Die jongste nuus uit Suid-Afrika: ’n Omstander is gister (Woensdag) deur die polisie doodgeskiet gedurende ’n protesaksie deur studente van Wits-universiteit oor die beweerde finansiële uitsluiting van studente.
Maar dit was nie nuus bloot omdat die man doodgeskiet is en dat dit ’n skreiende (skokkende, ongelooflike) skande is nie. Die polisie skiet mos van tyd tot tyd mense dood of mense sterf in polisie-aanhouding. Menseregtevergrype deur gewapende magte het boonop ongelukkig ’n láng geskiedenis in ons land. En nou se dae ook dié afgryslikheid: dat vroue wat in hegtenis geneem is, nie deur die polisie beskerm word nie, maar deur polisielede in vangwaens en in selle verkrag word.
Die dood van die man gister in Braamfontein, Johannesburg, het óók die nuus gehaal omdat belangrike mense in die samelewing – in dié geval die minister van finansies, Tito Mboweni – daaroor getwiet het.
Niks ongewoons daaraan dat ’n twiet van Mboweni die nuus haal nie. Dit gebeur nogal dikwels. In die twiets probeer hy soms die Twitterati oor regeringsprosesse en -beleid opvoed; ander kere twiet hy oor sy plaaslike omswerwinge of sy waardering vir ’n land soos Rwanda; en soms ook oor sy vreemde, dog vermaaklike eetgewoontes en kookvernuf. Hierdie keer was dit oor sy aanvanklike (oënskynlike, onbegryplike) afmaak van die dood van die man wat pas teruggekeer het van ’n doktersafspraak by ’n kliniek in die omgewing. Dit was ’n klassieke geval van op die verkeerde tyd op die verkeerde plek wees. En die Minister twiet toe dat sover hy kon vasstel, geen student tydens die proteste doodgeskiet nie en dat die Minister van Hoër Onderwys sal verseker dat geen student van tersiêre onderrig uitgesluit sal word weens ’n gebrek aan geld nie.
Maar toe daal die Twitter-massa op hom neer oor dié “ongevoelige” twiet, wat skynbaar nie daarmee rekening gehou het dat daar wél iemand gesterf het nie. Die twiet moes dus die onnodige lewensverlies veroordeel het, is hy meegedeel en daarvoor geroskam, gekasty.
’n Tweede twiet van hom het in hoofletters verskoning gevra: “APOLOGY,” begin dit. Dan volg ’n verduideliking: “My earlier tweet about the Wits protest meant to indicate that the person killed today was NOT a student but this does not in any way diminish the fact and tragedy of a loss of life.” Dan hierdie erkenning: “I did not express myself clearly and for that I apologize.” En dán eers betuig hy sy meegevoel: “My deepest concolences.”
Indien jy Mboweni se blaps (boggherop) slegs vanuit ’n menslikheidsoogpunt beoordeel, dan behoort sy apologie aanvaar te word en hy daarvoor vergewe te word. Maar dit gaan hier oor meer, waarvan die eenvoudigste die kwessie is van studentebefondsing wat net nie bygelê kan word sedert 2015 se #FeesMustFall-proteste nie. Daarna is ’n aankondiging by die ANC se 2017-verkiesingskonferensie deur oudpres Jacob Zuma gemaak dat tersiêre onderwys voortaan gratis sou wees, selfs al het rolspelers in hoër onderwys probeer keer en gemaan dat dit nie haalbaar en bekostigbaar is nie. Zuma self het intussen in 2018 tot ’n val gekom, maar die kwessie van befondsing staan steeds as ’n versperring voor baie studente se toegang tot studie indien hulle eenvoudig nie kan bekostig om daarvoor te betaal nie.
Die ander kwessie is op ’n manier meer kommerwekkend, en dit is dat ’n minister in ’n kritieke portefeulje in ’n land met ’n ekonomie wat doodbloei weens negatiewe groei, beken dat hy hom in ’n twiet, hoewel nie oor ’n ekonomiese kwessie nie, nie duidelik uitgespreek het nie. Wat sou gebeur het as die markte, soos die polisie by die Wits-proteste, met regte ammunisie hierop gereageer het? Wat van die rand se steierende waarde? Wat van die doodskoot aan werksgeleenthede?
Dit word al lank gesê dat tersiêre studie nie as die enigste vooruitsig vir ’n goeie loopbaan aan ons land se skoolverlaters voorgehou moet word nie. Maar met ’n werkloosheidsyfer van enigiets tussen 30% en 40% kan jy seker nie enigiets anders verwag as dat hulle die hekke van universiteite sal bestorm nie – en hoeveel doen die regering nou werklik om jongmense te help om sélf ekonomiese geleenthede te skep?
’n Ander vraag hang in die lug, en dit is iets waaraan die President gerus aandag kan gee wanneer hy volgende keer gesprekke met sy kabinetslede oor hul prestasie-ooreenkomste aanknoop. Dit is of ministers se grondwetlike reg op vryheid van spraak aan hulle die ruimte moet gun om hulle op sosiale media uit te laat oor sake wat nie direk met die beleidskwessies (en krisisse) van hul eie portefeuljes te doen het nie.
Hoe anders keer jy die soort onsensitiwiteit en onsinnigheid wat Mboweni Woensdag met sy Wits-twiet ten toon gestel het, die twiet wat so byna die skietdood van ’n omstander by die studente se betogings oorskadu het?
Buro: MvH