Toerisme blom weer in Kaapstad, maar kwyn in Durban

  • 0

Twee van Suid-Afrika se gewildste toeristestede, naamlik Kaapstad en Durban, se afgelope fees-toerismeseisoen het uiteenlopende resultate opgelewer.

Terwyl Kaapstad opgewonde glimlag oor die puik seisoen met propvol strande, het die gasvryheidsbedryf in Durban en Umhlanga in KwaZulu-Natal kommer uitgespreek oor die streek se onvermoë om terug te bons gedurende die afgelope feesseisoen.

Kaapstad blom

Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die stadsvaders is opgewonde dat Kaapstad ’n bloeiende fees-toerismeseisoen gehad het. Dit floreer nou nog, met honderdduisende mense wat die stad se ongerepte strande en toeriste-aantreklikhede geniet.

“Terwyl die toeriste-spitsseisoen nog nie verby is nie, kan ons reeds ’n sterk toerismeherstel in Kaapstad sien, met meer as 31 000 passasiers wat daagliks deur die lughawe gaan. Dit bring werkskeppende ekonomiese groei na ons streek en dit is uiteindelik hoekom ons so baie hierop fokus want ons wil meer Kapenaars aan die werk kry,” het Hill-Lewis gesê.

Kaapstad se strande was ook 100% oop en skoon vir besoekers, sonder ’n enkele sluiting. “Dit is belangrik dat ons ook nog nie ’n enkele sluiting van enige van ons ontspanningsvleie gehad het nie,” het burgemeester Hill-Lewis gesê.

In Kaapstad het al agt Kaapstad se Blouvlagstrande wat die gewildste in die stad is, weer honderd persent voldoen aan die Blouvlag-watergehaltestandaarde. Dit is gegrond op die onafhanklike ontleding van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS). Hierdie Blouvlagstrande is Bikini Beach, Kampsbaai, Clifton 4de Strand, Vishoek, Llandudno, Melkbosstrand, Muizenberg en Silwerstroom.

Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei, James Vos, het in ’n verklaring gesê vroeë aanduidings toon ’n groot toerismeopbrengs vir Kaapstad.

“Vir die 2023/2024-feesseisoen het sowat 215 internasionale vlugte elke week sedert die begin van die somer geland. Ons het ook 50 passasiersskepe wat vir hierdie seisoen bevestig is, wat aansienlike ekonomiese voordele beloof. Dit is bemoedigend dat baie konferensielokale reeds tot die einde van 2024 bespreek is. Dit sal hotelle en besienswaardighede aansienlik bevoordeel, wat ’n positiewe jaar vir die toerismesektor beloof. Ons dryf hierdie sukses deur verskeie bestemmingsbemarkingsveldtogte en stad-tot-stad-konnektiwiteitsinisiatiewe,” het Vos gesê.

Durban sukkel

Daarteenoor het die Sunday Times berig dat aanhoudende uitdagings wat verband hou met riool, waterkwaliteit en padinfrastruktuur, sleutelkwessies is wat die toerismesektor in KZN nadelig raak.

Volgens Brett Tungay, die voorsitter van die Federated Hospitality Association of South Africa (FEDHASA) se Ooskusstreek, is daar aanduidings dat daar geen verbetering in besettingsyfers was vergeleke met die vorige jaar nie.

“Toerisme KwaZulu-Natal het vanaf 26 Desember 2022 tot 1 Januarie 2023 ’n besettingskoers van 81% regoor die provinsie gerapporteer, met ’n aansienlike hupstoot vir die provinsiale ekonomie.”

Tungay het egter daarop gewys dat Durban en Umhlanga nie ’n goeie feesseisoen gehad het nie, met sommige plekke wat ’n aansienlike afname van 30% gerapporteer het in vergelyking met die vorige jaar. Dit word veral toegeskryf aan probleme met die strande.

In Durban het die stad se toerisme, wat eens ’n juweel van die land se toerismebedryf was, volgens mediaberigte baie gekrimp.

Die gasvryheidsektor, wat die ruggraat van toerisme in die streek is, staar kritieke infrastruktuurtekortkominge in die gesig.

Voortdurende rioolkwessies in eThekwini, wateruitdagings aan die Suidkus en onvoldoende padinfrastruktuur in die noorde van die provinsie en Drakensberggebied word as groot bekommernisse geïdentifiseer.

In teenstelling met Kaapstad was daar in Durban ook minder mense op die strande as vorige jare.

Die swaar Desemberreën in die provinsie het ook daartoe bygedra dat minder mense na die strande gegaan het. Ten spyte van vyf Suidkusstrande wat Blouvlagstatus ontvang het, duur wateruitdagings voort.

Nie een van Durban se strande het Blouvlagstatus vir die 2023/2024-feesseisoen gekry nie, weens die watergehalteprobleme.

David Frost, uitvoerende hoof van die Suider-Afrika Toerismedienstevereniging, het ’n beroep gedoen op dringende optrede deur die stad om rioolinfrastruktuurkwessies aan te spreek, met die klem op die kritieke rol wat toerisme in die ekonomie speel.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top