Tito laat die rand kop optel

  • 0

Die sukkelende rand het weer effens asemgehaal nadat Cyril Ramaphosa die beleërde minister van finansies, Nhlanhla Nene, se bedanking aanvaar het en die ervare Tito Mboweni in sy plek aangestel het om die land se geldsake te bestuur.

Mboweni is ’n voormalige president van die Reserwebank en het ook as minister van arbeid in die kabinet gedien.

Bron: Twitter

Mboweni moet die land se finansiële bestuur oorneem op ’n kritieke stadium van Suid-Afrika se ekonomie terwyl die land in ’n resessie verkeer met die moontlikheid van verdere rommelstatus op die loer.

Daar is die afgelope week wyd bespiegel oor Nene se politieke toekoms na sy onthullings aan die Zondo-kommissie wat ondersoek instel na staatskaping. Dit het onder andere aan die lig gekom dat hy tydens sy termyn as minister van finansies verskeie ontmoetings met die omstrede Guptas gehad het by hul private woning in Saxonworld in Johannesburg.

Verskeie opposisiepartye en instansies het Nene se kop geëis en gesê Ramaphosa se aanvanklike stilswye oor Nene se toekoms dra by tot onsekerheid op finansiële markte.

Bron: Twitter

Nene het Dinsdag sy bedankingsbrief by Ramaphosa ingedien waarin hy hom gevra het om hom van sy pligte as minister van finansies te onthef.

Hy het in sy bedankingsbrief aangedui dat daar ’n risiko bestaan dat die storm rondom sy getuienis voor die Zondo-kommissie die regering se pogings om openbare vertroue te herstel, in die wiele kan ry.

Ramaphosa sê hy het na deeglike oorweging van Nene se getuienis voor die Zondo-kommissie en in belang  van goeie regering besluit om Nene se bedanking te aanvaar.

Die President het hom ook opnuut daartoe verbind dat die Zondo-kommissie die geleentheid moet hê om sy taak behoorlik uit te voer en sy mandaat om staatskaping te ondersoek ten volle uit te voer.

Bron: Twitter

Geen persoon moet in die proses bo die wet te wees nie en alle relevante en betroubare bewerings van oortredings moet behoorlik ondersoek word, het Ramaphosa gesê. Hy het ’n beroep gedoen op almal wat inligting het wat die Zondo-kommissie in hulle werksaamhede kan bystaan, om vorendag te kom en hulle volle samewerking aan die kommissie te gee.

Mboweni se aanstelling as minister van finansies het waarnemers verras, omdat hy Maandag nog aangedui het dat hy nie beskikbaar is om weer in die kabinet te dien nie. Mboweni, wat ’n groot ondersteuner van Ramaphosa is, het toe gesê hy sou wel beskikbaar wees as raadgewer, maar nie as minister nie. “Jy kan nie dieselfde mense herhaaldelik hergebruik nie. Dit is tyd vir jonger mense,” het Mboweni Maandag getweet.

Sy aanstellig is uit verskeie oorde verwelkom. Die organisasie OUTA sê Nene het in sy tydperk as minister sy  moed gewys deur op te staan teen oudpresident Zuma se besluite om irrasionele en duur finansiële ooreenkomste oor die SAL en kernkrag te probeer aangaan.

Ekonome sê graderingsagentskappe sal waarskynlik positief reageer op die aanstelling van ’n nuwe minister van finansies. Hulle sê Mboweni het ’n bewese rekord, veral as president van die Reserwebank. Die graderingsagentskap Moody’s sal na verwagting Vrydag sy hersiening bekendmaak. Internasionale graderingsagentskappe het vroeër die ekonomiese afswaai en beleidsonsekerheid as redes genoem vir hul afgradering van Suid-Afrika na rommelstatus.

’n Ekonoom van Nedbank, Isaac Mashego, het aan RSG gesê hy glo Mboweni se aanstelling en die mediumtermynbegroting op 24 Oktober sal ’n positiewe invloed op die agentskappe se latere gradering hê.

Opposisiepartye het ook gunstig op Mboweni se aanstelling reageer.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top