In een van die ingrypendste optredes nóg teen finansiële wanbestuur in plaaslike regerings het die nasionale tesourie vandeesweek die toelae van 69 munisipaliteite landwyd tydelik teruggehou.
Die fondse, ter waarde van sowat R13,5 miljard, sal vrygestel word eers wanneer die betrokke rade kan bewys dat hulle hul finansies op ’n volhoubare grondslag bestuur.
Die besluit raak munisipaliteite in al nege provinsies, waaronder groot metropole soos Johannesburg, Nelson Mandelabaai en Mangaung. Volgens die tesourie is die stap ’n laaste uitweg nadat talle munisipaliteite versuim het om aan die vereistes van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) te voldoen.
Die ingryping volg nadat waarskuwingsbriewe teen die einde van Junie aan 99 munisipaliteite gestuur is. Dertig het voldoende op die tesourie se eise gereageer, maar 69 het nie daarin geslaag om geloofwaardige herstelplanne voor te lê nie.
Volgens die tesourie skuld die betrokke munisipaliteite gesamentlik meer as R27,4 miljard aan groot krediteure, waaronder Eskom, waterrade, pensioenfondse en ander verskaffers. Daarbenewens worstel baie rade steeds met enorme bedrae ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes, terwyl verskeie begrotings as onbefonds geklassifiseer is.
Die tesourie beklemtoon dat die fondse vrygestel sal word slegs wanneer munisipaliteite betalingsplanne indien wat deur hul krediteure gesteun word, hul begrotings regstel en kan aantoon dat hulle op ’n volhoubare finansiële pad is.
Hoewel die tesourie volhou dat die maatreël nie noodwendig dienslewering behoort te ontwrig nie, omdat munisipaliteite steeds hul eie inkomste uit eiendomsbelasting en diensheffings kan gebruik, waarsku kenners dat inwoners waarskynlik die eerste slagoffers sal wees indien kontantvloei verder verswak. Swakker instandhouding van infrastruktuur, onderbrekings in water- en elektrisiteitsdienste, en verdere agteruitgang van basiese munisipale dienste is van die moontlike gevolge.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het die tesourie se optrede sterk verwelkom. Die organisasie se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê in ’n verklaring Johannesburg se jongste beloftes om sy finansies reg te ruk, klink bekend.
“Die burgemeester het ’n padkaart uiteengesit wat op papier goed lyk, maar Johannesburg se inwoners hoor al jare dieselfde beloftes terwyl dienslewering agteruitgaan en die stad se finansiële posisie verder versleg,” het hy gesê.
Duvenage wys daarop dat burgemeester Dada Morero self deel was van die stadsadministrasie gedurende die tyd waarin baie van die huidige probleme ontstaan het. Volgens hom sal bloot nog geld nie die krisis oplos nie.
“Jy kan nie aanhou belowe dat dinge anders gaan wees terwyl dieselfde mense steeds in beheer bly nie,” sê hy. Outa dring daarop aan dat die tesourie nie die fondse moet vrystel voordat daar bewys is van werklike nakoming, beter skuldinvordering, streng uitgawebeheer en betekenisvolle optrede teen korrupsie nie.
Verskeie finansiële ontleders deel dié siening en meen die huidige krisis is die onvermydelike gevolg van jare se swak bestuur, politieke onstabiliteit, onvoldoende inkomste-invordering en ’n gebrek aan gevolgbestuur. Opposisiepartye voer aan dat talle munisipaliteite lank reeds bo hul vermoë leef terwyl infrastruktuur steeds verval.
Die ingryping plaas veral Johannesburg onder intense druk. As Suid-Afrika se ekonomiese spilpunt moet die stad nou bewys dat dit wel ’n hersiene begroting kan befonds en dat daar realistiese planne bestaan om sy skuld aan Eskom en Rand Water af te betaal.
Die breër prentjie is ewe kommerwekkend. Volgens onlangse syfers het Suid-Afrikaanse munisipaliteite sedert die 2021/2022-boekjaar meer as R145 miljard se onreëlmatige uitgawes opgehoop. Die South African Local Government Association (Salga) erken dat groter aanspreeklikheid noodsaaklik is, maar waarsku terselfdertyd dat byna twee derdes van die land se munisipaliteite reeds as finansieel in die moeilikheid (“distressed”) beskou word.
Unies en gemeenskapsgroepe is bekommerd oor die impak op werkers se salarisse en op basiese dienste. Intussen eis inwoners al jare lank beter dienslewering, terwyl swak bestuur, korrupsie en swak skuldinvordering voortduur.
Die tesourie het belowe dat fondse in fases vrygestel kan word sodra munisipaliteite konkrete vordering toon.
Kenners waarsku dat hierdie ingryping ’n toets is vir die hele plaaslikeregeringstelsel. Sonder diepgaande hervormings kan soortgelyke krisisse in die toekoms net meer algemeen word. Vir nou bly duisende inwoners in die duister oor wanneer – en of – hulle munisipaliteite die finansiële gemors sal kan opruim.
Lees en kyk ook:
Operasie 2026 Munisipale Verkiesing: Nasionale Tesourie gryp in om goeie bestuur aan te spoor
Wyngaard Weekliks: Die regte mense met die regte vaardigheid sal munisipaliteite regruk
-
Lokprent deur 3D Animation Production Company van Pixabay
