Tien gewilde markies in die Wes-Kaap

  • 0

Met die dae wat al langer en warmer raak, en die Desembervakansie om die draai, is dit dalk die perfekte tyd om die talle markies in die Kaap-omgewing te besoek.

Markies raak al gewilder, en hier is 10 van die lekkerstes in en om die Kaap.

Bay Harbour Market

Hierdie eklektiese markie, geleë in ’n outentieke ou visfabriek, bring plaaslike vakmanne, kunstenaars en musikante bymekaar. Mode, skoene, juweliersware en dekor is net sommige van die dinge wat hier te vinde is. Natuurlik is daar heerlike kos en drankies ook.

Die markie is uniek omdat die bestuur poog om die diversiteit van die kultuur in Suid-Afrika te vier. Een van hul beginsels sedert die mark in 2011 gevestig is, is om ’n katalisator te wees vir geleenthede in die gebied in die vorm van werkskepping, die ontwikkeling van mikro-ondernemings en die opgradering van die aangrensende geboue en infrastruktuur. Die bestuur poog om ’n plek te skep vir sosiale integrasie, gegewe die multikulturele aard van die inwoners van Houtbaai.

Geniet in die somer die verfrissende lug in die see op die buitepatio; en as die temperatuur begin daal, gaan sit langs die gesellige vuurtjie.

Waar: Houtbaai, Kaapstad
Wanneer: Vrydae 17:00–21:00 en Saterdae en Sondae 9:30–16:00
Meer inligting: https://www.bayharbour.co.za

Blaauwklippen Family Market

Die Blaauwklippen-markie is bekend vir sy ontspanne atmosfeer en is nie so bedrywig en besig soos talle ander markies nie. Besoekers kan rustig deur die stalletjies dwaal en piekniek op die gras onder die vyebome hou. Lewende musiek dra by tot die rustige atmosfeer.

’n Heerlike familiemarkie met ’n verskeidenheid kosstalletjies, kunsvlyt, wynproe en vermaak vir die kinders. Kinders kan ponieritte geniet, diere soos bokke kos gee en op die springkasteel spring!

Uniek aan hierdie markie is dat hondeliefhebbers elke derde Sondag kan deelneem aan die Vineyard Doggy Walk waarvan die opbrengste aan die Helderberg Animal Welfare Society gaan.

Waar: Blaauwklippen, Stellenbosch
Wanneer: Sondae 10:00–15:00
Meer inligting: http://www.blaauwklippen.com/family-market

Cape Point Vineyards Market

Hierdie markie, wat elke Donderdag plaasvind, is heerlik vir warm someraande. Die mark vind plaas in die restaurant- en piekniekarea van Cape Point Vineyards, waar die landgoed se bekroonde wyne beskikbaar is.

Groot oop grasperke langs ’n visdam, ’n glas wyn in die hand en die sonsondergang in die agtergrond. Hierdie markie is ideaal om na ’n lang werksdag te besoek en net agteroor te sit en te ontspan. Benewens goeie wyne en ander eet- en drinkgoedjies is hier ook talle vegandisse beskikbaar.

Waar: Cape Point Vineyards, Noordhoek
Wanneer: Donderdae 16:30–20:30
Meer inligting: http://cpv.co.za/community-market

Elgin Railway Market

Die aanvanklike idee met die Elgin Railway Market was om ’n ou appelskuur in ’n klein markie te omskep om Kaapstad-toeriste se besoeke aan die Elginvallei te bevorder. Gedurende sy twee-jaar-ontwikkeling het die markie egter ontwikkel en gegroei tot wat dit vandag is, ’n volwaardige naweekmark.

Besoekers kan weglê aan plaaslike kos en drankies wat deur plaaslike besighede verskaf word. Ook die lewende-musiek-optredes is deur plaaslike musikante.

Volgens Roger Orpen, stigter van die mark, is dit die Art Deco- en Art Nouveau-ontwerp en -argitektuur wat dié markie uniek en anders maak. Die “steampunk”-atmosfeer is voorwaar uniek en anders as dié van soortgelyke markies. Orpen was geïnspireer deur die industriële era en die spoorweggevoel van die nabye stasie.

Uniek aan hierdie markie is juis die stoomtrein, in samewerking met die Ceres Rail Company, wat spesiaal oor die naweek besoekers van Kaapstad na die markie neem. Die gefluit en gestoom van die trein is nou al deel van die mark se atmosfeer en almal weet wanneer die trein die stasie bereik het.

Waar: Elgin
Wanneer: Saterdae en Sondae 9:00–17:00
Meer inligting: https://www.elginrailwaymarket.co.za

Lourensford-markie

Foto: Aldus Smith Photography

Die markie, wat geleë is by die historiese wynlandgoed Lourensford in Somerset-Wes, bied besoekers die kans om die pragtige natuurskoon van uitgestrekte grasperke, tuine en majestueuse bome met pragtige feetjieliggies te waardeer, bekroonde wyne en bier te proe, en ’n paar indrukwekkende ou motors te bewonder. Besoekers kan ook die lewende musiek en musiek deur platejoggies geniet.

Foto: Aldus Smith Photography

Vermaak vir die kinders sluit in pret en plesier in die fontein waar kinders alte lekker in die water baljaar, en boomtoeravonture met die Jump & Rope Yard, en selfs gesigverf en klimrame.

Uniek aan hierdie markie is die Motor Studio waar antieke motors uitgestal word. Die Motor Studio is ook waar jy plaaslike Abru-boetiekbier (“craft beer”) sal kan geniet.

Foto: Aldus Smith Photography

Waar: Somerset-Wes
Wanneer: Vrydae 17:00-21:00 en Sondae 10:00-15:00
Meer inligting: https://www.lfhm.co.za

Mojo Market

“’n Fantastiese plek om ou vriende te ontmoet en ’n paar nuwes te maak – kom vind jou ‘mojo’!” Dié markie is ’n kos-en-leefstyl-mark wat sewe dae per week oop is en in Seepunt geleë is. Met lewende musiek, sportuitsendngs, en tot vier kroeë waar jy talle verskillende drankies kan proe.

Kies uit ’n verskeidenheid kosse, van burritos tot ramen, en natuurlik ook seekos soos mossels – die opsies is eindeloos! Hier sal jy iets vir ontbyt, middagete en aandete vind. Geniet die eetarea met ’n uitsig op die see en palmbome.

Uniek aan die markie is die gewilde Seepuntpromenade wat slegs ’n klipgooi weg is, en natuurlik die vars seelug.

Waar: Seepunt, Kaapstad
Wanneer: Daagliks 8:00–23:00
Meer inligting: https://www.mojomarket.co.za

Neighbourgoods Market

“’n Platform vir die koestering en groei van individue wat hul hartstogte in welvaart verander, en ’n lewendige weeklikse ontmoetingsplek om gemeenskap te geniet, idees en verhale uit te ruil en gesamentlik by te dra tot die ikoniese kultuur van die Moederstad” – so word die Neighbourgoods-mark op hul webtuiste beskryf.

Die Neighbourgoods-mark is vir die eerste keer in September 2006 gehou en is deur Justin Rhodes en Cameron Munro gestig. Hierdie bekroonde mark bestaan tans uit meer as 100 spesialiteitshandelaars wat ’n weeklikse platform skep vir plaaslike boere, fynproewers, organiese handelaars, bakkers, kruideniers, slagters en plaaslike sjefs om hul heerlike produkte ten toon te stel.

Die mark is gevestig in die historiese hemelverligte pakhuis van Old Biscuit Mill, en het homself, volgens die organiseerders, vinnig gevestig as ’n “katalisator vir, en die viering van, die stedelike renaissance wat die eens vervalle woonbuurt Woodstock omtower”.

Die organiseerders meen dié markie bly meer as ’n dekade later steeds uiters gewild en ook ’n belangrike vertoonvenster vir van die beste mikrohandelaars in Kaapstad, ontwerpers en spesialiteitsprodusente.

Die markie is bekend as ’n ou gunsteling en bied ’n wye verskeidenheid produkte aan: halaal, vegetaries, veganisties, glutenvry, suikervry en opsies vir persone met laktose-onverdraagsaamheid is beskikbaar, sowel as rou en organiese voedsel wat koning kraai.

Waar: Old Biscuit Mill, Woodstock
Wanneer: Saterdae 9:00–15:00
Meer inligting: http://www.neighbourgoodsmarket.co.za

Oranjezicht City Farm Market

Die Oranjezicht-markie vind plaas by die historiese Grangerbaai-terrein van die V&A Waterfront in Kaapstad. Die markie is ’n boerestyl-gemeenskapsmarkie vir onafhanklike plaaslike boere en produsente. Die markie spog dus met vars groente, vrugte, organiese suiwelprodukte, brode, en ander plaasprodukte.

Boonop kan klante eetbare plante, sade, kompos en tuinvoorrade en toerusting koop. Pragtige bosse blomme is hier volop beskikbaar.

Die mark word bestuur deur ’n span wat saamwerk om kleinskaalse voedselproduksie in die stad te bevorder, daarom dat die klem hier op volhoubaarheid en natuurlike produkte is.

Die markie het ’n asemrowende uitsig oor die see en sorg vir ’n lekker plaasatmosfeer so reg teen die kus. Jy vergeet skoon jy is in die stad!

Waar: Grangerbaai, V&A Waterfront in Kaapstad
Wanneer: Woensdae 16:00–20:00, Saterdae 9:00–14:00 en Sondae 9:00–15:00
Meer inligting: https://ozcf.co.za/market-day

ROOT44

Die ROOT44-markie is in 2013 begin en sedertdien het dit net bly groei en tog te gewild geword. ’n Familiemarkie met iets vir almal, so beskryf die bestuurspan dié mark. “Smaak it at this market.” Omring deur prentjiemooi wingerde, is dit maklik om te sien waarom dié markie elke naweek so besig is.

ROOT44 se bestuurspan verduidelik besoekers kan kies en keur uit ’n verskeidenheid van kos en drankies, en daar is ook allerlei kunsvlyt- en huiswarestalletjies. Die mark bied lewende musiek om besoekers te vermaak.

Boonop is die ROOT44 een van die kindervriendelikste markte in die Kaap-omgewing met ’n verskeidenheid vermaak om kinders ure lank besig te hou. World of Adventure by ROOT44 is op kinders gemik en sluit binne- en buite-oerwoud-gimnasiums, minigholf en meer in.

Uniek aan hierdie mark is die 5 km Parkrun wat elke Saterdag om 8-uur die oggend plaasvind. Besoekers neem graag deel aan hierdie pretloop, wat verniet is, en sluit hulle dan na die tyd by die mark aan.

Waar: Audacia Wines, Stellenbosch
Wanneer: Saterdae en Sondae 9:00–16:00
Meer inligting: https://root44.co.za

V&A Food Market

Die V&A Food Market is in ’n ou kragstasie gevestig wat in die 19de eeu krag aan die Kaapstadse skeepswerf verskaf het. Vandag is dit egter omskep in ’n lekker gesellige markie, teen die agtergrond van die dinamiese en skilderagtige Waterfront. Benewens binne sit en ietsie eet of drink, kan besoekers ook buite op die kaai sit en skemerkelkies geniet soos die son sak en die seemeeue skree.

Die mark is ’n platform vir kleinsakeondernemings om unieke produkte na die tafel te bring en klein voedselwinkels en kroeë te begin. ’n Lewendige stadsatmosfeer in die hartjie van Kaapstad.

Waar: V&A Waterfront, Kaapstad
Wanneer: November–April: Sondae tot Donderdae 10:00–20:00 en Vrydae en Saterdae 10:00–21:00. Mei–Oktober: Sondae tot Donderdae 10:00–19:00 en Vrydae en Saterdae 10:00–20:00
Meer inligting: http://waterfrontfoodmarket.com

  • Foto’s: verskaf
Buro: MvH
  • 0
Top