.......
Hierdie onderhoud is gevoer voordat die korona-virus Suid-Afrika getref het.
Zolani gee saam met ander musikante ’n boodskap oor paniek aankoop in hierdie Pick n Pay-video van 25 Maart:
.......
2 435 308 052.
Nee, dit is nie Zolani se ID-nommer nie. Dit is die aantal kere wat “Waka waka (This time for Africa)” al op YouTube gekyk is – bykans 2,5 miljard. In 2010 span Freshlyground kragte saam met die heupswaaiende Shakira om die offisiële temalied vir die Wêreldsokkerbekertoernooi op te neem. Hierdie getal smokkel met mens se kop in ag genome dat daar 7,5 miljard mense op aarde is.
Zolani en die groep se violis, Kyla-Rose Smith, dans en spring in die video wat sedertdien een van die grootste poptreffers van die huidige generasie geword het.
Die klanke van Freshlyground is nou vir eers stil en Zolani het einde laasjaar aangekondig dat sy ’n sololoopbaan gaan aandurf, een waar sy diep gaan delf in haar eie verlede, met kleiner verhoë – net sy met ’n kitaar, lirieke en melodieë gestroop van lekker-lekker goedvoeltreffers met ’n skoot Afrika-ritmes waarvoor sy bekend geword het saam met haar voormalige groep. Die Afropop-orkes is in 2002 in Kaapstad gestig en het vyf studio-albums vrygestel.
Ek het met haar gesels oor haar nuwe verhoogstuk, The one who sings, haar nuwe album wat binnekort vrygestel word, en ook waarom sy besluit het om haar seer verlede met die wêreld te deel.
Ek kry haar nommer by iemand wat iemand ken wat haar bestuurder ken en stuur ’n WhatsApp-boodskap met ’n magdom disclaimers om haar gerus te stel dat ek nie ’n stalker is wat net wil gesels nie: Ons kan enige tyd gesels wat haar pas, nie langer as tien minute nie; sy kan gerus wees dat ek deeglike navorsing sal doen en slegs sal praat waaroor sy gemaklik is; en ek sal dit baie waardeer as sy dit dalk sou kon oorweeg om met my (wat 23 subscribers op my YouTube-kanaal het) ’n paar woorde te wissel.
“Sure,” sê sy. “I am sending you five of my new tracks that haven’t been released. Hope you enjoy them?”
Om een of ander rede dink ek sy is in die VSA en sy dink ek is in Berlyn. Nee, sê sy, sy is op pad om te gaan duik in Muizenberg. Nee, sê ek, ek is in Wynberg en steeds in pajamas. Nie een van ons weet waarom die ander een gedink het ons is in verskillende wêrelddele nie. Ons beide lag. Die ys is gebreek.
Daar is soveel goed wat ’n mens vir ’n werklike celebrity kan vra. Wat is jou tienjaarplan? Hoe spandeer jy jou vrye tyd? Is dit lekker om famous te wees?
Die eerste lied wat sy vir my stuur, is “These times” en ek kan aan niks anders dink as om haar uit te vra oor hierdie stukkie kleinkuns nie. Dit is die toonvoorbeeld van ’n song wat hoegenaamd nie ’n radiotreffer gaan wees nie. Dit begin met ’n moeë kitaarrif, koud en sonder aanduiding van hoe jy moet voel G’n dromme nie. G’n fluite nie. Vir ses minute staar sy na jou en wink vir die trane wat al vir so lank agter jou oogballe skuil.
These times are cruel my dear
no one has to be alone
especially one as beautiful as you
All you need is someone,
Someone like me.
Oor hierdie lied sê sy: “The image I had is that of an obsessive lover, verging on stalking. It is about longing. I had this vision of a woman with mascara on her cheeks. She looks through the window [at her true love]. She is out of control.”
Een van die ander liedere is “Wawundithembisile (we Maria)”, wat beteken “You promised me”. Die tematiek is in skrille kontras met dié van “These times”. Sy verduidelik dat hierdie lirieke handel oor haar gewaarwording ten opsigte van Katolieke dogma. Gepaargaande hiermee dien dit ook as ’n metafoor vir sistemiese indoktrinasie van die apartheidbedeling.
“I wrote this song using the vehicle of Catholicism and the Mother Mary, expressing a sense of disillusion of the system, with patriarchy of the race policy and the idea that one being is more superior than another. Also the idea of God being separate from us. That caused harm, actually. For me [theme of song] it is a return to the self.”
Die gesprek maak ’n wending in die rigting van geloof. Spesifiek die negatiewe invloed wat sendingwerk op bestaande geloofstrukture gehad het en ook hoe dit haar tot vandag toe nog raak.
“This is a massive problem. It made all the ancient wisdom wrong. It is another imported belief system. It eroded one’s self-esteem. It caused a remove. People were connected with the land and animals.”
Hierdie is maar net ’n paar idees en konsepte wat deel vorm van haar eenvroutoneeelstuk The one who sings wat einde laasjaar by die Baxter-teater in Kaapstad gedebuteer het. Sy het drama gestudeer aan die Universiteit van Kaapstad en is vir die eerste keer in vele jare weer op die verhoog as akteur.
In ’n onderhoud in Times Live vertel sy waaroor die teaterstuk handel. Sy is gemolesteer op die ouderdom van 11 en het tot op hede nie die vrymoedigheid gehad om daaroor te praat nie. Op die kruin van Freshlyground se sukses het die gewig van ongesegde seer die krake in haar begin toon. Sy het die leemte gevul met oordadige eet en te gereeld te diep in die bottel kyk.
“I want to be free, I’m ready now. I’m getting the story out in 2019, so that in 2020 it’s another new page and I go forward and people know this about me and it’s fine. Then they can tell the next person that this thing happened to me but I survived it and you can too.”
Zolani het ook vir my ’n ander lied gestuur om na te luister – “Here is a thing”:
Here is a thing with nothing to say
mountains won’t stand in your way
you like to walk as if troubles are behind you
they will never find you as long as you hide
Oh, you missed the rain
standing with forehead on window pane
Come, bring us your shame
We won’t let you flounder
We’ll call you by name.
Aan die einde van ons gesprek vra ek haar of die lied presies sê wat die lirieke verwoord: ’n oproep tot almal wat met ’n donker geheim sukkel en ’n aanmoediging om dit met ander te deel?
“Yup, that’s it.”
“Anything else about the song?”
“That’s it.”
Gestroopte waarheid en eerlikheid is Zolani se nuwe mantra. Dit was ’n lang pad. Van ’n paar miljard oë wat net haar musiek leer ken het en nie haar binneste nie, tot ’n tipe vreugde wat net aan een persoon openbaar hoef te word: The one who sings.
Bronne
Buro: MvH