Thabo Mbeki kap in plofbare brief na die ANC

  • 0

Die voormalige president en ANC-leier Thabo Mbeki beskuldig die ANC in ’n striemende brief daarvan dat die hulle iets het om weg te steek ten opsigte van die Phala Phala-kwessie waarby Cyril Ramaphosa betrek word.

Volgens Mbeki lyk dit of die  ANC Ramaphosa ten alle koste wil beskerm.

Business Day en News24 het Donderdag kort na mekaar afsonderlik berig oor ’n uiters plofbare brief wat Mbeki glo aan die ANC se adjunkpresident, Paul Mashatile, geskryf het.

Dele van die brief is kort daarna ook wyd op sosiale media gedeel met skermgrepe daarvan.

In sy brief van 29 Maart vergelyk Mbeki die ANC se optrede met hulle optrede toe die party op die hoogtepunt van staatskaping teen verskeie mosies van wantroue in Jacob Zuma gestem het.

Dit is nie die eerste keer dat Mbeki sy ontevredenheid opper met die manier waarop die ANC onder Ramaphosa se leierskap optree nie.

In hierdie brief, wat uitgelek het skaars ’n dag nadat dit geskryf is, beskuldig Mbeki die ANC daarvan dat dit verkeerd was van hulle om die regerende party se meerderheid in die parlement te gebruik om te verhoed dat veelpartykomitees aangestel word om die valutaskandaal by Ramaphosa se Phala Phala-plaas en beweerde korrupsie by Eskom te ondersoek.

Die brief van 17 bladsye is ook aan Ramaphosa self sowel as aan Gwede Mantashe (ANC-voorsitter), Fikile Mbalula (sekretaris-generaal) Gwen Ramokgopa (tesourier) en die twee adjunk-sekretarisse-generaal van die organisasie gestuur.

Die oudpresident waarsku daarin dat die optrede van die ANC mense van die party sal vervreem.

Mbeki  sê die regerende party se optrede dui daarop dat die party iets het om weg te steek en wil nie hê die parlement moet uitvind wat dit is nie.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het verlede week in die parlement gevra vir die aanstelling van ad hoc-komitees om die kwessies te ondersoek.

Hy het gesê die waarheid is dat slegs ’n ad hoc-komitee met die magte wat ingevolge die parlementêre reëls verleen word, agter die kap van die byl kan kom “hoe daardie vuil dollars” wat in Ramaphosa se rusbank op Phala Phala versteek was, onwettig die land binnegekom het.

“Die waarheid oor Phala Phala sal uitkom, maak nie saak hoe hard die ANC probeer om die gety terug te hou nie. En ja, daar sal ’n dag van afrekening kom vir elke lid van hierdie huis om weer rekenskap te gee van wat jy gedoen het toe jou naam vandag genoem is. So, ek doen ’n beroep op u om hierdie mosie vandag te ondersteun,” het Steenhuisen verlede week in die parlement gesê toe hy gevra het vir die instelling van ’n ad hoc-komitee om die kwessie te ondersoek.

Die ANC het egter hulle parlementêre meerderheid gebruik om Steenhuisen se versoek af te stem.

Mbeki gee die DA in sy brief gelyk dat die parlement die saak moes ondersoek het. Hy beskuldig die ANC daarvan dat hy sy grondwetlike verpligtinge om toesig oor die uitvoerende gesag te verskaf, laat vaar het toe die koukus twee keer – in Desember 2022 en weer in Maart – DA-voorstelle verwerp het om ’n spesiale ad hoc-komitee saam te stel om bewerings te ondersoek wat verband hou met die diefstal van geld by Ramaphosa se plaas.

Die ANC se dwarsboming van die voorgestelde veelpartykomitee is teen die voorskrifte van die Grondwet, wat politieke partye verbied om hul meerderheid te gebruik om die nasionale vergadering te keer om toesig oor die uitvoerende gesag te hou, sê Mbeki.

Die verwerping is “vreemd” en “ontstellend”, het Mbeki gesê en bygevoeg dat die ANC sodoende ook meer tyd en ruimte vir korrupsie by Eskom toegelaat het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top