Toeriste steeds welkom in droë Kaap

  • 0

Foto: South African Tourism
Attribution 2.0 Generic (CC BY 2.0)

Buitelandse toeriste wat Kaapstad wil besoek hoef nie weg te bly as gevolg van die stad se ernstige waterkrisis nie.

Die sake- en toerismebedryf het die versekering gegee dat Kaapstad en die res van die Wes-Kaap sal oop bly vir sake ondanks die droogte.

SA Toerisme het buitelandse toeriste in ’n regstreekse webuitsending aangemoedig om steeds die Moederstad te besoek. Die uitvoerende hoof van SA Toerisme, Sisa Ntshona, sê besoekers is welkom, maar moet ag slaan op die waterkrisis in Kaapstad en hulle daarby aanpas.

Die uitvoerende hoof van die Wes-Kaapse handelsbevorderingsagentskap (Wesgro), Tim Harris, sê die groot boodskap aan die internasionale gemeenskap is dat Kaapstad en die Wes-Kaap oop bly vir sake.

Kaapstad beleef tans die ernstigste droogte in meer as 140 jaar. Van 1 Februarie af mag inwoners elkeen slegs 50 liter water per dag gebruik.

Volgens Harris huiwer toeriste om die Moederstad te besoek as gevolg van die waterkrisis. Hy sê dit is nog nie duidelik wat die uitwerking daarvan op die provinsie sal wees nie.

Alles moontlik word gedoen om Dag Zero te voorkom. Dag Zero is die dag wanneer die krane opdroog en alle watertoevoer na inwoners se huise afgesny sal word. Kapenaars sal dan in toue moet staan om elke dag slegs 25 liter water per persoon by sekere punte in die stad te gaan haal.

Dag Zero kan voorkom word slegs as die stad se inwoners daarin slaag om die volgende twee maande voordat die reënseisoen in die Kaap begin, drasties water te bespaar.

Wes-Kaap se provinsiale regering het reeds meer as 2 000 laedrukstortkoppe aan gastehuise versprei om water te help bespaar. Daar word gehoop om in die komende jaar 70 miljoen liter water op dié manier te bespaar. Hotelle het ook reeds badproppe verwyder sodat toeriste gedwing word om te stort.

Mmusi Maimane, die leier van die Demokratiese Alliansie (DA), wat in beheer is van die Wes-Kaap, is vol moed dat Dag Zero steeds afgeweer kan word as daar genoeg water bespaar word.

Hy het die afgelope week op ’n nuuskonferensie gesê die geskatte datum van Dag Zero is reeds van 12 April na 16 April aangeskuif omdat Kapenaars die afgelope paar dae daarin geslaag het om meer water te bespaar.

Intussen het verskeie organisasies planne begin maak hoe om te help as die stad se water opdroog en vier miljoen mense by slegs 200 verspreidingspunte moet toustaan om hulle daaglikse rantsoen water te kry.

Imtiaz Sooliman van die organisasie Gift of the Givers sê Dag Zero kom al hoe nader en kan nie omgekeer word nie, omdat daar geen waarborge vir reën is nie.

Sy organisasie het reeds begin om vragte vol 5 liter-bottels water by 70 waterpunte oor die hele Suid-Afrika heen te versamel en by die Suid-Afrikaanse weermagbasis in Kaapstad af te laai. Al hierdie water sal opgegaar word en by noodsaaklike punte soos ouetehuise, kinderhuise en ander soortgelyke plekke versprei word wanneer die krane toegedraai word.

Die Wes-Kaap het op die oomblik slegs 14% drinkbare water in sy damme oor. Die damvlakke in die provinsie het die afgelope week op 24,4% gestaan, maar die laaste 10% is nie geskik vir gebruik nie. In die ooreenstemmende tyd verlede jaar was die provinsie se damme gemiddeld 37,9% vol.

Weervoorspellers kon tot dusver geen aanduiding gee wanneer die droogte in die Kaap gebreek gaan word nie. Die meeste van hulle is dit eens dat klimaatsverandering ’n groot rol speel in die huidige droogtetoestand. Volgens die meteoroloog Derek van Dam wat vir CNN in Amerika werk, is daar nie goeie nuus op die horison nie. Hy sê Kapenaars moet hulle voorberei vir nog ’n droë winter. Ander weervoorspellers meen egter die reënseisoen wat in April begin, sal verligting bring, maar wil dit nie waag om te voorspel of dit genoeg sal wees om die droogte te breek nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top