in die besonder huishoudelike geweld en seksuele geweld teen vroue en jong meisies.

Helaas is dit ’n boodskap wat meeding om lugtyd met voorvalle soos dié waarna verwys is, insluitend die voorvalle van Babes Wodumo, Zizi Kodwa en Pule Mabe, Pauli van Wyk en Karima Brown.

Maar hoekom is dit belangrik dat vroue in Suid-Afrika beskerming en vryheid moet geniet? Die antwoord het ’n historiese vertrekpunt: Naas dat dit grondwetlik ’n vereiste is as deel van vroue se basiese menseregte, is dit die rol wat vroue gespeel het in die plaaslike bevrydingstryd. Dit was vroue wat in 1956 na die Uniegebou, die hoofregeringsetel in Pretoria, opgeruk het om teen die destydse paswette te protesteer. Vir ’n bietjie meer perspektief: dié optog het plaasgevind nog voordat Nelson Mandela en sy kamerade aan hoogverraad skuldig bevind is en op Robbeneiland aangehou is; dit was ook voor 1960 se Sharpeville-opstande en voor die 1976-betogings teen die gedwonge gebruik van Afrikaans by swart skole.

Maar terwyl vroue, 25 jaar ná die land se eerste demokratiese verkiesings, ook nou (politieke) vryheid geniet, is hulle in ’n aantal opsigte – in die gemeenskap, by die werk, tuis – steeds in maatskaplike gebondenheid vasgeketting.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top