Die Suid-Afrikaanse komediant en TV-persoonlikheid Trevor Noah (39) is die afgelope Dinsdag by die Koninklike Paleis in Amsterdam met ’n gesogte Nederlandse toekenning vereer.
Koning Willem-Alexander het persoonlik die Erasmusprys aan Noag oorhandig, een van Europa se mees gesogte eerbewyse. Hy is die jongste wenner in die 65-jarige geskiedenis van hierdie toekenning.
Noah is ook slegs die tweede komediant ooit wat met dié toekenning vereer word. In sy 65-jarige bestaan was daar nog net een keer vantevore ’n komediant wat die toekenning ontvang het: Charlie Chaplin, wat die prys in 1965 van prins Bernhard in ontvangs geneem het.
Chaplin was ’n nabye kennis van die koning se grootouers. Tydens die prysoorhandiging aan hom in 1965 het die huidige koning as ’n jong seuntjie op Chaplin se skoot gesit.
Daardie jaar het Chaplin die prys met Ingmar Bergman gedeel. Hy het dit ontvang vir sy bydrae tot die rolprentkuns. Koning Willem-Alexander sê Chaplin was egter veel meer as ’n begaafde filmmaker. Hy was in die eerste plek ’n groot humoris en ’n briljante komediant en dit is ’n talent was Noah met hom deel.
Saam met vanjaar se prys kom ook ’n stewige kontantmeevaller van €150 000 (meer as R3 miljoen).
Koning Willem-Alexander het Noah in sy toespraak as ’n meester van die bevrydende lag bestempel. Hy sê in sy werk slaag Noah daarin om brûe tussen kontinente, kulture en generasies te bou.
De Koning reikt de Erasmusprijs 2023 uit aan Trevor Noah. De jury kent Noah de prijs toe voor zijn bevlogen bijdrage aan het themagebied ‘Lof der Zotheid,’ vernoemd naar Erasmus’ boek waarin humor, maatschappijkritiek en politieke satire centraal staan.⁰https://t.co/isZ85nplu4 pic.twitter.com/QsRJABOh6L
— Koninklijk Huis (@koninklijkhuis) November 28, 2023
Die Erasmusprys word jaarliks toegeken aan ’n persoon of instelling wat binne die kader van die kulturele tradisies van Europa ’n belangrike bydrae gelewer het op die gebied van die geesteswetenskappe, die sosiale wetenskappe en die kunste. Die Stigting Praemium Erasmianum besluit elke jaar op ’n ander tema. Vanjaar se tema was “In praise of folly”.
Die prys is vernoem na die Nederlandse Renaissance-humanis Desiderius Erasmus.
Die koning het reeds verlede maand onthul dat hy die prys aan Noah gaan toeken vir sy bydrae tot vanjaar se tema.
Hy het gesê in ’n tyd waarin humor onder druk is, spreek dit boekdele dat die direksie van die Praemium Erasmianum-stigting die betrokke tema gekies het, na aanleiding van die titel van Erasmus se belangrikste werk.
"Ek voel dit is ’n baie mooi verbintenis tussen ’n diepsinnige humanis van Rotterdam van 500 jaar gelede, die skrywer van In praise of folly en ’n jong Suid-Afrikaner van Soweto, wat volwassenheid bereik het as ’n skerpsinnige komediant in Johannesburgse klubs," het die koning vroeër gesê.
Hy het ook verwys na ’n aanhaling van Noah: "Ek het nog nooit toegelaat dat die gedagte aan iets pynliks my keer om iets nuuts te probeer nie."
Volgens die beoordelaarspaneel was Noah die ideale kandidaat vir die prys, onder meer vanweë sy vermoë om ernstige kwessies en ongeregtighede met die “bevrydende krag van lag” te beveg en aan die groot klok te hang.
Die paneel sê in hulle aanbeveling as ’n humoris, televisieaanbieder, politieke kommentator, filantroop en skrywer het Trevor Noah op ’n doeltreffende wyse sy plek ingeneem in die middelpunt van hedendaagse politieke satire.
In sy outobiografie, Born a crime, beskryf Noah hoe hy as kind van ’n swart Xhosa-ma en ’n wit Switserse pa gedurende apartheid vroeg in sy lewe gekonfronteer is met institusionele rassisme en geweld. Vanuit hierdie ervaring konfronteer hy onreg en wys hy op die absurditeit daarvan, “nie met sarkasme nie, maar met die bevrydende krag van lag," sê die beoordelaars in hulle verslag.
Met sy humoristiese kommentaar op sake soos die opkoms van fopnuus, die presidentskap van Donald Trump, COVID-19, en Black Lives Matter het hy wêreldwyd ’n jong, diverse gehoor aangetrek en was hy volgens die paneel ’n vars bries in ’n sterk gepolariseerde mediawêreld.