Jare gelede laat ’n goeie vriend in Nederland my luister na ’n eenvoudige liedjie “De crocus en de hyacint” gesing deur ’n ene Borus. Dit het my op ’n manier aangegryp, gegewe die land waar ek gebore is, naamlik Suid-Afrika.
Met alles wat ons nou in ons land en in die wêreld beleef, besluit ek om bogenoemde verhaal te verafrikaans en aan te pas by ons konteks en my leefwêreld. Ek eien my wel baie vryheid toe.
Die storie van Suikerbos en Bloudisa
Hoog teen die hange van die berge waar fynbos graag groei staan Suikerbos teen ’n grys rotsblok op sy plek.
Nie ver van Suikerbos af nie, groei Bloudisa langs ’n plaat rooi heide.
Bloudisa sien vir Suikerbos en Suikerbos sien vir Bloudisa. Hulle wieg heen en weer in die bergwind, so asof hulle mekaar groet.
“Hier kom moeilikheid,” piep Klaasneus en skarrel by ’n rotsspleet in. “Hier kom moeilikheid. Ek sien hoe kyk hulle vir mekaar.”
“Los die kinders,” blaas Bloukopkoggelmander en vliet oor ’n klip.
“’n Mens raak lief vir wie jy lief raak. Dis soos dit is,” kras Kraai en vlieg op om ’n happie te gaan soek.
“Onder die spanspekgeelmaan,” neurie die Sedoos wat hier ook waai en alles wat teen die berghang gebeur, in wysheid aanskou.
Die twee fynbosblomme kan dit nie help nie. Hulle raak verlief op mekaar. Almal teen die berghang sien hierdie mooi liefde blom. Party verdoem dit. Ander sien dit vir wat dit is: liefde met die eerste oogopslag.
Suikerbos en Bloudisa wil graag met mekaar trou, met niemand anders nie.
Suikerbos se pa wil niks weet nie. “Kies ’n protea. Soort soek soort. Julle kleur is nie eers dieselfde nie.”
Bloudisa se familie voel ook nie gelukkig nie.
“Dit gaan nie werk nie.”
“Julle gaan nêrens aanvaar word nie, en julle kinders ook nie.”
“Daar kan niks goed van kom nie.”
Maar die twee blomme luister na niemand se raad nie. Kraai, Klaasneus en Bloukopkoggelmander is die enigste gaste op hulle troue. Dit demp nie hulle vreugde nie.
Suikerbos en Bloudisa leef gelukkig saam teen die berghang. En toe hulle baba gebore word, is almal verstom oor die pragtige blom met die ongewone vorm en die ongewone kleur. Almal kom van heinde en verre om te kyk na die pragtige nuwe blomsoort.
Op die jaarlikse blommeskou wen die egpaar en hulle baba die prys vir hulle uitsonderlike stamboom en nuwe toevoeging tot die fynbosblommeryk.
En vandag nog groei die ongewone blom daar in die fynbosblommeryk en niemand dink meer dis snaaks nie.
Beeldmateriaal
- Links bo: “De hyacint” (Nicky | Pixabay)
- Regs bo: “De crocus” (Annette Meyer | Pixabay)
- Middel bo: Goue roos (Gordon Johnson | Pixabay)
- Links onder: “Bloudisa” (WikiMedia | CCO 1.1)
- Regs onder: “Suikerbos” (Izak de Vries)
- Middel onder: Kelkiewyn (Izak de Vries)