Begrafnisse in my tuisdorp is groot – baie groot.
’n Begrafnis is jou laaste eer, en groet, aan die oorledene.
Die familie doen dikwels spesiaal moeite om seker te maak dis ’n mooi afskeid. Blomme, ’n mooi kis en ’n lekker ete vir begrafnisgangers na die diens.
Begrafnisse word dikwels op ’n Saterdagoggend gehou, maar afhangend van aan watter kerk die oorledene behoort, begin die voorbereiding vir die begrafnis met nagwake (aanddienste) op die eerste dag van die week.
…………
“Thomvleis is bruingebraaide gestampte beesvleis wat oorspronklik met dompel en/of stampmielies met groente bedien is. Dit kom oorspronklik van die Tswana-mense en staan ook as mogoga en lerito bekend.”
…………
Die pastoor en ouderlinge bring vir die familie ’n woord van troos en die hele gemeenskap is welkom en woon dit by om die familie te ondersteun. Aan die einde van die diens word die bywoners met koek/beskuitjies en tee bedien.
Vrydagmiddae is wanneer ’n bees en skape geslaag word vir die begrafnis. Dit is dan ook wanneer verskeie mense by die doodshuis bymekaar kom en help om die groente vir die volgende dag te skil. Dit is deel van die rouproses, want die helpers vertel snaakse of mooi stories oor die afgestorwene.
By die Vrydagaanddiens word die bywoners bedien met dompels en retlo. Dompels is deeg wat vir ’n halfuur in die kos gekook word. Ek het nooit souskluitjies geëet nie, dus kan ek nie die vergelyking tref nie. Retlo is ’n verkorting van diretlo (Tswana) – ’n dis wat bestaan uit opgekerfde skaappens en -derms.
Na die begrafnisdiens word ’n gekookte ete aan die bywoners bedien. ’n Klein begrafnis word gewoonlik deur minder as 50 mense bygewoon, dus word daar groot gekook.
Die grootte van die begrafnis word ook as ’n maatstaf gebruik van watter tipe mens die oorledene was.
“Hy het ’n groot begrafnis gehad” beteken die persoon was ’n mense-mens. ’n Goeie mens. ’n Mens oor wie baie mense rou en wat baie mense sal mis.
Foto’s: Newton Bailey
Een van die gewildste maaltye wat by ’n begrafnis opgedien word, is thomvleis. Dit is soos die caviar van begrafniskos en elke begrafnisganger kry gewoonlik ’n lepel of twee van die vleis. Wat natuurlik nooit genoeg is nie. Elke begrafnisganger wil nog hê.
Thomvleis is bruingebraaide gestampte beesvleis wat oorspronklik met dompel en/of stampmielies met groente bedien is. Dit kom oorspronklik van die Tswana-mense en staan ook as mogoga en lerito bekend.
My ouma het vir jare by begrafnisse gekook en thomvleis gemaak, waar sy die dis by Rose Jammer geleer het.
Bestanddele
- bene met ’n vleis (meaty bones)
- sout
- peper
- naeltjies
- ’n ui.
Hoe maak jy thomvleis?
- Die vleiserige bene word afgewas en sag gekook tot die vleis van die been afval.
- Voeg sout, peper, naeltjies en ’n gekapte ui by.
- Die vleis word uitmekaar getrek tot dit repies is.
- Die sagte vleis word gestamp en die kaal bene word verwyder.
- Die bene word gebuik omdat die murg die vleis lekker sappig maak.
- Die vleis word gekook/gebraai totdat dit goudbruin is.
By elke begrafnis word minstens een groot swart pot thomvleis gekook, en by elke begrafnis wat ek ooit bygewoon het, het ek gehoor: “Dit was lekker. Is daar nie nog ’n bietjie thomvleis nie?”
- Foto’s: Pixabay.com