Toeris kritiek beseer na fratsongeluk in Krugerwildtuin

  • 0

’n Switserse toeris is krities beseer toe ’n kameelperd in die Krugerwildtuin op sy motor geval het nadat die dier deur ’n minibustaxi getref is.

Foto: Pixabay.com

Vier ander mense is ook in die fratsongeluk beseer. SANParke het Maandag op Twitter gesê die beseerde toeris was in die intensiewe eenheid in Mbombela en is later na die Milpark Hospitaal oorgeplaas waar sy toestand as bedenklik beskryf is.

Die ernstig beseerde toeris is ná die ongeluk per helikopter na die Mediclinic Nelspruit in Mbombela geneem. Die kameelperd is op die toneel dood.

Luidens ’n verklaring van SANParke was die minibus met 13 dagbesoekers na Letaba onderweg toe die kameelperd glo voor die voertuig ingeloop het. Twee van die beseerdes is op die toneel vir ligte beserings behandel en hospitaal toe geneem vir observasie.

Volgens SANParke kon die taxi nie die botsing met die kameelperd verhoed nie. Die kameelperd het op die gehuurde voertuig waarin die toeris gereis het, te lande gekom. Die ernstig beseerde man is op die toneel deur mediese personeel behandel en gestabiliseer voordat hy met ’n helikopter hospitaal toe geneem is.

Foto’s van die ernstig beskadigde voertuie is deur SANParke op Twitter geplaas.

Die oorsaak van die ongeluk is onbekend, maar daar word wyd op sosiale media bespiegel dat spoed die oorsaak was en dat die minibus te vinnig gery het.

SANParke het ook op Twitter gemaan dat besoekers aan die Krugerwildtuin by die spoedgrens moet hou en versigtig moet bestuur. Hulle sê die polisie sal die omstandighede wat tot die ongeluk gelei het verder ondersoek.

Sommige mense het gesê spoed was nie noodwendig die rede vir die ongeluk nie, maar foto’s wat op Twitter geplaas is toon duidelik die lang remmerke van die taxi.

Baie mense betwyfel dit ook dat die insittendes van die taxi dagbesoekers was. Hulle sê taxi’s gebruik die pad as deurgangsroete en dat dit moet end kry. “Hierdie is dikwels mense wat die hekke gebruik as vinnige deurgang na nabygeleë nedersettings, soos Giyani. Ek is self nou in Mopani en die drywer het beslis teen ’n hengse spoed gery volgens die remmerke,” skryf een van die kommentators op Netwerk24.

Jaco Gericke van die ambulansdienste het op Facebook geskryf hulle het Sondag omstreeks 11:00 ’n noodoproep van die wildtuin gekry oor die ongeluk sowat 10 km noord van die Mopani-kamp in die rigting van die Shingwedzi-kamp. Hy het die Switser op die toneel gestabiliseer voordat die helikopter hom weggeneem het. Die man se vrou het ook ligte beserings opgedoen en is per ambulans hospitaal toe geneem.

Op sosiale media het dit behoorlik gegons soos mense hulle woede en frustrasie uitgespreek het omdat die spoedgrens in die Krugerwildtuin glo nie nagekom word nie.

“Die berig behoort so te lees: Roekelose taxibestuurder, met 13 verdagte dagbesoekers, beseer Switserse toeris ernstig deur ’n kameelperd teen onwettige hoë spoed tot bo-op kampvoertuig te stamp,” het een van die kommentare op Netwerk24 gelees.

“Hoekom word ’n taxi in die wildtuin toegelaat?” wou iemand anders weet.

Daar was ook klagtes van die publiek dat sigbare polisiëring van paaie in die Krugerwildtuin feitlik nie meer bestaan nie.

“Met ’n onlangse besoek aan die wildtuin was dit duidelik dat etlike bestuurders van veral amptelike voertuie hulle skuldig maak aan spoedoortredings en besoekers ongeërg op enige plek uit voertuie klim.”

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top