The land is ours: die wortels van grondbesit en grondonteiening lê diep

  • 0

Titel: The land is ours – South Africa’s first black lawyers and the birth of constitutionalism
Skrywer: Tembeka Ngcukaitobi
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776092857

Moenie hierdie boek sonder meer op sy baadjie takseer nie. Die titel, The land is ours, is in hierdie dae van baie warm lug oor grondbesit sonder twyfel ’n bemarker se droom en lyk dalk op die oog af na ’n emosionele betoog oor grondbesit, maar Tembeka Ngcukaitobi se publikasie het veel meer om die lyf.

Die subtitel lei jou na die hooftema: “South Africa’s first black lawyers and the birth of constitutionalism”, maar selfs dit vertel nie die helfte van wat Ngcukaitobi vir die leser ontsluit nie.

Sy grondstof is die lewensverhale van Suid-Afrika se eerste ses swart regsgeleerdes, in die laat 19de en vroeg-20ste eeu – Henry Sylvester Williams, Alfred Mangena, Richard Msimang, Pixley ka Isaka Seme, Ngcubu Poswayo en George Montsioa – en hul geloof in grondwetlikheid, respek vir individuele regte en vryhede en die oppergesag van die reg.

Die boek vertel van hul benutting van die reg teen onreg en van hul bydrae tot die ontwikkeling van die idee van ’n handves van menseregte meer as ’n eeu voordat Suid-Afrika uiteindelik daarby sou uitkom.

Dis ’n terugblik, ja, maar een op veel meer as die reg en grondwetlikheid meer as ’n eeu gelede. Twee subtemas wat soos ’n sterk onderstroom deur die hele boek loop, maak dit hoogs relevant vir twee brandende kwessies van vandag: eerstens die diskriminasie teen en miskenning van hierdie baanbreker-regsgeleerdes nadat hulle almal hul regsopleiding in Londen of Oxford gekry het en in die meeste gevalle ook tot die Londense balie toegelaat was. En dan, ja inderdaad, die swart mense se verlies van grond (sonder die betogende toon wat die titel kan suggereer).

Sonder hierdie kennis wat so ver die verlede in strek en wat ingebed moet wees in die kollektiewe onderbewuste van die meerderheid Suid-Afrikaners, sal ons steeds net met ’n halwe begrip na die huidige rasse- en gronddebatte kyk. En ver die verlede in gaan hierdie geskiedenis wel, na lank voor daardie datum wat so maklik as “die begin van apartheid” aangedui word, die Nasionale Party se verkiesingsoorwinning van 1948.

In sy inleidende hoofstuk reik Ngcukaitobi so ver terug as die Britse bewindhebbers se onderdrukking van die Xhosas en die ontneming van hul grond ná hul onderwerping in die laaste sogenaamde Grensoorloë. Hy dui dan aan waar die wortels lê van die gewraakte Wet op Naturellegrond van 1913 wat die meerderheid swart mense as’t ware oornag hul reg op grondbesit ontneem het: Eers was daar die Glen Grey Wet van 1894, aanvaar deur die Kaapse regering van Cecil John Rhodes, wat ten doel gehad het om die swart mense se stemreg in te perk.

Die wet het in so ’n mate hul reg op eiendomsbesit – die vereiste vir stemreg – aangetas dat sommige dit as ’n vroeë voorloper van die 1913-wet beskou. Maar die eintlike bloudruk vir die Wet op Naturellegrond, so bepalend vir die huidige grondproblematiek, argumenteer Ncgukaitobi, kom uit lord Alfred Milner se tyd as hoë kommissaris van Suid-Afrika, pas ná die Anglo-Boereoorlog. Hy het ’n kommissie onder Godfrey Lagden aangestel om aanbevelings oor ’n toekomstige “naturellebeleid” te doen. In 1905 het Lagden aanbeveel dat swart mense se aankoop en besit van grond beperk word. Dit sou weerklank vind in die Louis Botha-regering se 1913-wetgewing.

Ngcukaitobi verwys ook na die Native Affairs Commission wat Milner in 1903 aangestel het en in wie se werk ’n mens reeds die eerste klanke van die latere apartheid vind, nie die minste daarvan nie aanbevelings oor ’n passtelsel, wat daarna genadeloos toegepas is, ná 1948 “verfyn” is, en 50 en 60 jaar later tot optogte en opstande en uiteindelik die Sharpeville-skietery sou lei. Reeds in 1908 is Milner se opvolger, lord Selborne, ingelig dat soveel as 150 “naturelle” elke week weens pasoortredings in Johannesburg gearresteer word.

Daarby kom die aanbeveling dat swart mense se onderwys op hul nut as werkers gerig moet wees, want soms skep opvoeding “an aggressive spirit [in the natives], arising, no doubt, from an exaggerated sense of individual self-importance, which renders them less docile and less disposed to be contented with the position for which nature or circumstances have fitted them”. In daardie jaar was Hendrik Verwoerd, wat sowat ’n halfeeu later soortgelyke idees gehad het, ’n tweejarige seuntjie in Nederland.

Dis in dié era dat Ngcukaitobi se ses regsgeleerdes hul weg baan in ’n Suid-Afrika wat toenemend deur die destydse bewindhebbers as witmansland gevorm word, sodat al ses dikwels erge diskriminasie ervaar.

Dit was hulle byvoorbeeld nie beskore om as advokate te werk nie. Die Transvaalse balie het glad nie swart mense as advokate toegelaat nie. Die Kaapse balie het wel, maar wit prokureurs het gewoon geweier om kliënte na swart advokate te verwys. Net twee van die ses het kortstondig as advokate gepraktiseer. Henry Sylvester Williams was van Trinidad, die enigste van die ses wat nie ’n Suid-Afrikaner was nie.

Besiel met die gees van Pan-Afrikanisme en met sy Londense regskwalifikasies in die sak het hy pas ná die Anglo-Boereoorlog na Suid-Afrika gekom en die eerste swart lid van die Kaapse balie geword. Binne twee jaar het wit vooroordeel en die weiering dat hy as swart advokaat in die rondgaande hof werk, te veel geword en hy is terug Londen toe en het hom later in Liberië gevestig.

Ngcubu Poswayo het in 1904 in Londen gekwalifiseer en het dadelik na Suid-Afrika teruggekeer. Hy word tot die Kaapse balie toegelaat, maar die teenkanting van wit regslui was so sterk dat hy sy naam ná twee maande van die balie se rol laat verwyder en verder as prokureur gepraktiseer het. Dit sou 50 jaar duur voordat ’n swart regsgeleerde weer tot ’n Suid-Afrikaanse balie toegelaat is.

Dis ook nie asof almal altyd as vanselfsprekend tot prokureursordes toegelaat is nie. Alfred Mangena het byvoorbeeld reeds as lid van die Londense balie vir hom naam gemaak gehad toe hy terugkeer Suid-Afrika toe. In 1910 het die Transvaalse prokureursorde verseg om hom as prokureur toe te laat, omdat daar sterk teenkanting teen “litigasie vir naturelle” in die howe was – hulle moes hulle liewer tot die naturellekommissaris wend. ’n Regter Smith van die hooggeregshof het nietemin dié besware verwerp.

Naas dié institusionele hindernisse moes die ses regsgeleerdes ook nog blatante rassisme ervaar. By meer as een geleentheid is van hulle hardhandig die deur van die hof gewys wanneer ’n beampte of polisieman, onbewus van die status van die onbekende swart man wat die hof met ’n dokumentetas en in ’n toga binnegestap het, hom hardhandig probeer verwyder het. Pixley ka Isaka Seme moes by geleentheid, onderweg na sy huis in Johannesburg ná ’n saak op die platteland, in ’n stal slaap, want vir swart mense was daar nie plek in die plaaslike hotel nie.

Uiteraard het die sake wat die ses prokureurs gehanteer het, grootliks om kwessies eie aan die probleme van die swart gemeenskap gewentel – pasoortredings, arbeidskwessies, uitsettings, grondgeskille – maar dis uiteindelik sommige van die regsgeleerdes se werk oor grondbesit ná die promulgering van die Wet op Naturellegrond van 1913 wat so swaar op die gemoed van die leser van 2018 kom rus dat mens nie anders kan as om die huidige woelinge teen daardie agtergrond te lees nie.

Dié wet het nie net swart mense se grondbesit tot sowat tien persent van die land se grond – en net sewe persent daarvan verboubare landbougrond – beperk nie, dit het ook grondtransaksies met swart mense verbied. Die South African National Native Congress (die latere ANC) het een van die ses regsgeleerdes oor wie Ngcukaitobi skryf, Richard Msimang, saam met die joernalis Sol Plaatje opdrag gegee om, nadat die wet in Junie 1913 van krag geword het, die uitwerking daarvan op die lewens van swart mense te dokumenteer.

Ngcukaitobi skryf dat Msimang waarskynlik die lewendigste en mees grafiese illustrasie gee van die uitwerking van die wet. Aan die hand van individuele verhale van uitsettings, swaarkry en ontneming het Msimang uiteengesit hoe swart mense op groot skaal van die grond wat hulle hul lewe lank bewoon en bewerk het, afgesit is en die sekuriteit van eiendomsreg verloor het.

Meer nog, hulle het ander eiendom verloor, veral in die vorm van hul vee, waarvoor hulle nou geen heenkome gehad het nie. Swart boere het dikwels geen keuse gehad nie as om arbeiders te word, by die stede of op wit boere se plase, dikwels teen ’n hongerloon. Die swart boerderyklas is feitlik oornag in ’n arbeidersklas omskep. In baie gevalle het hulle geen toevlug gehad nie en het van plek tot plek rondgeswerf in die hoop om verblyf en werk te kry.

Só bring hierdie boek insig in hoe die grondslag gelê is vir die ongelykheid in grondbesit, wat nou een van Suid-Afrika se grootste nasionale vraagstukke geword het, net meer as ’n eeu nadat die Wet op Naturellegrond in werking getree het. Selde nog het iemand, in die woorde van Ngcukaitobi, soveel lig gewerp op die werklikheid van menslike lyding wat die gevolg van dié wet was. Msimang was die eerste een wat verstaan het dat die wet se reikwydte veel verder was as grondonteiening.

“Swart mense het as gevolg daarvan vee en besittings verloor en is gedoem tot die status van arbeidseenhede ... Wanneer grondonteiening beskou word deur die ervarings van dié wat daardeur geraak is, ontstaan ’n ryker narratief. Dit is uit sulke werklikhede dat ’n nuwe toekoms vir Suid-Afrika verbeel kan word,” skryf hy.

  • Tembeka Ngcukaitobi is ’n advokaat in Johannesburg met B- en M-grade van die Universiteite van Transkei en Rhodes en die London School of Economics and Political Science. Hy is ’n lid van Cyril Ramaphosa se adviserende paneel oor grondhervorming.
  • The land is ours word deur Penguin uitgegee en het sedert sy verskyning vroeër vanjaar reeds vyf herdrukke beleef.
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top