Toeganklikheidskrisis vir gestremdes in die kollig

  • 0

Suid-Afrika se verbintenis tot gelyke toegang en waardigheid vir persone met gestremdhede word al hoe meer bevraagteken namate insidente en bewerings die sistemiese tekortkominge in toeganklikheid aan die lig bring.

Van openbare munisipale kantore tot onderwysfasiliteite, soos die Ezibeleni-skool vir gestremdes in Katlehong, Ekurhuleni, beskik nie oor die nodige infrastruktuur om voorsiening te maak vir mense met gestremdhede in rolstoele nie.

’n Gestremde VF Plus-raadslid, Charles Brough, het verlede Donderdag sy rug beseer toe hy, sy helper en ’n werker van die Rand West plaaslike munisipaliteit (Randfontein en Westonaria) van ’n stel trappe by die munisipale kantore in Randfontein afgetuimel het.

Brough, wat ’n rolstoel gebruik, moet volgens ’n verklaring elke keer wanneer die hysbak buite werking is, op en af gedra word na die raadsaal, wat op die eerste verdieping geleë is.

Die insident het plaasgevind omdat die hysbak, wat reeds vir maande buite werking was, nie herstel is nie. Volgens die VF Plus was die hysbak in Januarie 2025 vir drie maande buite werking. Dit is  in Maart herstel, maar was binne ’n maand weer stukkend. Twee jaar gelede was dieselfde hysbak vir meer as vyf maande onbruikbaar.

Die VF Plus het die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Jacob Mamabolo, herhaaldelik genader om in te gryp, maar die situasie bly onopgelos. Dit raak nie net raadslede soos Brough nie, maar ook ander lede van die gemeenskap met gestremdhede of gesondheidsprobleme wat toegang tot munisipale dienste benodig.

Die Brough-insident, tesame met aanhoudende kritiek op die Gautengse onderwysstelsel, beklemtoon die behoefte aan onmiddellike optrede om toegang vir gestremdes te verbeter.

Die DA beweer in ’n verklaring dat leerders by die Ezibeleni-skool vir gestremdes gedwing word om na klaskamers te kruip weens ’n gebrek aan rolstoeltoegang.

Volgens ’n DA-lid, Bronwynn Engelbrecht, wat op die Gautengse onderwyskomitee dien, word die skool, wat 240 leerders met gestremdhede bedien, gekenmerk deur onveilige toestande op ’n dolomietterrein, onvoldoende opgeleide onderwysers, en beperkte vervoerhulpbronne. Slegs twee bestuurders is beskikbaar om 200 leerders te vervoer, en die afwesigheid van ’n permanente skoolhoof het administratiewe uitdagings vererger.

Die Gautengse Departement van Onderwys ontken egter die bewerings. Volgens woordvoerder Steve Mabona beskik die skool oor opritte en rolstoele, ontvang onderwysers deurlopende opleiding, en is ’n permanente skoolhoof aangestel.

Die gebrek aan toeganklikheid strek ver buite die onderwyssektor. Baie munisipale kantore, hospitale en openbare vervoerstelsels voldoen nie aan basiese toeganklikheidsvereistes soos opritte, hysbakke of brailletekste.

Die insidente by die Ezibeleni-skool en die Rand West-munisipaliteit beklemtoon die dringende behoefte aan verbeterde befondsing, monitering en verantwoording.

Lang waglyste vir spesiale skole, ontoereikende infrastruktuur soos opritte en toeganklike toilette, en ’n gebrek aan opgeleide onderwysers is die kernprobleme. Buite die onderwyssektor toon openbare ruimtes soortgelyke tekortkominge.

Die VF Plus en DA se kritiek weerspieël ’n breër oproep vir optrede, maar politieke verskille en burokratiese vertragings belemmer vordering.

In die onderwyssektor moet die Departement van Basiese Onderwys meer fondse  begroot vir die opgradering van skoolinfrastruktuur en onderwyseropleiding.

In openbare ruimtes moet munisipaliteite prioriteit gee aan die instandhouding van toeganklikheidsfasiliteite soos hysbakke, en alternatiewe oplossings implementeer wanneer herstelwerk vertraag word.

Groepe soos die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede (NCPD) en Section27, ’n menseregte-organisasie wat daarna streef om substantiewe gelykheid en sosiale geregtigheid in Suid-Afrika te bewerkstellig, dring aan op ’n nasionale oudit van toeganklikheid in skole en openbare geriewe, tesame met wetlike meganismes om nakoming af te dwing.

Sonder sulke maatreëls sal gestremde Suid-Afrikaners voortgaan om uitgesluit en gemarginaliseer te word. Dit is in stryd met die land se grondwetlike en internasionale verpligtinge.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top