Trompoppie
Geskep deur Etienne Fourie
Met Melissa Myburgh, Marion Holm en Luca Human in die hoofrolle
Sanda Dia was ’n Belg, maar sy dood en die gevolge daarvan is besig om in Suid-Afrika ’n paar geraamtes te laat rittel. Wat met Dia gebeur het, is soortgelyk aan die onderwerp van ’n heerlike nuwe reeks op Showmax.
Trompoppie
Afrikaans kan tans spog met dramareekse van uitstaande gehalte. Wat deesdae in Afrikaans op Showmax uitgesaai word, kan kers vashou by van die lekkerste reekse op Netflix.
Moenie Trompoppie vlak kyk nie. Hier is baie meer aan die gang as “meisies in kort rokkies wat stokke in die lug gooi” – ‘n aanhaling wat uit die mond van die hoofkarakter kom.
Ja, dit is pret.
Ja, dit het ’n oorbekende begin: Talentvolle meisie van die onderdorp kry ’n geleentheid om ’n volle beurs by ’n prestigeskool op te neem.
Ja, daar is ’n klomp baie ryk meisies wat haar boelie.
En tog ...
Die (trom)poppies begin reeds in die eerste episode dans, wanneer ’n ontgroeningsritueel heeltemal skeefloop. Die nagevolge van daardie nag sal die meisies hulle lewe lank met hulle saamdra.
Na aan die been
Dit sou maklik wees om die reeks as borrelgom af te maak, dalk net nóg ’n klomp bedorwe meisies in ’n duur skool wat nie weet hoe om hulle hormone te hanteer nie.
- Dan gebeur onthullings rondom Wilgenhof.
- Of wat van Sanda Dia en Reuzegom?
- Of die polisie begin vermoed Willem Kruger het dalk nie verdrink in sy bakkie nie ...
Die drie punte wat ek hier noem, is uiteenlopend, maar kom ons kyk na elk.
- Ten tye van hierdie skrywe is daar nie veel meer bekend nie as dat die twee kamers in Wilgenhof volgens mediaberigte vir ontgroeningsrituele sou kon geberuik word – wat so ver sou kon gegaan het as seksuele vergrype. Ek onderspeel die situasie, maar dat ontgroening al lank deel is van Afrikaanse universiteite, ook van Afrikaanse skole, kan nie ontken word nie. Google maar net “Wilgenhof” as jy meer van die verstommende onthullings wil weet.
- Sanda Dia was ’n Belgiese student wat in 2018 in Antwerp gesterf het na ’n ontgroeningsritueel wat skeefgeloop het. Dia was 20, uit ’n armer deel van die samelewing, en wou skynbaar deel word van Reuzegom, ’n Belgiese “studentebroederskap”. Verskeie studente is uiteindelik voor die hof gedaag oor sy dood.
- En Willem Kruger? Ons weet nie. Al wat ons weet, is dat die polisie bekendgemaak het dat hulle vermoed Kruger het nie in sy bakkie verdrink soos aanvanklik vermoed is nie. Niks is nog teen enige iemand bewys nie. Maar die vraag oor wat ’n groep vriende sou maak as iemand sou doodgaan, of ernstig beseer sou word, tydens ’n ritueel, soos ook die geval was met Sanda Dia, is baie relevant tot Trompoppie, veral as die groep, soos in Trompoppie, alles doen om nie die skuld op hulleself te plaas nie.
Ontgroening wêreldwyd ’n probleem
Afrikaanse hoërskole en universiteite is steeds baie lief vir die walglike praktyk om nuwelinge te verneder. Daar is ook Engelse skole waar dit gebeur.
Lees ’n mens oor Reuzegom, dan is daar duidelike ooreenkomste met die kleredrag wat gedra is tydens die Belgiese ontgroenings en kledingstukke wat in Wilgenhof gevind is.
Ook in die VSA is ontgroening ’n enorme probleem. Dit is hoekom artikels soos die een in Augustus 2023 geskryf is: “What is hazing in college? Facts, statistics, and prevention efforts.
Maar hoekom?
’n Akademiese artikel oor ontgroening by universiteite, in Portugal geskryf, kom tot hierdie gevolgtrekking:
The submission relationship that underlies these transition rituals tended to be regarded by first-year students as an inevitable and necessary “price to pay” for their entrance in the academic world.
’n Prys om te betaal
Waarom onderwerp mense hulle aan ontgroening? Soms het hulle nie ’n keuse nie. Groepsdruk is waarskynlike die grootste drywer van ontgroening. Die punt wat die Portugese artikel beklemtoon, is dat talle dit sien as ’n prys wat betaal moet word om tot ’n hoër status verhef te word.
Terug na Trompoppie
Luna, die hoofkarakter, is ’n baie goeie gimnas, maar sy is arm.
Sy word raakgesien en ’n beurs aangebied, mits sy aan die trompoppiespan by die nuwe skool deelneem.
Soos in baie skole is daar een, dalk twee, aktiwiteite wat van jou ’n onaantasbare maak. In hierdie bepaalde skool is deelname aan die skool se trompoppiespan jou toetrede tot die berg van die gode.
Luna word gespot en geterg, daarom durf sy nie weier om deel te neem aan die ontgroening nie.
Wat dan gebeur, maak van Trompoppie ’n baie lekker, baie spannende stuk kykgenot.
Dit is vet pret, al is daar ’n groot stuk hartseer agter hierdie storie.
Uitstekende akteurs
Ek is ’n groot aanhanger van Melissa Myburgh, wat Luna speel.
Maar ek kan nie anders as om te sê dat Marion Holm se oordonderende spel, baie bewustelik, die kollig steel nie. Dit gebeur op ’n metavlak, want Jill, Holm se karakter, is ’n selfgesentreerde sepiester. Jill se wêreld draai om Jill.
By geleentheid maak Jill se dogter die opmerking: “Ma is darem ekstra.”
Waarop Jill antwoord: “Nee, ek is nooit ekstra nie. Ek speel die hoofrol.”
Luca Human, wat die belangrike rol van die kleinsus in die skaduwee speel, is baie oortuigend.
En dis flippen lekker om Frank Opperman se droë humor te hoor deurkom in sy rol as Harry, die speurder.
Armand Aucamp speel, soos gewoonlik, weer die man op wie alle vroue verlief raak, en Cantona James, die ster van Spinners, kry weer ’n rol om die underdog te verteenwoordig.
Slotsom?
Trompoppie is groot pret. ’n Mens sou dit kon afmaak as bog met mooi meisies, maar dan mis jy die punt. Al is dit ’n heerlike rillerreeks, al is die idee agter die storie baie oud, vra dit moeilike vrae sonder om vir ’n oomblik te vergeet dat die kykers eintlik ingeskakel het om hulself te geniet.
Lees ook:
Ontgroeningspraktyke in uitgesoekte Vrystaatse hoërskole en skoolkoshuise: ’n verkennende studie