Totsiens Suid-Afrika, sê jonges

  • 0

Die getal Suid-Afrikaners wat die land verlaat op soek na groener weivelde, nader nou vinnig die eenmiljoenkerf.

Die stroom landsverlaters wat besig is om die land duur aan broodnodige vaardighede te kos, is veral kommerwekkend omdat die kritieke vaardighede wat so verlore gaan, dieper strek as wat selfs hierdie syfer toon. Dit is toenemend jongmense wat weggaan, maar nie uitsluitlik jongmense nie.

Die omvang van die land se verlies aan kundigheid, of “breinerosie”, word vervat in ’n nuwe witskrif van die betaalstaatdiensgroep Playroll, in vennootskap met die tegnologie- en ontwikkelaarswerkmark OfferZen en die uitvoerende werwingsfirma Aims International.

Die navorsing toon dat Suid-Afrika se vaardigheidskrisis dieper strek as wat bedryfspesifieke tekorte uitbeeld.

Die groep se navorsing het bevind dat byna 80% van alle sakeleiers wat hulle ondervra het, die emigrasie van vaardighede as een van die kritieke risikofaktore beskou wat hul organisasies in die gesig staar.

Die internettydskrif IT-Online berig dat namate geskoolde werkers en top talent die land teen ’n kommerwekkende tempo verlaat, Suid-Afrika se breinerosie ’n beduidende uitdaging vir baie maatskappye bied, aangesien hulle sukkel om hul steeds groter wordende vaardigheidsgaping vanuit ’n voortdurend krimpende talentpoel te vul.

Playroll het opgemerk dat meer as 900 000 Suid-Afrikaners reeds die land verlaat het – ’n getal wat onlangs deur die VN se Departement van Ekonomiese en Sosiale Sake se 2020 Internasionale “Migrant Stock”-verslag in 2022 gepubliseer is.

Volgens die VN-verslag het teen die einde van 2020 914 901 Suid-Afrikaners in ander lande en gebiede gewoon, teenoor 786 554 in 2015.

BuisinessTech, wat ook die afgelope week daaroor berig het, sê dit is kommerwekkend dat drie keer soveel mense tussen 2015 en 2020 uit Suid-Afrika geëmigreer het – meer as 128 000 mense – as tussen 2010 en 2015 (43 000 mense).

Die VK het die meeste migrerende voorraad van Suid-Afrika, met byna ’n kwartmiljoen inwoners wat RSA as hul geboorteland lys. Daarna volg Australië, die VSA en Nieu-Seeland.

Die groep het opgemerk dat diegene tussen die ouderdomme van 25 en 40 die meeste geneig is om die land te verlaat – en moontlik meer kommerwekkend is dat meer as die helfte van Suid-Afrika se gegradueerdes die potensiaal het om in die toekoms te emigreer.

Dit is egter nie net jongmense wat by die uittog aansluit nie. Die witskrif beklemtoon dat senior werknemers meer geneig is om te hervestig, waarskynlik omdat hulle die finansiële middele het om dit te doen.

Volgens Simonetta Giuricich, bedryfshoof by Playroll, word die organisatoriese uitdaging van vaardigheidsverliese as gevolg van emigrasie vir baie maatskappye vererger deur die feit dat baie geskoolde en gekwalifiseerde professionele persone wat kies om in die land te bly, nou voordeel trek uit die afstandswerksgeleenthede wat deur globale organisasies gebied word.

“Nie net verloor maatskappye sleutelindividue weens emigrasie en sukkel hulle om hulle te vervang nie,” verduidelik Giuricich, “maar die wydverspreide aanvaarding van afstandswerkreëlings wat deur Covid-19 aangevuur is, beteken baie vaardige Suid-Afrikaners is nie beskikbaar vir plaaslike werk nie, omdat hulle toegang tot hoogsbetaalde werksgeleenthede by internasionale maatskappye kan kry, terwyl hulle steeds in die land bly.”

Sy beklemtoon dat die verlies van werknemers weens emigrasie nie net onmiddellike leemtes skep ten opsigte van die vaardighede en kwalifikasies wat ’n organisasie vereis nie, maar ook op langer termyn tot verskanste mededingende uitdagings kan lei.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top