Die tonge klap behoorlik op sosiale media nadat ’n onderwyseres van Kaapstad een van haar leerlinge deur die gesig geklap het na ’n onderonsie tussen hulle in die klas.
Die onderwyseres sowel as die leerling van die Sans Souci Girls’ High School staar nou dissiplinêre optrede in die gesig.
Terwyl dit op sosiale media gons oor die voorval, het die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Debbie Schäfer, die publiek gemaan om nie gevolgtrekkings te maak voordat die saak behoorlik ondersoek is nie.
Op die video wat soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het, kan gesien word hoe die onderwyseres die kind na ’n hewige woordewisseling klap.
Die ma van die kind wat geklap is het intussen ’n klag by die polisie gelê. Volgens News24 het die onderwyseres op haar beurt ook ’n teenklag by die polisie ingedien.
Nadat die voorval aanvanklik gedreig het om in nóg ’n rasseherrie te ontaard het wit én swart leerlinge ’n protesoptrede by die skool gehou en gesê die probleem is nie rassisme nie. Van die leerlinge (wit en swart) het hulle steun op die skool se verhoog teenoor die onderwyseres betoon.
Op sosiale media was daar uiteenlopende reaksies op die voorval. Sommige het die onderwyseres se optrede sterk veroordeel en sê mens gebruik onder geen omstandighede geweld teenoor ’n kind nie, terwyl ander simpatie het met die onderwyseres en meen sy is uitgelok.
“Die klap was verkeerd maar die kinders is so irriterend en disrespekvol. Ek voel eintlik jammer vir hierdie onderwyseres, sy is tot frustrasie gedwing deur ’n student sonder respek wat nie eers weet hoekom sy skoolgaan nie. Ek bedoel sy’s op haar foon in die klas, my goeie genade,” het ene Kgothatso getwiet.
That slap was wrong but also these kids are so annoying and disrespectful. I actually feel sorry for this teacher, she was pushed to frustration by a disrespectful student that doesn't know why she even goes to school. I mean she's on her phone in class for goodness sake.
— Sen Sible (@TheDarkBeyonder) February 6, 2019
Almal deel egter nie haar sentiment nie en sê daar is geen regverdiging vir ’n onderwyser om ’n leerling te klap nie. “Onder geen omstandighede kan ’n kind se ongemanierdheid (so afkeurbaar soos dit is) ooit as regverdiging dien om ’n kind fisies aan te rand nie. Dit is ’n misdaad. Daar is ander maniere, soos ’n grootmens, om die kind en die situasie te hanteer, al is die kind onopgevoed,” het Eric op Netwerk24 se kommentaarblad oor die voorval geskryf.
Die kommentare het tot ’n hewige bekgeveg op sosiale media-platforms gelei wat wissel van begrip en simpatie vir die onderwyseres tot algehele afkeur.
Clinton Louw sê sy het begrip vir die juffrou se frustrasie. “As ’n onderwyser myself wou ek dit al ook baie keer gedoen het, maar het my liewer beteuel. Glo my vry dat dit maak nie saak wat die leerder verkeerd gedoen het nie, in die oë van die onderwysdepartemente in die land sal die onderwyser altyd tweede kom. Ek hoop sy kry slegs ’n boete (gewoonlik ’n goeie paar duisend rand) as om afgedank te word. Haar swaarverdiende pensioengeld is daarmee heen en so ook haar kans om weer skool te gee. As ouer wil ek die volgende vra: Wat sal jy doen as jou kind so geklap word deur ’n onderwyser? Sal jy nie wil weet of daar ander strafmaatreëls is wat toegepas kan word nie?”
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het intussen gesê hy sal skole ondersteun wat verseker dat die toepaslike dissiplinêre prosedure gevolg word met betrekking te enige vorm van geweld of antisosiale gedrag by skole.
Buro: NB