Tito gaan spartel om boeke te laat klop

  • 0

..........

“Daar is verlede jaar begroot dat die regering se inkomste met 8,6 persent sou groei, terwyl dit tot dusver in werklikheid slegs met 4,8 persent gegroei het.”

..........

Suid-Afrikaners sal die gordel na Woensdag waarskynlik nog stywer moet intrek om die minister van finansies, Tito Mboweni, se boeke te help klop.

Woensdag se begrotingstoespraak stel die minister bykans voor ’n bomenslike taak.

Die staatskas is feitlik dolleeg gesteel deur staatskapers. Die lig aan die einde van ekonomiese tonnel lyk al hoe meer na ’n aankomende trein. Boonop is dit waarskynlik die heel laaste kans wat Suid-Afrika het voordat ook Moody’s die land soos ander kredietagentskappe tot rommelstatus afgradeer.

Foto: Pixabay.com

Die joernalis en voormalige redakteur van Finweek, Willem Kempen, stel dit prontuit in die jongste uitgawe van Vrye Weekblad. Die kalf is in die put, sê hy. “Suid-Afrika se kalf is al lánk in die put, maar voordat ons die arme dier kan probeer red, moet ons blykbaar eers vir so lank as moontlik stry oor presies wat om te doen.”

Ongelukkig het Mboweni nie meer veel van ’n reddingstou waarmee hy die kalf uit die put kan probeer red nie. Die enigste klip waaruit hy Woensdag nog bloed kan probeer tap, is die reeds vuisvoos belastingbetalers.

Dit is daardie 3,5 persent individue wat saam reeds meer as 38 persent van die land se belasting betaal wat weer gemelk gaan word. Mboweni se probleem is dat ook hierdie gans se goue eiers vinnig besig is om op te droog.

..........

“Die ekonoom Dawie Roodt sê een van die regering se grootste probleme is staatsbesteding. Die reusesalarisrekening van staatsamptenare is volgens hom ’n yslike tameletjie vir Mboweni.”

..........

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, het aan Netwerk24 gesê baie van die geraamde 98 000 Suid-Afrikaners wat verlede jaar geëmigreer het, val in die boonste inkomsgroepe en het gesogte vaardighede wat Suid-Afrika juis moet behou.

Ackerman meen die staat se beursie lyk sleg. Daar is verlede jaar begroot dat die regering se inkomste met 8,6 persent sou groei, terwyl dit tot dusver in werklikheid slegs met 4,8 persent gegroei het.

Old Mutual se hoofekonoom, Johann Els, het verlede week ook gewaarsku dat Woensdag se begroting waarskynlik slegte nuus vir talle Suid-Afrikaners sal inhou.

Hy het aan Netwerk24 gesê Woensdag se begrotingsrede gaan die belangrikste in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis wees. Dit is hoofsaaklik omdat die land deur ’n skuldkrisis in die gesig gestaar word terwyl die land se inkomste nie vinnig genoeg styg nie.

Boonop is die land se begrotingstekort buite beheer en die tesourie kon die afgelope aantal jare nie daaraan slaag om dit onder beheer te kry nie. Els sê dit is nou of nooit.

Vrye Weekblad se redakteur, Max du Preez, skryf in sy weeklikse nuusbrief dit is veilig om te sê dit sal die moeilikste begroting wees wat sedert 1994 voor die parlement gelê sal word. “Suid-Afrika dobber net-net bokant resessievlak met reusagtige skuld, ekonomiese groei onder 1%, kwaai energieprobleme en struikelende staatsondernemings.”

Du Preez sê hy het verlede jaar toe hy na Mboweni se mediumtermynbegrotingsrede geluister het, gehoop ons gaan teen dié tyd meer realisme oor die naakte werklikheid van ons ekonomiese verknorsing sien – dat daar konsensus gaan wees dat ons ideologie en ou struggle-ortodoksies moet eenkant toe skuif en eers red wat te redde is.

“Die hoop het beskaam. Goedkoop populisme het ons politieke kultuur tot in die kern besmet. Politici wat nie ’n idee van die ekonomie het nie, mompel net ‘neoliberaal’, ‘radikale ekonomiese transformasie’ of ‘witmonopoliekapitaal’, dan knik die koppe. Ons gaan liewer onder, soos Zimbabwe en Venezuela, as om pragmaties te wees.”

Die ekonoom Dawie Roodt sê een van die regering se grootste probleme is staatsbesteding. Die reusesalarisrekening van staatsamptenare is volgens hom ’n yslike tameletjie vir Mboweni.

Een van die maniere waar die Minister skynbaar hoop om ’n paar rand te bespaar is deur geen salarisverhogings vir senior politici soos ministers en premiers aan te kondig nie.

Roodt het in Rapport geskryf hoewel Mboweni waarskynlik die beste minister van finansies is wat die ANC kan oplewer, hy nie kan voorsien hoe hy daarin gaan slaag om die staat se salarisrekening te verminder nie.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top